St Albans-tronk: Uitspraak oor appèl ná martelsaak

Argieffoto

Argieffoto

Die hooggeregshof Port Elizabeth het Dinsdag uitspraak gelewer in die aansoek om verlof tot appèl wat verband hou met bewerings van marteling en geweld by ʼn gevangenis in die Oos-Kaap.

Die hooggeregshof het Dinsdag die aansoek met koste van die hand gewys.

Regter Dyalan Chetty het verlede jaar in Augustus die saak en bewerings deur Xolani Siko en Simphiwe Mbena, die eerste van 231 moontlike klaers by St Albans-maksimumsekuriteitgevangenis in Port Elizabeth, van die hand gewys.

Chetty het in sy uitspraak Mbena en Siko veroordeel. Chetty het Siko daarvan beskuldig dat hy oneerlik was en dat dit sy getuienis benadeel het. Hy het Siko se getuienis as “die produk van ʼn vrugbare verbeelding” verwerp.

Egon Oswald, prokureur in menseregte, wat ʼn multi-miljoen rand se eis namens die gevangenes ingedien het, het gevolglik in Oktober verlede jaar aansoek gedoen om verlof tot appèl oor die besluit.

Die gevangenes poog om die minister van korrektiewe dienste te dagvaar vir skade, en beweer hulle is gemartel tydens ʼn massa-aanranding ná ʼn tronkbewaarder in 2005 vermoor is. Die gevangenes beweer hulle is ʼn paar dae lank gemartel ná die afsterwe van Babini Nqakula.

Skokstokke is glo tydens die marteling gebruik. Die gevangenes voer aan hulle is onder water gedompel voor hulle met die skokstokke geslaan is, om die effek daarvan te verhoog.

Mediese rekords van talle gevangenes dui ʼn reeks beserings, waaronder snyplekke en langwerpige kneusplekke op die rug.

Mbena, ʼn veroordeelde moordenaar en selferkende bendelid, wat Nqakula aangeval en doodgesteek het, het vroeër aan die hof gesê dele van die rekord in sy kriminele saak was ʼn leuen en sy weergawe is verkeerdelik deur hofbeamptes opgeneem.

Die hof het tydens die hofsaak gehoor dat Siko depressief geword het en erg getraumatiseerd was ná die beweerde marteling in 2005.

Letitia Strauss, bedryfsterapeut, het gesê Siko se gehalte lewe is negatief geraak en hy ervaar erge fisiese probleme, veral in sy hande.

Volgens die hofdokumente het adv. Hilton Epstein en adv. Razia Laher vir die minister van korrektiewe dienste, aangedui dat ʼn appèlsaak nie ʼn redelike vooruitsig het om suksesvol te wees nie. Volgens hulle is Mbena en Siko se getuienis strydig met bewese feite en hulle is “skuldig dat hulle hulself weerspreek het”. Hulle voer aan Mbena en Siko se stories was onwaar en dat die hof afdoende bevindings gemaak het wat die getuienis van die aansoekers verwerp.

Lees alle vorige berigte oor die St Albans-martelsaak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

charlene ·

Dis vreeslik, dat mense in die tronk nie op die hande gedra word nie. Hulle verdien mos net die beste van ALLES en meen hulle het mos niks verkeerd gedoen…..
Ek klink dalk wreed maar dis `n tronk nie `n 5ster hotel nie. As die tronke weer raak soos voorheen waar jy moes werk en nie heeldag rond lê nie sal daar minder mense moord pleeg ens want dan is die tronk nie meer lekker nie. Tronk toe gaan is nou soos om te gaan fliek enige verskil is by die fliek betaal jy self, by die tronk is alles verniet.

Kellies ·

Charlene. Ek stem heeltemal met jou saam. Daar is duisende wat misdaad pleeg en dit so doen sodat hulle gevang moet word, want hulle wil tronk toe gaan. In Suid Afrika is dit beter om tronk toe te gaan as om oud te word. Ons bejaardes word in n ouetehuis gesit waar duur vir hulle betaal moet word en vir elke voordeel word addisioneel betaal en baie word swak behandel. In die tronke kan oortreders verniet bly, kos kry, studeer, in Gimnasiums oefen ensovoorts??? Weird!!

Loon ·

Stem saam Charlene, as hy nie moord gepleeg het nie was hy nie daar nie punt!
Hulle behoort bietjie meer deur te loop onder n sambok net om hulle te herinner dis n tronk en nie Mount Nelson nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.