‘Staat gaan nie vir Magaqa-fluitjieblasers se beskerming betaal nie’

Sindiso Magaqa (Foto: ANA)

Bheki Cele, minister van polisie, het Donderdag gesê hy het bedenkinge oor Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB) se verdoemende verslag wat bevind het dat die staat moet betaal vir private veiligheidsdienste vir die twee fluitjieblasers in die Sindiso Magaqa-moordsaak.

Reneilwe Serero, Cele se woordvoerder, het bevestig dat Cele die verslag ontvang het. Die inhoud van die verslag is nog nie bekend gemaak nie.

Serero het gesê Cele het “ernstige bedenkinge” oor die verslag se bevindings en die remediërende aksies wat daarin voorgestel word.

Maroela Media het vroeër berig die OB se verslag van 47 bladsye het bevind dat die versuim van Cele en die SAPD om veiligheidsbeskerming vir Les Stuta en Thabiso Zulu te verskaf, hulle bloot stel aan die risiko van sluipmoordaanvalle.

“Dit stel ook die SAPD en die Suid-Afrikaanse regering bloot aan ʼn risiko vir onnodige regseise en finansiële verliese, aangesien die twee mans se families kan besluit om eise teen die regering in te stel en skade vir hul verlies van lewe indien hulle vermoor sou word,” lui die verslag.

Mkhwebane het in haar verslag gesê dat Cele onder meer vir Zulu en Stuta die nodige beskerming op die staat se onkoste moet verskaf.

Zulu en Stuta het by Magaqa se begrafnis in September verlede jaar gesê dat Magaqa vermoor is nadat hy tenderkorrupsie wat verband hou met die uMzimkhulu-munisipaliteit, waar hy raadslid was, aan die lig gebring het.

Sedert Zulu en Stuta die bewerings van korrupsie tydens Magaqa se begrafnis bekend gemaak het, het hulle verskeie doodsdreigemente ontvang. Hulle het die polisie genader vir bystand en is van bakboord na stuurboord gestuur. Zulu het uiteindelik die openbare beskermer genader.

Mkhwebane het in November 2017 die voormalige minister van polisie, Fikile Mbalula, skriftelik genader en daarna Bongani Bongo, minister van die staatsveiligheidsagentskap (SSA), en hulle versoek om risiko-assesserings te doen op die twee fluitjieblasers.

Albei ministers het binne ʼn week gereageer en gesê die assesserings sal gedoen word. Dit het uiteindelik in Desember plaasgevind, maar, volgens haar verslag, het Mkhwebane steeds nie die assesseringsverslag ontvang nie.

Albei mans ontvang steeds doodsdreigemente. Hulle glo ook hul telefoonoproepe word gemonitor. Zulu beweeg nou van plek tot plek in die provinsie rond.

Die SSA-assessering, wat bevind het dat hulle dringende beskerming benodig, het eers in April 2018 plaasgevind.

Serero het gesê Cele het die polisie se bestuur opdrag gegee om intern en prosedureel aan die verslag te werk vir die doeleindes om ʼn aansoek te bring vir die hersiening van die verslag.

Serero het gesê dít word gedoen as gevolg van die ernstige gevolge wat dit vir die ministeriële departement van polisie en die polisiediens kan inhou as dié verslag nie betwis word nie.

Zulu het Donderdag aan African News Agency gesê dat hy en Stuta bekommerd is dat hul lewens in gevaar is terwyl al hierdie verwagte hofprosesse aan die gang is.

Zulu het gesê die kwessie is nie vir hulle persoonlik nie. “Minister Cele bly my senior leier en ʼn kader wat ek respekteer. Ek wil nie hê hierdie moet persoonlik oorkom nie. Voordat hy minister geword het, was ek een van dié wat ʼn beroep gedoen het vir sy terugkeer na die polisie, want ek het geweet waartoe hy in staat is in die geveg teen misdaad,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Ai, hoe sal ons korrupsie uitroei as ons nie die fluitjieblasers beskerm nie? Mense kom reeds nie maklik na vore nie.

Cherokee ·

Soos jy sê, daar bestaan nie ‘n rang soos Generaal-Majoor nie. Kan jy dit glo!

Manna ·

Die mense hou nie van fluitjie blasers. Daar sal seker binne kort wetgewing kom om dit te verbied. Eish!

Judge Dredd ·

Tog is die regering lief om vir skelms soos Zuma te betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.