Staak paniekaankope, SA ‘hét genoeg kos’

Suid-Afrikaners is weereens gevra om nie paniekaankope te doen nie. (Foto: Maroela Media)

Die landbouorganisasie Agri SA het Suid-Afrikaners weer verseker dat die land genoeg kos vir álmal het. Die versekering kom te midde van al hoe meer Suid-Afrikaners wat paniekaankope doen terwyl die nuwe koronovirus aanhou versprei. Veral blikkieskos, pasta en items soos langlewemelk en sekere skoonmaakmiddels vlieg van die rakke.

“Die styging in Covid-19-voorvalle in Suid-Afrika is vir almal ʼn groot bron van kommer en ons almal moet die stappe wat die regering doen om die verspreiding van die virus te beperk, ondersteun,” het Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende hoof van Agri SA, Maandag gesê.

Hy het gesê die landboubedryf werk nou saam met die regering om te verseker die lewering van vars en noodsaaklike landbouprodukte word geprioritiseer.

“Die waardekettings wat daagliks die verskaffing van produkte verseker, het voorsorgmaatreëls getref om werkers te beskerm en voorraad te bly lewer,” het hy gesê.

Agri SA het ʼn beroep op verbruikers gedoen om kleinhandelaars toe te laat om hul voorraad aan te vul, hul samewerking in dié verband te gee en geduld te beoefen. Hy sê produkte waarna ʼn groot vraag is, word gereeld aangevul.

Die organisasie sê Suid-Afrika verwag vanjaar ʼn rekordoes vir graan en soja en daar word genoeg bees-, skaap- en varkvleis geproduseer. Die pluimveebedryf is ook op dreef en vars vrugte en groente is geredelik beskikbaar.

Hy sê ook Suid-Afrikaanse boere is van wêreldgehalte en dieselfde geld die logistieke en vervoermaatskappye wat seker maak die produkte kom landwyd by verbruikers uit. Landbouvervaardigings-, verwerkings- en verspreidingsaanlegte gaan voort met hul werk en ten spyte van die uitbreking doen varsproduktemarkte steeds elke dag sake.

Agri SA het plaaslike verbruikers verseker dat landbouers in Suid-Afrika nie opgehou boer het nie en dat maatreëls van toepassing is om almal se veiligheid te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Plaaskind ·

Asb mense – dink aan die senior burgers ook terwyl julle die rukke so leeg koop.

Johan Venter ·

Ek het my drie vierwiel woonwaens vol kruideniersware gepak, genoeg toiletpaper, my twee Venters vol klere, als haak ek agter my kragtige Oshkosh aan, visstokke vat ek saam, my boot, en na my vrou ook ingeklim het, is ek op pad na ons strandhuis in Jeffreys Baai.

Jaco ·

Nou is die tyd vir wit boere om alle produksie te staak totdat die regering ‘n definitiewe besluit neem waarin hulle ALLE planne en beleide met onteiening sonder vergoeding finaal staak. As alle boere dit NOU doen, kan die regering nie die weermag en polisie instuur teen die boere nie, weens maatreëls om die verspreiding van die virus te keer. Boere moet NOU optree.

Anel ·

Ek stem. Nou is die boere ewe skielik goed genoeg. Stel ultimatum. Staak grondonteiening, of…..

Anoniem ·

Jaco, Suid-Afrikaners het op hierdie stadium ‘n enorme krisis wat hulle moet trotseer ten opsigte van die Covid-19 virus wat hulle eers te bowe moet kom en dan kom jy met so ‘n voorstel. Dink jy nou rerig Suid-Afrikaners sal nog ‘n hongersnood ook kan “face” .

Sharnelle ·

Dis my vraag ook Herklaas. Ons kan nie meer maandeliks kruideniers koop soos 3 jaar terug nie, lewenskostes het so duur geraak dat ons net die brood nodige goedjies kan koop op n weeklikse basis.

Wielspore ·

Die is meer ‘n sosiale pandemie as wat daar ‘n gesondheids pandemie is. China was onder totale lockdown en mense is toegelaat om kos en medikasie te gaan koop. Die voedsel ketting het bly werk al het ander besighede toegemaak. Paniek en die verspreiding van vals (onbevestigde) inligting maak meer skade as die siekte self. Wees geestelik sterk en ondersteun jou geliefdes, ons gaan Covid-19 oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.