Staat kan nie (altyd) waak oor plasings op sosiale media

Donald Trump se uitlatings op sosiale media het hom dikwels in die pekel laat beland. (Foto: Douliery/AFP)

Een van die belangrikste kenmerke van pres. Donald Trump se termyn as president van die VSA was sy mildelike gebruik van sosialemediaplatforms om sy menings wyd en syd te versprei.

Hy het die kuns bemeester om miljoene volgelinge aan die neus te lei en hulle met sy tydige en ontydige twiets en Facebook-plasings ingelig te hou oor sy siening van plaaslike en internasionale politiek. Sy kommentaar het soms aan die lagwekkende gegrens, maar hy het nie geskroom om enige tyd van die dag of nag sy mening te lug nie.

Nou het hy sy rieme styf geloop: Aan die einde van sy stormagtige termyn as president het hy die twyfelagtige eer om die eerste Amerikaanse president te word wat twee keer in ʼn staat van beskuldiging geplaas te word en ook om permanent deur Twitter afgeskop te word.

Hy is vroeër onbepaald deur Facebook en Instagram geskors – ook weens sy kommentare wat as aanstigting tot geweld beskou is.

Bennie Conradie, uitvoerende konsultant en mediaregkenner van Cliffe Dekker Hofmeyr, meen mense en elke land se omstandighede verskil.

“Die algemene uitgangspunt is egter dat vryheid van spraak in ons Grondwet een van die belangrikste verskanste regte in ons demokrasie is en slegs in buitegewone omstandighede sal dié reg beperk word.

(Foto: pixabay)

“Die toets is rasionaliteit, redelikheid en gebalanseerde besluite wat geneem word met al die feite om objektief beoordeel te word.

“Vryheid van spraak beteken dat selfs aanstoot gegee kan word. ‘Kill the Boer’ (die oproep van die EFF-leier Julius Malema) het aanstoot gegee, maar daar is bevind dat dit deel was van ʼn ou vryheidslied en nie bedoel dat mense doodgemaak moet word nie. Opset en die bedoeling van die boodskap sal getoets word met alle feite in ag genome. Redelikheid en objektiewe maatstawwe sal geld,” meen Conradie.

Volgens Conradie is Trump egter te laat van sosiale media verwyder.

“Dit help nie om hom nou af te haal as straf nie. Hy het reeds in sy toespraak gesê hy is teen geweld. Hulle kan hom slegs verwyder indien daar redes bestaan dat hy geweld gaan aanblaas. Dit bestaan nie.

“Daar is geen maatreëls in Suid-Afrika, soos wetgewing en regulasies, wat die mediaplatforms kan polisieer nie. Die regte van vryheid van spraak is net té sterk. Die EFF kan [byvoorbeeld] aanstoot gee en dinge sê waarvan mense nie hou nie,” sê Conradie.

Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook, het in reaksie op die verbanning van Trump se plasings gesê dit is gedoen omdat dit geblyk het dat Trump van plan was om sy oorblywende tyd as president te gebruik om ʼn vreedsame en regverdige oordrag van mag na sy opvolger, Joe Biden, te ondermyn.

Hy het gesê Trump se besluit om die aanval op die kongresgebou goed te praat eerder as om dit te kritiseer, het mense wêreldwyd ontstel en dat dit waarskynlik geplaas is om verdere geweld te stook.

Zuckerberg het ook gesê dat hulle Trump die afgelope paar jaar toegelaat het om sy sê te sê, maar dat sy plasings soms uitgewys is.

Dit is gedoen omdat hulle glo die publiek het die reg tot die wydste moontlike politieke uitsprake, selfs al is dit omstrede.

Hy glo egter die huidige konteks van Trump se plasings is fundamenteel anders en sluit die gebruik van hierdie platform in om geweld teen ʼn demokraties verkose regering aan te blaas.

Dink voor jy plaas

(Foto: pixabay)

Monique Erasmus van Miller Bosman Le Roux-prokureurs, glo Suid-Afrikaners word reeds aan bepalings van die Wet op Kubermisdaad onderwerp en moet versigtig wees wat op sosialemediaplatforms geplaas word.

“Hierdie wetgewing poog om mense twee keer te laat dink voordat hulle iets plaas en dit kan gesien word as ʼn poging om kwaadwillige plasings of boodskappe te polisieer. Die praktiese uitwerking van hierdie wetgewing op individue en organisasies is betekenisvol en ongelukkig meestal negatief omdat dit ʼn uitwerking het op almal wat data verwerk of rekenaars gebruik,” sê Erasmus.

“In die konteks van gebeure om pres. Trump, bepaal die wet dat boodskappe wat ʼn groep mense aanspoor om eiendom wat aan ʼn sekere demografiese groep behoort, te beskadig, strafbaar is. Selfs die aanhitsing tot so ʼn gewelddadige optrede kan tot vervolging lei, bloot vir die aanhitsing eerder as die daad self.

“Die wetgewing sluit ook alle geïmpliseerde dreigemente van geweld teen ʼn groep mense in,” meen sy.

Adv. Jackie Nagtegaal, besturende direkteur van Law for All, het onlangs oor die gevare van uitdagende plasings op sosialemediaplatforms gewaarsku en gesê mense moet versigtig wees oor wat hulle plaas.

“Maak seker dat die inhoud wat jy plaas nie aanstootlik of potensieel skadelik van aard is nie. Selfs mense wat toesig oor ander se plasings hou, kan in die moeilikheid beland as die plasings ingevolge wetgewing onvanpas is.”

Volgens Erasmus moet die Kuberwet, wat aanvanklik reeds in 2015 gepubliseer is, goed verstaan word aangesien talle aanpassings sedertdien gemaak is en gebruikers, sodra dit onderteken word, daardeur aan die bepalings gebind word.

Conradie meen dat Trump se optrede gemeet sal moet word aan die toets of ʼn perk oorskry is, en in hierdie geval is dit baie hoog.

“Ek twyfel of die mediahuise verplig kan word om ʼn oorsigrol te speel. Dit sal indruis met die vertroulikheid van die gesprekke.

(Foto: Drew Angerer/Getty Images/AFP)

“In Suid-Afrika is dit nie volgens ons regstelsel moontlik om ʼn oorsigrol (oor sosiale media) te speel nie. Dit sal inbreuk maak op vryheid van spraak. Daar bestaan nie wetgewing of regspraak wat dit beheer nie. Die gemene reg en Grondwet sal geld en daar kan aangevoer dat die verskaffer van die diens wel die verpligting het om, indien dit onder die verskaffer se aandag kom dat geweld op groot skaal beplan word, dit by die owerhede aan te meld wanneer hulle genoeg inligting het om op te volg.

“Indien die verskaffer nie optree nie en mense word beseer deur byvoorbeeld ʼn bom wat ontplof, kan die verskaffer siviel gedagvaar word.

“Argumente van privaatheid wat geskend word, sal nie dan geld nie,” sê Conradie.

“Oorsig deur die staat sal nie reg wees nie en sal in stryd wees met die bepalings van ons Grondwet. Ek twyfel dat die staat dit ooit sal doen of oorweeg. Die staat mag dalk in spesiale gevalle dit verwag van Facebook en sosialemediaplatforms om self ʼn stelsel te ontwerp om wag te hou indien omstandighede dit vereis, maar dit sal van omstandighede soos politieke klimaat en ander faktore afhang.

Conradie sê in só ʼn geval sal gemene reg ook in Suid-Afrika geld.

“Indien daar ʼn kontrak bestaan tussen die verbruiker en verskaffer wat die verskaffer toelaat om die verbruiker uit die stelsel te haal, dan is dit ʼn ander geval. Ek twyfel of daar sulke ooreenkomste bestaan wat ook bepaal dat die verskaffer onder sekere omstandighede die vertroulikheidsklousule mag ignoreer indien omstandighede dit toelaat,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Leeuwyfie ·

Wie besluit wat reg is en wat verkeerd is?
Ek kan die agteruitgang van mense se morele waardes sien. Goed word sleg genoem en sleg goed. So wie besluit wat goed is? Ek weet waar ek my morele kompas kry, maar die Bybel word nie meer as van pas beskou deur diegene wat in beheer is om die besluite te neem van wat aanvaarbaar is en wat nie. Wat is erger? Iemand met mag wat vir mense te sê om ander te gaan vermoor agv hul velkleur of iemand met mag wat sê dat die uitslae verkeerd is en ondersoek moet word? Die een se twitter profiel bestaan nog, die ander nie. So ek vra weer, wie neem hierdie besluite? En hoe besluit hulle? Wie het op die ou end die groter mag?

Pieter ·

Tydens Clicks se sage het Malema op sosiale media gesê ATTACK. Geen woord daaroor nie.

Kill the Boer, Kill the Farmer. Plaasmoorde is ‘n werklikheid. Net soos die k-woord uit is, is hierdie leuse ook onvanpas vandag, tensy jy juis plaasmoorde wil aanhits, wat die geval is.

Subjektiewe beoordeling. Trump word nou gedump, maar Malema het nog politieke aspirasies dus ons los hom terwyl hy nog staan.

Jacobus ·

Dit opvallend dat kritiek, verdraagsaamheid net van een rigting verwag word. Die opstande en verwoesting met Trump se inhuldiging is skoon vergete. Zuckerberg se verskoning is pateties en polities gelaai. Moet by sê dat ons HSM is vinnig op pad – kritiese kommentare word summier verwyder. Dit in ongehoord en ewe pateties.

Boeing ·

Dit is vir my net so snaaks dat net die regses geteiken word met sensorskap. In Amerika word President Trump geteiken maar mense soos Maxine Walters en AOC blaas openlik geweld aan en geen haan kraai daarna nie. In Suid Afrika word ‘n vrou wat die gewraakte Arabiese K woord gebruik opgesluit, maar Malema kan se wat hy wil en jy hoor net die krieke. Mense glo ales wat CNN se, maar is te lui om navorsing te doen en agter die waarheid te kom. As jy alles wil glo wat jy lees (soos hierdie artikel), stel ek voor jy begin met jou Bybel.

SomeOne ·

ek het nog altyd aan sy denkvermoe en handel vermoe getwyfel, as hy ook nie soveel onder sy gat ingeprop was nie, was hy ook ‘n 0 (nul)

pestilensie ·

Danie ou maat , jy is uit voeling . Wie besluit wie lei wie aan die neus , is jy nie maar ook n neusleier wat JOU mening in plaas van die feite deurgee . Dit is hierdie van eensydige twak wat Trump die mag gee wat hy het . Hierdie tiepe van olie op die vuur ( rooi doek swaai ) is maar tiperent van die arrogansie en mag van die pers

Pieter J ·

Dit is duidelik dat net liberale sienswyses vir hierdie konings van die sosiale media aanvaarbaar is. As jy enige ander sienswyse het is jy glo ń groot gevaar vir die samelewing. Ongelukkig het ons baie sulke linkses in ons samelewing wat hulle steun. Gelukkig kan party mense dit sien vir wat dit is.

Mariana ·

So maklik om te oordeel nê. Maar Amerika en die wêreld gaan nog spyt wees oor Biden.

Anet ·

Ek kan nie saamstem met die artikel nie. Ek glo aan ondersoek en wat my aanbetref is die opinie eensydig. Verbanning was polities en verkeerd. Spreekwoord wat jy saai sal jy maai. Twitter en faceboek asook ander bigtechapps word nou deur ander lande ge ban. Hoogtyd hulle staan nie onskuldig nie. Doen bietjie verder ondersoek en nie eensydig nie. Demokrate het nie VLERKE nie. SA is die laaste een wat kan oordeel.

LANA is ELANè ·

Viva liberalisme, viva julle wat menseregte heeldag en aldag uitskree maar vryheid van spraak doodmaak dmv regulering ~ julle gaan ‘n duur prys betaal oor julle ge~Trump hier, Trump daar, die wêreld om my lyk al hoe meer na die sg “Animal Farm van George Orwell” sonder leiers met ruggraat.

Johan ·

Baie swak berig van die joernalis van Maroela Media. Lyk my julle ondersteun die Demokrate. ‘n Biden wat Suid-Afrika in sy vroeëre jare sleg gesê het. Dit is verbasend hoe Maroela Media die Demokrate steun wat al die jare teen die Blanke Suid-Afrikaners was. Geen wonder ons land is waar hy is vandag nie want ons het te veel Hensoppers in ons land!

Dries ·

Vryheid van spraak in SA hang af van watter ras dit oortree

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.