Staalaanleg staan op uit die stof

highveld-steel-03

Highveld Steel skakel vandag vir die eerste keer sedert die enorme afleggingtragedie in 2015 ʼn gedeelte van die aanleg aan. Tans is daar reeds meer as 400 mense wat weer by die aanleg werk. Foto: Morné Prinsloo.

Highveld Steel in Witbank (Emalahleni) skakel vandag vir die eerste keer sedert die enorme afleggingtragedie in 2015 ʼn gedeelte van die aanleg aan. Dit beteken dat die Highveld Steel-aanleg weer ʼn vorm van inkomste vir baie van die mense wat hul werk verloor het, gaan wees.

Volgens Johan Burger, uitvoerende hoof van Highveld Steel, gaan die aanleg nou volgens ʼn hele nuwe sakeplan bestuur word. Die Highveld-nywerheidspark, soos wat dié onderneming van nou af gaan bekend staan, beoog om die tuiste te wees van verskeie klein ondernemings wat geboue op die aanleg gaan huur.

“Nadat ons die aanleg in 2015 moes afskakel het ons vinnig besluit om nie op te gee nie en nie net oor die tragedie te sit en huil nie. So ons het ʼn plan gemaak,” sê Burger.

Van die ondernemings wat reeds op die aanleg sake doen strek van ʼn menslikehulpbrononderneming tot by ʼn ingenieursfirma en ʼn opleidingsentrum.

Van die sowat 2 200 mense wat afgelê is, is 1 753 van Highveld Steel en 434 van Vanchem Vanadium Products in die Witbank-omgewing. Soveel as 300 van dié mense is Solidariteit-lede.

’n Sub-afdeling van Higveld Steel, Highveld Structural Mill Proprietary Limited (HSM), gaan van vandag ingespan word om swaar strukturele staal, soos treinspore of staalpilare, te vervaardig. HSM is die enigste aanleg op die Afrika-vasteland wat strukturele staal van dié aard kan vervaardig.

HSM is die afgelope drie maande opgeknap en alle toerusting is reg- en skoongemaak. Die opknappingswerk het fyn besonderhede ingesluit soos om alle masjinerie blink te skuur.

Vandag, net minder as twee jaar later, kry dié gedeelte van die aanleg weer lewe. “Namate dié gedeelte beter doen en geld verdien gaan ons probeer uitbrei en meer personeel aanstel,” het Burger gesê.

Burger het bygevoeg dat diegene wat in 2015 afgelê is voorkeur sal kry wanneer poste by die aanleg gevul moet word.

“Ons het die regte mense met die regte passie om hierdie plan van die grond af te kry en ons hoop om sowat 1 700 werksgeleenthede te skep,” meen Burger. Tans is daar reeds meer as 400 mense wat weer by die aanleg werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Corrie ·

Wraggies dit is wonderlike nuus. Ek glo Suid-Afrika gaan draai met God se genade.

Ander Annie ·

Dit is baie goeie nuus vir Witbank. Mag dit net goed gaan met Highveld Steel en Vanadium.

Wonder maar net ·

En wat het die regering gedoen? Waar is hulle werkskeppings projekte? Wie was die oorsaak van die sluiting? Wel gedaan Johan aan jou en jou span,alle voorspoed en seen.

A ·

Dankie, dankie en dankie vir bietjie goeie nuus. Sterkte aan almal en ek hoop werklik julle sukses is van so ‘n aard dat julle 2000 mense kan aanstel.

Abdul ·

Ek lees nerens dat dit poste vir wittes is nie – dit sou teen die WET wees… sadly!

MCH ·

Ek dink dit was n reuse taak om die hele besigheid te herstruktureer, alles te diens en op te knap en n nuwe mark te bepaal en die besigheidsplan rondom dit te beplan. Uitstekende bestuur en kundigheid. Mooi so! n Boer maak n plan! Mag jul geseen wees met ongekende groei.

Hein ·

Ek wonder net of die GUPTA’S nie n vinger in die PIE het hier ook nie ?

Gerhard ·

Was ‘n wonderlike, onbeskryflike ervaring om deur die structure mill te kon geloop het. Die geraas was beter as die beste sokkie song. Na 32 jaar se lewe op Highveld steel, trots op almal wat gehelp het. Vandag was heerlik, maar baie emotioneel. Johan, jy en die span, baie baie geluk en dankie.

Jos ·

Well done Johan. Pas op dat jy nie gaan smelt nie want jy is ene yster.
Ons het meer soos jy nodig in die land.
Alle voorspoed !

Gus Dry ·

Dis baie goeie nuus.alle sukses en voorspoed vorentoe .hoop net nie die Guptas is betrokke nie .LOL

zahn ·

Baie geluk en alle voorspoed, ek sal graag wil weet wat was die BBBEEEEE kontingent se bydrae tot hierdie herrysing uit die as?

KC ·

Ongelooflike deursettingsvermoë en doelgerigtheid van Johan Burger en sy span tsv teenspoed en diverse uitdagings. Dit maak al die stress en lang ure die moeite werd!

christa Nagel ·

Mooi so Johan Burger ! Mag die jare vorentoe net van beter na beste gaan

anneke ·

Prys die Here!!! Dit laat my sommer tjank. Mag daar nog en nog en nog sulke staan-op-uit-die-stof stories kom!!

Lea ·

Baie baie bly vir hierdie goeie nuus! SA sal weer uit die moeras opstaan met mense soos die. Ek wonder wat het van Yskor geword,want net nadat die cANCer ingekom het,het alles uitmekaar geval. Dieselfde met Ekandustria- soveel fabrieke het daar ook gesluit..

Lea ·

MM wat beteken ‘gemodereer’ Eks bietjie dom, het ek enige iets gese wat ek nie moes nie?

JB ·

Welgedaan mense. Bid vir voorspoed vir julle wat nooit ophou nie. So maak mens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.