Staat: ‘Oscar Pistorius is skuldig aan moord’

Oscar Pistorius Vrydag in die hof. Foto: Herman Verwey/Media24/Pool

Oscar Pistorius Vrydag in die hof. Foto: Herman Verwey/Media24/Pool

Oscar Pistorius is skuldig aan die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp, het die staat Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria aangevoer.

“Hy het geweet dit is ‘n mens wat in die badkamer was. Sy bedoeling was om ‘n mens dood te maak,” het adv. Gerrie Nel, die staatsaanklaer, aangevoer.

“As Pistorius skote in die badkamer afgevuur het, wetend dat daar ‘n mens daarbinne was is hy skuldig aan moord. As iemand skiet om dood te skiet dan moet daar gevolge wees.”

Nel sê die feit dat Pistorius aangevoer het dat hy op 14 Februarie verlede jaar ‘n inbreker in sy huis in Pretoria wou doodskiet, verander nie die feit dat dit moord was nie.

Adv. Barry Roux, vir Pistorius, het intussen aangevoer dat dit nie vreemd was dat Reeva Steenkamp in die middel van die nag wou badkamer toe gaan nie of dat sy haar foon saamgevat het nie.

Roux sê Steenkamp het waarskynlik gehoor hoe Pistorius vir die inbreker geskree het. “Sy het opgestaan en die badkamerdeur gesluit en net stil daar bly sit.”

Roux beweer Steenkamp het waarskynlik veilig gevoel nadat sy die deur gesluit het.

“Indien hy gedreig het om haar te skiet sou sy waarskynlik nie reg agter die deur gestaan het nie,” het Roux ter verdediging van sy kliënt gesê.

Die saak is tot 11 September uitgestel wanneer regter Thokozile Masipa waarskynlik uitspraak sal lewer.

Pistorius staan tereg op ʼn aanklag van moord nadat hy Steenkamp op 14 Februarie 2013 by sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. Hy staan ook tereg op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Meri Evert ·

Hy is skuldig sonder twyfel, hoe skiet jy net op iemand sonder om te weet wie agter die deur staan. En wat sou n inbreker in sy toilet soek glad nie sy toilet papier. Hy lieg hy glo hom self.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.