Staat nog nie gereed in Blochliger-saak

Franziska Blochliger en haar ouers

Franziska Blochliger en haar ouers

Drie mans, wat tereg staan op aanklag dat hulle in besit was van gesteelde eiendom wat aan die vermoorde Kaapstadse tiener Franziska Blochliger behoort het, het Vrydag in die Wynberg-distrikshof verskyn.

Jerome Moses, Jonathan Jonas en Daniel Easter het voor landdros Sylvia Mandla verskyn.

Moses en Easter word verteenwoordig deur Monique Carstens, wat gesê het die twee beplan om skuld te beken op die aanklagte. Sy het gesê sy het reeds hul skuldbekentenis gereed en hulle wou daar en dan die saak finaliseer.

Staatsaanklaer Earl Koopman het egter gesê hy het opdrag ontvang om uitstel te vra tot 23 Februarie, en om nie dadelik met die saak voort te gaan nie.

Jonas se regshulpprokureur was boonop afwesig en die saak kon dus in elk geval nie voortgaan sonder haar nie, het Koopman bygevoeg.

Koopman het gesê die saak het nog nie “al sy eende in ʼn ry” nie en ʼn besluit moet nog gemaak word hoe om met die saak teen Jonas voort te gaan.

Die landdros het ingestem tot die uitstel, maar gewaarsku dit sal die finale een wees.

Die drie mans het aanvanklik, tesame met ʼn vierde verdagte, tereg gestaan op aanklag van moord en roof met verswarende omstandighede. Die moord- en roof-aanklagte is in Januarie teen die drie persone teruggetrek tydens ʼn verhoor voor landdros Goolam Bowa.

Die vierde beskuldigde, wie se naam weens die verkragtingsaanklag nie bekend gemaak mag word nie tot sy verhoor in die Wes-Kaapse hooggeregshof begin, het reeds by ʼn voorverhoorkonferensie in die hooggeregshof verskyn.

Die 16-jarige Blochliger is op 7 Maart verlede jaar dood aangetref in die Tokai-woud, ongeveer 200 meter van die plek in die woud waar sy en haar ma ingestem het om mekaar te ontmoet, nadat die tiener gaan hardloop het.

Lees alle vorige berigte oor die Tokai-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Die moordenaars is gereed om skuld te beken maar die staat is nie gereed om die erkenning aan te hoor nie. Miskien formuleer die staat steeds klagtes maar hulle is traag.

Gustin ·

Waarom word die een verdagte reeds in die Hooggeregshof verhoor en die ander drie nog in die Distrikshof? Gewoonlik sal die staat een as getuie gebruik teen die ander en die saak sal gelyktydig Hooggegregshof toe gaan in so geval. En waarom is die klagtes teen die drie teruggetrek? Het die SAP fouteer in hul ondersoek dat, daar.nie genoeg bewyse is nie?

As die staat nie hul agterente roer nie, loop al vier skotvry weg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.