Staat gereed vir JB Marks-korrupsietrio

Skrywer: Rasaad Adams

Van links na regs, Kgotso Khumalo, Mohau Shuping, en Cecil Henry. (Foto: Rasaad Adams)

Die landdroshof in Potchefstroom in Noordwes het Vrydag tydens ʼn voorverhoor beslis dat die bedrog- en korrupsiesaak teen Kgotso Khumalo, voormalige burgemeester van die JB Marks-munisipaliteit, van 11 tot 13 Oktober aangehoor sal word.

Khumalo en sy twee medebeskuldigdes, Cecil Henry en Mohau Shuping, word verbind met korrupsie en bedrog ter waarde van R5 miljoen. Hulle is in Oktober verlede jaar deur die Valke vasgetrek.

Volgens Henry Mamothame, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, het die staat ʼn sterk saak. Hy sê dat al die nodige dokumentasie, asook ʼn totaal van 20 staatsgetuies gereed is vir wanneer die verhoor op 11 Oktober in die Ventersdorp-landdroshof begin.

Maroela Media het vroeër berig die geld, wat onder meer deur die Noordwes-Universiteit geskenk is, is nooit by die ouditeur-generaal verklaar nie.

Kgotso Khumalo, voormalige burgemeester van die JB Marks-munisipaliteit, buite die hof. (Foto: Rasaad Adams)

Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat verskeie betalings glo uit die trustrekening in die verdagtes se persoonlike bankrekeninge gemaak is. Daar word beweer dat daar ʼn wanvoorstelling van die geld in die trustrekening was om te lyk asof dit gebruik word om dienste te betaal wat aan die munisipaliteit gelewer is, terwyl fakture na bewering vervals is.

Khumalo het Vrydag buite die hof aan die media gesê hy is nie bewus van die R5 miljoen wat aan sy naam gekoppel word nie. “Ek word aangekla van diefstal vir ʼn beweerde bedrag van tussen R64 000 en R100 000. Waar die R5 miljoen inpas, weet ek nie,” het hy aangevoer.

Die DA in Noordwes het intussen die saak teen die JB Marks-trio verwelkom. Chris Hattingh, DA koukus-leier in die provinsie, sê dit gebeur weinig dat sake soos dié in die hof beland. “Met die sterk spesialisaanklaers wat by die saak betrokke is, glo ons dat die nodige geregtigheid sal geskied.”

Die JB Mark-munisipaliteit, wat bestaan uit Ventersdorp en Potchefstroom, is in Mei 2019 deur die provinsiale regering onder administrasie geplaas, onder meer weens korrupsie en wanbestuur wat in dié munisipaliteit voorgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jr ·

Vir ses jaar het ek NWU Potch my twee kinders se varsity fooie betaal sonder hulp van die “so called govt.” Elke sent betaal en nie ‘n DOOIE SENT afslag gekry van daai varsity. Nou om te hoor hulle gee my geld vir die cANCer party. SKANDELIK SIES

Kobus ·

Nee a manne, R5m is substandaard. Dis mos kleingeld itv die standaard wat julle party gestel het. Julle sal moet beter doen !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.