St. Francisbaai-brand: Verskeie mense beseer, 11 huise verwoes

Die toneel Dinsdagmiddag in St. Francisbaai. Foto: Facebook

Verskeie mense is beseer, van wie een in ʼn ernstige toestand is, in die brand wat Dinsdag talle huis in St. Francisbaai in die Oos-Kaap verwoes het.

Die brand het tussen Harbourweg en Assissirylaan ontstaan en vinnig deur die huise, waarvan baie grasdakke het, versprei. Die Kouga-munisipaliteit het Dinsdagaand gesê 11 huise is heeltemal in die brand verwoes, terwyl ʼn paar beskadig is, maar nie tot op die grond afgebrand het nie. Die presiese getal huise wat geraak is, moet nog bevestig word.

Die munisipaliteit het gistermiddag ʼn dringende ontruimingsbevel vir inwoners uitgereik, maar dit is later opgehef toe vlamme grootliks onder bedwang gebring is. Sara Jane Smith, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in St. Francisbaai, sê die NSRI is omstreeks 11:00 ontplooi om te help.

‘n Huis aan die brand in St. Francisbaai. Foto: Facebook

“’n Nooddiensarea is by ʼn plaaslike kerk opgeslaan en beseerdes is daar behandel. ʼn Dokter van die NSRI, plaaslike dokters en vrywilliger-paramedici het pasiënte vir geringe tot matige beserings en rookinaseming behandel. Een pasiënt, ʼn volwasse man, het erge koolstofmonoksiedvergiftiging opgedoen en is in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal gehaas,” sê Smith.

Die Kouga-munisipaliteit het intussen laat Dinsdagaand gesê hoewel die brand grootliks onder beheer is, hang die situasie af van die wind en bestaan die moontlikheid dat dit weer kan opvlam. Brandbestryders was deur die nag op die toneel om plekke wat opvlam of nog smeul te blus.

“Ons het ook alle vliegtuie en hommeltuie gevra om die lugruimte bo St. Francisbaai te ontruim aangesien dit ons pogings belemmer om teen die vuur te baklei. Ons vra ook dat inwoners en vakansiegangers wegbly van die gebied wat geraak word,” het die munisipaliteit op sosiale media gesê.

Die toneel Dinsdagmiddag in St. Francisbaai. Foto: Facebook

Die SAPD sal intussen die gebied patrolleer om plundering van huise te verhoed.

Die munisipaliteit het ook ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om met skenkings vir brandbestryders te help. Daar is ʼn dringende behoefte aan klein botteltjies water, energiedrankies, energiestafies, Bar One-sjokolades, oogspoelmiddels en vinnige, maklike etes soos hamburgers, toebroodjies, pasteie of warmbrakke.

Enigiemand wat wel met donasies kan help, word versoek om James Mzangwa van die Kouga‑rampbestuurspan by 081 561 6313 of Liezl Clause van die St. Francisbaai‑rampvrywilligersgroep by 083 285 7166 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

nico k ·

So 6 jaar terug was daar ook ‘n brand wat 30 huise afgebrand het. Die probleem was dat daar vroeër jare slegs grasdak huise gebou is. Ek weet nie of dit ‘n amptelike reel was of net ‘n informele reël nie. Dit is intussen verander, maar die helfte van die huise in die dorp het steeds grasdakke.

Paul ·

En daar sien ons mos nou vanaand oor die nuus wat die oorsaak was. Een mens het ‘n stuk veld gebrand waar hy sy hut wou opsit, en walla, daar vat die wind die vuur.

Paul ·

Uit ‘n versekeringsoogpunt, wat is die boodskap wat ons al vir der jare kry? Mense wat met hul landelike strukture na die dorpe en stedelike woongebiede trek, verhoog nie net die gevaar van inbrake nie, maar ook agv hul aktiwiteite ‘n brandgevaar. Elektrisiteit se tariewe kom onder druk. Dit kan eskaleer in die verhoging in munisipale dienste se tariewe en ook die verhoging in versekerings premies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.