Staat moet tot verantwoording teenoor burgers geroep word

Só gaan die nasionale stembrief op 7 Mei 2014 lyk Grafika: OVK (elections.org.za)

Só gaan die nasionale stembrief op 7 Mei 2014 lyk Grafika: OVK (elections.org.za)

Die video volg onderaan die berig.

Die vakbond Solidariteit het Donderdag ʼn werkgroep oor verantwoordbaarheid binne die Solidariteit Navorsinginstituut (SNI) aangekondig. Die werkgroep is in die lewe geroep as gevolg van Solidariteit se toenemende bekommernis oor die algehele gebrek aan verantwoordbaarheid binne die regering. Die regering se hantering van die Nkandla-debakel is ʼn klinkklare bewys van die staat se onwilligheid om verantwoordbaar en deursigtig te wees in die bestuur van die land.

Die werkgroep se onmiddellike mandaat is om in aanloop tot die verkiesing die regering op ʼn aantal terreine tot verantwoordbaarheid te roep. Die werkgroep is reeds etlike maande besig om inligting te versamel en te interpreteer met die oog daarop om die regering verantwoordbaar te hou teenoor die land se burgers.

Die SNI het Donderdag vir die eerste keer ‘n inligtingsblad uitgereik oor die agtergrond van ʼn aantal kandidate wat op die onderskeie partye se kandidatelyste vir volgende maand se verkiesing verskyn. Die werkgroep het die kandidatelyste van die grootste politieke partye bestudeer met die oog daarop om te bepaal of die kandidate se agtergrond hulle geskik en gepas maak om in die kabinet te dien. “Die profiele van die ANC en die EFF se kandidate wat in die inligtingsblad verskyn, staan soos ʼn doring in die oog uit tussen al die kandidate wat ontleed is. Dit is teleurstellend dat dié kandidate, wat volgens Solidariteit nie as kabinetslede behoort te dien nie, almal aan enkele partye behoort. Die feit dat dié partye enigsins hierdie persone as kandidate voorstel, is tekenend van ʼn gebrek aan verantwoordbaarheid. Indien dié partye enigsins daarin belangstel om vertroue by die publiek in te boesem, sal hulle hul kandidatelys ingrypend moet heroorweeg,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

ʼn Verdere rol van die werkgroep sal wees om die burgers van Suid-Afrika ingelig te hou oor die regering se verantwoordelikhede teenoor landburgers as verbruikers en belastingbetalers. In die komende weke sal die SNI sy Leefbaarheidsmonitor vir Mpumalanga beskikbaar stel en weer inligting oor die leefbaarheid binne Gauteng en Limpopo beklemtoon. Die verskerping van die vakbond se belastingveldtog sal ook in die kollig geplaas word.

Die SNI sal in die komende weke ʼn aantal dokumente vrystel wat handel oor die regering se verantwoordbaarheid teenoor landsburgers ten opsigte van onder meer die gebruik van belastinggeld, om binne ʼn leefbare munisipale omgewing te woon, die beskerming van hul eerste generasie grondwetlike regte en die regering se implementering van  werkbare beleide en wetgewing om ʼn volhoubare toekoms vir Suid-Afrika te verseker.

Volgens Hermann staar die land sy grootste morele krisis sedert 1994 in die gesig. “Die algemene gebrek aan verantwoordbaarheid binne alle vlakke van regering veroorsaak dat Suid-Afrika en sy burgers se belange vernietig word ter uitvoering van die regering se onwerkbare ideologieë. Tesame met die sistemiese korrupsie waaronder die staat gebuk gaan, plaas die regering die volhoubaarheid van Suid-Afrika en die welsyn van sy burgers op die spel. Dit word toenemend duideliker dat burgerlike drukgroepe steeds noodsaakliker word as waghonde om te verseker dat die regering op alle vlakke tot verantwoording geroep word.”

Die werkgroep het ook opdrag gekry om ʼn langtermynstudie oor sistemiese korrupsie binne die regering van stapel te stuur en is dit ook gemandateer om ʼn dossier aan die openbare beskermer te oorhandig na aanleiding van inligting wat in die hof na vore gekom het in die omstrede misdaadintelligensie-saak van kol. Kobus Roos teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die werkgroep sal ook in die komende weke die soeklig laat val op die regering se beleid rakende eiendom, onderwys en gesondheid met die oog daarop om die publiek bewus te maak van die moontlike gevolge daarvan. In aanloop tot Vryheidsdag beplan die werkgroep om ʼn verslag oor die huidige stand van eerste generasie menseregte onder die regerende party beskikbaar te maak.

Die werkgroep sal na die verkiesing voortgaan om hom op bepaalde terreine te fokus met die doel om goeie inligting en navorsing beskikbaar te stel ten einde ander belanghebbendes te bemagtig om die regering en sy amptenare op nasionale en internasionale vlak verantwoordelik te hou vir hul optrede.

Klik hier om die inligtingsblad oor die agtergrond van verskeie kandidate op politieke partye se kandidatelyste te sien.

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.