Staat onseker oor ‘valse dokter’ se ware identiteit

Argieffoto (Pixabay)

Argieffoto (Pixabay)

ʼn Man van Nigerië wat daarvan beskuldig word dat hy beamptes van binnelandse sake omgekoop het om toegang tot sy gekonfiskeerde identiteitsdokumente en paspoorte te bekom, het Vrydag ontken hy is ʼn “valse dokter”.

Anthony Nwuafor, wat vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem is, het aan die Polokwane-landdroshof gesê die beamptes van binnelandse sake het staatshulpbronne teen sy voormalige werkgewer gebruik. Hy voer aan die klagtes is teen hom ingestel om sy loopbaan te verongeluk.

Nwuafor het tydens sy aansoek om borgtog aan die hof gesê daar is nie ʼn saak teen hom nie, en dat senior beamptes in die Limpopo-regering ʼn “vendetta” teen hom voer. Hy het gesê hy is deur die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGSA) aangestel en het vertel van die probleme wat hy ondervind as ʼn dokter in ʼn landelike hospitaal.

ʼn Dokument wat aan die hof voorgehou is, wys hy het verskillende name, verskillende geboortedatums, en dat sy egskeiding met ʼn plaaslike vrou bevraagteken word. Dit het ook aan die lig gekom dat hy drie maande ná sy huwelik in Nigerië, met ʼn vrou van Hammanskraal getrou het.

Nwuafor het gesê die departement van gesondheid het hom aangekla, maar hy is later onskuldig verklaar en weer aangestel.

Staatsaanklaer Meivel Machaba het gesê daar bestaan verwarring hoe Nwuafor verblyfreg in Suid-Afrika bekom het, en tog ʼn Nigeriese paspoort het. Hy het aan die hof gesê die beskuldigde het drie teenstrydige identiteitsdokumente.

Daar word ook aangevoer dat hy ʼn onwettige egskeidingsbevel bekom het, maar sy regspan ontken dit.

Machaba het gesê Nwuafor moet nie op borgtog vrygelaat word nie, aangesien sy identiteit nie duidelik is nie en hy moontlik die hof kan ontduik. “Die grootste uitdaging is dat ons nie weet met wie ons te doen het nie,” het hy gesê.

Die staat hou vol Nwuafor wou die ondersoek verhinder toe hy glo R50 000 omkoopgeld deur Fareida Mall aangebied het. Die hof het gehoor Mall het erken dat hy die omkopery gefasiliteer het.

Die staatsgetuie Bernard Mabitla het getuig Nwuafor het gepoog om beamptes van die departement om te koop sodat sy gekonfiskeerde immigrasiedokumente vrygestel kan word.

Apo Molepo, vir Nwuafor, het egter aan die hof gesê die geld was vir Mall se immigrasiedienste.

Volgens Machaba het die ondersoek teen Nwuafor begin toe sy burgerskap bevraagteken is. Die departement van binnelandse sake se ondersoek duur voort.

Die saak is tot 24 November uitgestel.

ʼn Beampte van die departement het ook aan die hof gesê Nwuafor het vermoedelik vervalste kwalifikasies gebruik om die werk as ʼn dokter te kry.

Nwuafor en sy vrou is vroeër vandeesmaand saam met Fareida Mall in hegtenis geneem op aanklag van korrupsie en oortreding van immigrasiewetgewing. Mall is vrygelaat op borgtog van R1 500. Aanklagte teen Nwuafor se vrou is teruggetrek.

Lees alle vorige berigte oor Anthony Nwuafor op Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

charmaine ·

wil graag weet is al die Parlementslede almal onder 65? Waarom kan ons nie in Suid-Afrika werk tot jy wil nie! My man en so baie ander mans en vroues se verstand is nog so helder en is nog gesond om te kan werk! nNou verplig die regering ons om op Pensioen te gaan of jy nou wil of nie jy moet!! Voel dis sleg vir die ekonomie en hulle kan nog baie werd wees vir die samelewing! y wie kan mens die vraag vra en is dit die moeite werk om te vra? baie dankie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.