Staat betaal Kubaanse dokters direk, sê minister

Medici van Kuba kom in Suid-Afrika aan (27 April 2020) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Nieteenstaande mediagerugte tot die teendeel, blyk dit uit ʼn antwoord van die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, op ʼn parlementêre vraag van die VF Plus, dat die Kubaanse dokters en veldwerkers in Suid-Afrika hul volle betaling direk van die Suid-Afrikaanse regering ontvang.

Hardnekkige gerugte sedert die Kubaanse mediese span se aankoms in Suid-Afrika, het daarop gedui dat die Kubaanse regering die grootste deel van die R239 miljoen sou ontvang.

“Alhoewel Mkhize sê die geld word direk in die spanlede se rekeninge betaal, is dit ʼn ope vraag wat die reëling is oor latere oorbetaling van die geld van die lede aan die Kubaanse regering,” het Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, in ʼn verklaring gesê. “In antwoord op hoe lank die mediese span in die land gaan wees, lui minister Mkhize se antwoord dat hulle in Suid-Afrika sal bly ‘so lank as wat hulle benodig word’.”

Die bestaande reëling is vir ʼn tydperk van twaalf maande wat elke kwartaal hersien sal word met die teikendatum vir terugkeer na Kuba in Mei 2021.

“Wat die betaling van die R239 miljoen aanbetref, ongeag wie dit eindelik kry, is die VF Plus steeds van mening dat die bedrag buitensporig is gegewe die feit dat ʼn groot komponent van die mediese span gewone veldwerkers is,” het Groenewald bygevoeg.

“Daar is genoeg kundigheid aan afgetrede en werklose mediese personeel en kundiges in Suid-Afrika om die werk te kan doen en dit is onaanvaarbaar dat hierdie mense nie eerder aangestel is nie. Volgens die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) was die meeste van sy 15 000 mediese dokters bereid om die werk te doen.”

Luidens die minister se antwoord sal die reiskoste vir die span se terugkeer deur die “ontvanger-land” betaal word, in hierdie geval Kuba.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Julle lewe in julle eie verbeeldingswêreld. JULLE betaal NIKS, dis ons, die leeg gemelkte
belasting betalers wat betaal met die geld wat die kamerade dink uit hul persoonlike spaarvarkie kom.

Janine ·

Lagwekkend! Die regering betaal… NEE! Hardwerkende, uitgemergelde Suid Afrikaners wat belasting betaal, vereffen hierdie rekeninge!

Amatambo ·

Maar ons eie medici – wat ook wil werk en net so bekwaam – indien nie beter nie – as die Kubane – word oor die hoof gesien…

Willem ·

natuurlik, daar is so paar hande in die pastei ook, die COOKIE JAR is VOL HANDE..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.