Staat het steeds ‘geen voorstel om grond ten volle oor te dra’

Foto:
Lukas/Pexels.com

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het sy vir begunstigdekeuring en grondtoekenning pas bekendgestel vir openbare kommentaar. Die DA sê hoewel hy die stappe verwelkom wat gedoen word om riglyne daar te stel om te bepaal wie begunstigdes van grondhervorming mag wees, is die party teleurgesteld dat dit geen voorstel bevat om grond ten volle aan nuwe eienaars oor te dra nie.

“Ons verwelkom die beleid se bedoeling om voorwaardes te bevorder wat voorheen benadeelde burgers en ander teikengroepe help ‘om toegang tot grond te kry’. Dit gaan egter nie veel beteken tensy daar duidelike en besliste voorstelle vir grondeienaarskap is nie,” het Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landelike ontwikkeling en grondhervorming, gesê.

Steyn sê dié weglating bevestig die DA se standpunt dat die ANC-regering nie werklik swart Suid-Afrikaners se reg om grond te besit ondersteun nie en dat die regering die enigste grondeienaars wil wees deur swart boere lewenslank onder hul beheer as huurderboere te hou.

“Die DA glo Suid-Afrikaners moet hul eie grond en eiendom besit en dat dit nie nodig is om die Grondwet te verander om dit reg te kry nie.”

Die DA het verskeie voorstelle oor die proses gemaak. Dit sluit in:

  • ʼn Omvattende grondoudit wat so gou moontlik beskikbaar gestel moet word;
  • Alle ondersoeke na bedrog tydens grondhervormingstransaksies moet afgehandel word en grond moet aan geskikte kandidate beskikbaar gestel word;
  • Grondhervormingslyste moet op ʼn openbare webwerf beskikbaar wees;
  • Uitstaande eise moet afgehandel word sodat bepaal kan word watter grond steeds beskikbaar is; en
  • Alle suksesvolle grondhervormingsaansoekers moet volle eienaarskap van die grond gegee word.

Steyn sê die DA glo dié stappe is krities om te verseker dat verdienstelike Suid-Afrikaners grondeienaars word, pleks van huurders bly.

Die voortslepende stryd tussen die departement en David Rakgase, ʼn suksesvolle swart huurderboer, sloer intussen steeds.

Maroela Media het vroeër berig die hooggeregshof in Pretoria het verlede jaar al bevind die departement moet die stuk grond van sowat 3 000 ha waarop Rakgase al dekades lank boer, aan hom verkoop. Hy huur die plaas Nooitgedacht by die staat en het ingevolge ʼn nou opgeskorte landbou-ontwikkelingsprogram jare gelede al toestemming gekry om die plaas te koop.

Rakgase het die hof genader nadat dit aan die lig gekom het dat die regering nie meer die grond wil verkoop nie, maar hom eerder ʼn verdere 30 jaar-huurooreenkoms aangebied het. In ʼn waterskeidingsaak het die hooggeregshof egter in sy guns beslis en beveel die regering moet die plaas aan Rakgase verkoop volgens die bepalings en voorwaardes – en die bedrag – wat van toepassing sou wees as die plaas in 2003 aan hom verkoop sou geword het.

Maande later – en ten spyte van die hofbevel – is die transaksie steeds nie afgehandel nie.

Die departement wou later boonop net die helfte van die plaas aan Rakgase verkoop. Die aanbod is glo later na die volle eiendom verander, maar toe teen ʼn astronomiese bedrag.

Volgens Steyn is Rakgase se regspan intussen steeds met die departement in gesprek om ʼn oplossing vir die jarelange geskil te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

André André ·

Net soos in die verlede …. 2018 oujaar, vol beloftes, waarvan almal mooies was … 2019 nuwe jaar, niks het verander nie … 2019 oujaar, vol beloftes, waarvan almal mooies was…. 2020 nuwe jaar … niks sal verander nie. Al wat jaar na jaar gebeur is dat hulle hul ideologie blinker poets en dit as die pot goud aan die einde van die oorgeverfde reënboog aan die mense voorhou.

Ida Kriel ·

Ja Andre hierdie regering weet hoe om heuning om sy mense se mond te smeer, wat hul soos soetkoek opeet. Geen mens kan die ANC vertrou nie. Als wat hul doen het n agenda en hul gee regtig niks om vir hul eie mense nie. Dis n skande.

Johan ·

Die Regering is so sterk ingestel om grond af te vat dat hulle niks verder kan dink nie…

Johanna Botha ·

Vertrou doe anc om dit opteneuk …soos alles waaran hulle sover geraak het !

Vintcent ·

Die staat gebruik grond as verskoning om stemme te trek. Als stuur in elke geval af op volslae kommunisme, want die staat wil als besit…ook vir jou as individu!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.