Staat lê beslag op ‘renosterstropers’ se bates

Argieffoto

Argieffoto

Die staat het vandeesweek beslag gelê op die bates van drie vermeende renosterstropers, wat met minstens 14 voorvalle van renosterstropery verbind word. Die drie is in Junie in Grahamstad in die Oos-Kaap in hegtenis geneem.

Tsepo Ndwalaza, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Jabulani Ndlovu, Sikumbuza Ndlovu en Forget Ndlovu, al drie Zimbabwiese burgers, is op 17 Junie deur lede van die Grahamstad eenheid vir veediefstal- en bedreigde spesies in hegtenis geneem. ʼn Renosterhoring, wat sowat R180 000 op die swartmark werd is, is in hul besit gevind.

“Die horing is later positief verbind met ʼn stropingsvoorval by die Buckland-natuurreservaat waar ʼn witrenosterbul doodgemaak is. Die verdagtes word verbind met 11 voorvalle van renosterstropery in die Oos-Kaap tussen Oktober 2013 tot Junie 2016. Hulle word ook verbind met drie stropingsvoorvalle in Hoedspruit, asook ander voorvalle in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap,” het Ndwalaza gesê.

“Sedert die drie in hegtenis geneem is, is daar nasionaal geen voorvalle aangemeld waar ʼn renoster met ʼn pylgeweer gestroop is nie.”

Die staat het Dinsdag namens die batebeslagleggingseenheid ʼn aansoek in die hooggeregshof in Port Elizabeth gebring om beslag te lê op R18 506 kontant, ʼn Audi-voertuig, ʼn VW Gold GTI-voertuig en die balans van ʼn ENB-bankrekening wat aan die verdagtes behoort. Volgens Ndwalaza beweer die batebeslagleggingseenheid dat hierdie bates opbrengste is wat bekom is deur renosterstropery en diefstal.

Die hof het die aansoek toegestaan en die bates sal vir 14 dae gevries bly. Die verdagtes kan in hierdie tyd die hofbevel teenstaan en indien hulle dit nie doen nie, sal hul eiendom verkoop word en die geld in die strafregtelike batebeslagleggingsrekening inbetaal word, het Ndwalaza gesê. Die kontant en geld in die ENB-rekening sal ook na dieselfde rekening oorbetaal word.

“Die batebeslagleggingseenheid is dankbaar vir die hofbevel wat toegestaan is en hoop dat dit ʼn sterk boodskap sal uitstuur dat enige vorm van stropery nie deur wetstoepassingsagentskappe geduld sal word nie. Ons hoop dat die [verdagtes] skuldig bevind sal word en dat die hof ʼn gepaste vonnis sal oplê,” het Ndwalaza gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cherokee ·

*Fantastiese RenosterNuus!*
Zimbawiërs, almal van hulle. Wonder of dit opgelet word waar dit behoort raakgesien word.

Bloues ·

Ek wonder wat het van die saak geword waar ‘n “sindikaat” waaronder n vlieenier(as ek reg onthou) in hegtenis geneem is. Maroele kan dalk opvolg?

Jakes ·

Harseer ook is ook bates gaan direk na die korrupte regering. Van een dief na die volgende 1.

Magda ·

Hoop net nie hulle word gou vrygelaat op borg nie, want dan gaan hulle nog erger stroop om weer geld aan die hande te kry. Lewe ‘n lekker lewe in SA.

Fritz Rossouw ·

Goeie besluit.
Wat ek nou nie kan verstaan nie, is dat NVG in een area soveel moontlik doen.

In Pretoria ondersteun hul egter saam die SAPS, om criminele los te kry? Ek altyd onder die indruk gewees, dat SAPS en NVG aan die kant van die onskuldige publiek is?

Skynbaar is dit net in sekere gevalle van toe passing?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.