St. Francisbaai- brande vlam weer op

Brand by St. Francisbaai (Januarie 2016) Foto: Hattingh Bornman (‏@BornmanCH)/Twitter

Brand by St. Francisbaai (Januarie 2016) Foto: Hattingh Bornman (‏@BornmanCH)/Twitter

Die Kouga-munisipaliteit het bevestig die veld rondom St. Francisbaai en Kaap St. Francis in die Oos-Kaap, wat verlede week in vlamme gehul was, het Woensdag weer opgevlam.

Laura-Leigh Randall, woordvoerder van die munisipaliteit, het gesê dit is die eerste keer wat die vuur ook in die Sea Vista en St. Francisbaai se industriële gebied woed.

Die munisipaliteit het weereens ʼn dringende beroep op inwoners gedoen om hul huise se grasdakke nat te spuit. “Weens die wind is daar vonke in die lug wat grasdakke aan die brand kan steek, al is dit nie naby aan die brand nie,” het Randall gesê.

Sy het gesê die brand by Sea Vista het nie ‘n gevaar vir die huise ingehou nie, maar huise by Kaap St. Francis was in gevaar. “Die brand het gewoed aan die kant van die R330 snelweg verder van die huise af en brandbestryders het probeer verhoed dat die vlamme oor die pad spring.

ʼn Gedeelte van die pad moes dus afgesper word en verkeer is via die vliegveld na Kaap St. Francis herlei.

“Die grootste bekommernis is dat die brand agter om die St. Francis Links in die rigting van St. Francis sal kom. Die gebied waar dit tans brand is baie ontoeganklik wat brandbestrydingspogings kniehalter,” het Randall gesê.

Sy het gesê daar was teen Woensdagaand nog geen ontruimingsoperasies nie, maar sommige inwoners het glo na veiliger gebiede geskuif.

‘n Helikopter het Woensdag heeldag gehelp om die vlamme te blus en ‘n tweede helikopter was teen die middag op pad. Die Sarah Baartman distriksmunisipaliteit sou ook brandbestryders van ander plaaslike munisipaliteite stuur om te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.