Staat moet fluitjieblasers beskerm – Ramaphosa

Babita Deokaran is verlede week vermoor.

Pres. Cyril Ramaphosa sê die moord op Babita Deokaran, ʼn senior amptenaar in die Gautengse departement van gesondheid, is ʼn somber herinnering aan dit wat op die spel is in die land se pogings om korrupsie uit te roei.

Deokaran (53) is verlede Maandag kort ná 08:00 buite haar huis in Mondeor in die suide van Johannesburg doodgeskiet nadat sy haar kind by die skool afgelaai het.

Sy was een van die meer as 320 getuies in die ondersoek na bedrog met onder meer persoonlike beskermende toerusting (PPE) in die private en openbare sektor.

Ramaphosa sê dit was tot dusver ʼn uiters ingewikkelde proses om die netwerke wat korrupsie in die land moontlik gemaak het te ontrafel. Omvattende netwerke van frontmaatskappye is op die been gebring om geld rond te skuif en betalings aan polities gekoppelde mense te verdoesel.

Ramaphosa sê dieselfde patrone is gevolg in verskeie ander korrupsieondersoeke wat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE), die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat van stapel gestuur het.

“Terwyl die ondersoeke gevorder het en die net al hoe stywer om mense begin span het, het ons gesien hoe getuies gedreig, hul families geïntimideer en hulle gedwing is om weg te kruip of selfs doodgemaak is,” sê Ramaphosa.

Die president sê hoewel die motief vir Deokaran se moord nog nie vasgestel is nie, was sy ʼn sleutelgetuie in die SOE-ondersoek na die PPE-aankope.

Sewe verdagtes is reeds in verband met haar moord aangekeer en die Valke se ondersoek sal hopelik meer lig werp op die rede vir die moord op Deokaran.

Ramaphosa sê ongeag die motief was Deokaran ʼn “held en ʼn patriot”.

“Só ook is die talle fluitjieblasers wat met groot gevaar vir hulself help om voorvalle van wandade, wanbestuur, voortrekkery en diefstal bloot te lê.

“Sonder hul dapper en beginselvaste ingrypings sou ons nie diegene wat korrupsie pleeg kon ontmasker nie. Hoewel die fokus die afgelope ruk op fluitjieblasers in die staatsektor was, is ons ook dank verskuldig aan diegene in die private sektor wie se optrede minder aandag kry, maar ewe belangrik is.

“Fluitjieblasers is belangrike voogde van ons demokrasie. Hulle maak alarm oor onetiese optrede en praktyke in die regering en organisasies.”

Ramaphosa sê in Suid-Afrika is daar ingevolge wetgewing omvattende beskerming vir fluitjieblasers en getuiebeskermingsprogramme is onder meer beskikbaar.

“Terwyl die stryd teen korrupsie momentum kry, moet ons dringend ons benadering tot nie net getuiebeskerming hersien nie, maar ook vir die breër beskerming van fluitjieblasers.”

Ramaphosa sê groter steun is ook nodig vir diegene wat met inligting na vore kom.

“Die bedoeling van die misdadigers wat fluitjieblasers teiken is nie net om spesifieke mense stil te maak nie, maar ook om ʼn boodskap aan ander voornemende fluitjieblasers te stuur. Elke dag staan dapper Suid-Afrikaners, soos Babita Deokaran, bankvas teen korrupsie en is hulle bereid om daaroor te getuig.

“As Suid-Afrikaners salueer ons haar en al die fluitjieblasers in die staat- en openbare sektor wat korrupsie aan die groot klok hang. Hulle doen dit sonder dat hulle erkenning of ʼn beloning verwag. Hulle lewer die hoogste vorm van staatsdiens.

“Ons kan hulle nie in die steek laat nie. Ons moet en ons sal verseker dat hulle openbaarmakings lei tot vervolgings en veel meer doen om te verseker hulle geniet beskerming.”

Ramaphosa sê Suid-Afrikaners wil ʼn duidelike boodskap stuur dat hulle nie geïntimideer sal word nie en dat diegene wat verantwoordelik is vir die moorde op getuies en fluitjieblasers, sal boet. Dieselfde geld diegene wat skuldig bevind word aan korrupsie en wat die sluipmoordenaars probeer wegsteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Ek is getuie van 27 jaar lange korrupsie en onetiese optrede deur ‘n politieke party. Kan Ramaparra of sy minister van veiligheid my veiligheid verseker as ek die fluitjie blaas?

marius

Bly net stil !

Elize

Nou waar is die name van die moordenaars? Sou hulle nie in die hof verskyn het vandag nie?

Herman

Meneer die President, fluitjieblasers het beskerming nodig, nie ‘n saluut nie! Hoeveel fluitjieblasrs is al doogeskiet, om nie te praat van wat hulle in die werkplek ervaar nadat hulle korrupsie aangemeld het nie.

Tiptol

Moet nog die motief vir die moord vasstel.. Wat ‘n grap.