Staat reg om Senzo se moordenaars te verhoor

Senzo Meyiwa. (Foto: soccerladuma.co.za)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se hoofaanklaer het gesê hulle is gereed om met die verhoor van die vermeende moordenaars van die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa te begin.

Die verhoor van die vyf mans, SifikuhleNkani Ntuli Sifiso, Muzikawukhulelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube en Mthokoziseni Maphisa, begin eindelik Vrydag nadat dit twee weke gelede uitgestel is. Die saak sloer al vir meer as ses jaar.

Meyiwa is op 26 Oktober 2014 by sy vriendin, die sangeres Kelly Khumalo, se ma se huis in Vosloorus doodgeskiet.

Regter Tshifhiwa Maumela het met die verdagtes se vorige verskyning (11 April) in die Pretoriase hooggeregshof dit duidelik gestel dat dit die laaste keer is dat hy aansoeke om uitstel in dié saak sal oorweeg.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NCG), is die saak aanvanklik op 27 Oktober 2020 by die landdroshof in Boksburg onder die Gautengse plaaslike afdeling op die hofrol geplaas. ’n Besluit is egter deur die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), adv. Shamila Batohi, en haar bestuur geneem om die saak na die Pretoriase hooggeregshof oor te dra. Dit is ten einde enige persepsies te weerstaan wat aan die staat toegeskryf kan word indien die saak in sy oorspronklike jurisdiksie bly.

Die saak het sedertdien wind van voor gekry.

“Tydens die voorverhoorkonferensie op 25 Oktober 2021 het die staat hom daartoe verbind om enkele weke voor die aanvang van die verhoor die verdediging te voorsien van verklarings van getuies wat om veiligheidsredes van die lyste weggelaat is. Hierdie getuies sou in die getuiebeskermingsprogram geplaas gewees het,” sê Mahanjana.

“Die verklarings is op 28 Maart vanjaar per e-pos aan die verdedigingsprokureurs gestuur en harde kopieë is op 30 Maart deur die hoofaanklaer aan die verdedigingsprokureurs in Durban afgelewer, soos ooreengekom tydens die voorverhoorkonferensie.”

Die verhoor was veronderstel om op 17 Maart te begin, maar vier van die beskuldigdes het ’n nuwe regsverteenwoordiger aangestel om hulle te verteenwoordig, en daarom vir uitstel gevra. Die regter het die regsverteenwoordiger gewaarsku dat hy geen verdere uitstel sal toelaat nie, daarom moet hy seker maak dat hy gereed is om op 11 April met die verhoor voort te gaan.

Tydens die hofverskyning op 11 April het adv. Zandile Mshololo, regsverteenwoordiger van Sifiso, aangevoer het dat sy verdere besonderhede van die staat af benodig en met verdedigingsgetuies moet konsulteer sodat sy vir die verhoor kan voorberei.

Die verhoor is toe uitgestel om Sifiso die geleentheid te bied om met sy regsverteenwoordiger te konsulteer.

“Die NVG het sedert 17 Maart aangedui dat hy gereed is om met die verhoor voort te gaan. As die NVG doen ons alles in ons vermoë om te verseker dat hierdie saak afgehandel word. Ons hoop ook dat daar geen verdere uitstel sal wees nie. Ons verstaan die frustrasies van die familie en hul behoefte aan sluiting, wat slegs bereik kan word wanneer geregtigheid geskied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
miche

Dit sal interessant wees om te sien wat my mede-Maroela lesers se mening hieroor is. Ons almal bespiegel al lank oor wie éintlik verantwoordelik is en agter die moord sit. Baie tragies. En ‘n skande dat die saak so lank sloer.

SjN

Van uitstel kom afstel.