Staan opsy sebrastrepe … dis pikkewynwêreld dié

Die nuwe voetoorgang in St. George’s-straat naby Boulders Beach in Simonstad. (Foto: Verskaf / Stad Kaapstad)

Wanneer jy die voetoorgang in St. George’s-straat naby Boulders Beach in Simonstad oorsteek, kyk sommer twee keer regs, twee keer links en dan wéér twee keer regs: dié oulike “voetgangers” wil jy nie misloop nie.

Die nuutgeverfde pikkewyne wat langs die gebruiklike sebrastrepe op dié pad pronk sal ʼn glimlag op enigeen se gesig sit en is byna te mooi op oor te loop.

Dit is deur die kunstenaar Jacques Coetzer geverf en verteenwoordig die kolonie Afrika-pikkewyne waarvoor die Simonstad- en Boulders Beach-omgewing bekend en uiters geliefd is.

Die nuwe voetoorgang beeld skattige pikkewyne uit wat staan, swem en duik.

Kaapstad se direktoraat vir stedelike mobiliteit het die projek in samewerking met plaaslike belastingbetalersverenigings en pikkewynliefhebbers aangepak.

Volgens Rob Quantas, die DA se burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit in Kaapstad, ondersteun die stad al die afgelope twee jaar openbare kunsprojekte soos dié wat erfenis, toerisme en die kultuur van die Moederstad of spesifieke kulturele gebiede vasvang en bevorder.

Die nuwe pikkie-voetoorgang is naby Rectorylaan geleë.

Die nuwe voetoorgang in St. George’s-straat naby Boulders Beach in Simonstad. (Foto: Verskaf / Stad Kaapstad)

 

Die DA se Rob Quantas by die nuwe voetoorgang in St. George’s-straat naby Boulders Beach in Simonstad. (Foto: Verskaf / Stad Kaapstad)

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alta ·

Baie dankie Jacques! Dit is pragtig! Wat van bobbejaanstrepe? Dalk kan ons hulle ook bietjie maniere leer!! Hulle neem Simonstad oor!

Sobymykoolkop ·

Smaak my oë bedrieg my. Geen slaggate of papiere in die prentjie nie. Silwerskoon. Mooi Wes Kaap. Julle kan trots wees hoe dit daar lyk. Die res van ons kan maar net wens.

Bolandse Nooi ·

@Sobymykoolkop … nee, jou oge bedrieg jou nie! Sien, dís hoekom die ANC-kaders (en ook diegene wat CoCT “Slaapstad” of “Slaapfontein” noem) so jaloers is op Kaapstad – omdat ons hier ‘n provinsiale regering het wat wérk. Ons is gewoond aan HEEL en SKOON strate, LOPENDE water en in (redelike mate) GEREELDE krag. Dis net – die skollie/”gangsta”-probleme op die Flêtse wat mens bietjie moeg maak.

Gawie ·

In Britanje kry jy bo-en-behalwe die sebrastrepe ook pelikaan, puffin, toekan en pegasus oorgange oor die straat, elk vir ‘n verskillende doel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.