Staat sê dít is nie berou nie

Gerhard Jansen van Vuuren in die hooggeregshof in Johannesburg (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

“Dít wat hy gister getoon het, was nie berou nie.”

Só het adv. Rolene Barnard Donderdag in die hooggeregshof in Johannesburg tydens die staat se slotbetoë in Gerhard Jansen van Vuuren se voorvonnisverhoor aangevoer.

Jansen van Vuuren (41) het Woensdag, tot die hof se verbasing, die getuienisbank ingeneem en getuig dat hy berou het dat hy Andrea Venter (25) vermoor het.

Hy het tydens sy getuienis Venter se familie in die hof om verskoning gevra dat hy hul geliefde kind en suster 11 jaar gelede vermoor het.

Barnard meen egter dit was bloot vir die skyn. “Om berou te kan toon, moet die skuldige verstaan wat hy of sy gedoen het. En hy doen dit nie,” voer Barnard aan.

Jansen van Vuuren se regsverteenwoordiger, Francois Joubert, sê weer op sy beurt sy kliënt is rehabiliteerbaar en het oor die jare verander. “Hy was nie homself ten tyde van die moord óf daarna nie,” sê Joubert.

Barnard het ook gesê dit sal in die belang van die gemeenskap wees indien Jansen van Vuuren vir lank agter tralies gebêre word, aangesien die misdaad as vrouemoord en geslagsgebaseerde geweld – ’n globale pandemie – beskou kan word.

Barnard het aangevoer die verswarende omstandighede weeg veel meer as die versagtende faktore en het regter Ian Cox gevra om 29 jaar direkte gevangenisstraf op te lê. Sy het ook gevra dat Jansen van Vuuren eers ná 80% van die vonnis voltooi is, aansoek om parool mag doen.

Joubert het egter gestry en gesê dit is ’n onmenslike vonnis vir ’n moord wat volgens hom nie beplan is nie. “Dit beteken my kliënt sal eers 65 jaar oud wees wanneer hy uit die tronk kom. Sy lewe sal dan verwoes wees.

“Dit het op die ingewing van die oomblik gebeur, waar emosies die oorhand gekry het,” voer Joubert aan.

“Soos sy familie aan Johanna Carina Wolmarans, ’n maatskaplike werker, gesê het, was my kliënt nie aggressief van aard nie. Sy gebruik van anaboliese steroïede het sy gemoed beïnvloed en sy aggressie aangewakker.”

Joubert glo waarna ook al Jansen van Vuuren en die oorledene die aand voor die moord op die skootrekenaar in haar woonstel in die Sibaya Sands-sekerheidskompleks in Randburg gekyk het, het tot die voorval bygedra. Die inhoud van die skootrekenaar is ongelukkig nooit by die hof ingedien nie.

Dries Venter treur steeds oor sy geliefde dogter Andrea (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Jansen van Vuuren hou boonop vol dat hy nie die besonderhede van die voorval kan onthou nie.

Die skootrekenaar is ná Andrea se dood oop op haar bed in haar woonstel gevind. Dit is by hierdie kompleks waar Jansen van Vuuren vir Andrea op 2 Mei 2011 met ’n mes aangerand en haar keel oopgesny het. Hy het toe sy eie keel met die mes oopgesny.

Barnard het ook die grusaamheid van die moord beklemtoon.

“Die foto’s en bewyse spreek vanself. Die oorledene se dood was brutaal. Die kneusplekke oor haar liggaam dui daarop dat sy om haar lewe geveg het. Sy moes die laaste minute van haar lewe in vrees geleef het,” sê Barnard.

Barnard sê die moordtoneel was só grusaam dat dit van die polisiebeamptes getraumatiseer het.

Volgens die staat het Jansen van Vuuren ook nie verantwoordelikheid vir sy dade geneem nie, deurdat hy in Mei 2013, vier dae voor die moordverhoor sou begin, na Brasilië gevlug het.

“Indien hy werklik berou getoon het, waarom het hy nie teruggekeer na Suid-Afrika nie? Waarom het hy nie na Andrea se familie uitgereik nie? As Andrea die liefde van sy lewe was, soos hy beweer, en berou oor haar dood getoon het, waarom het hy skaars ’n jaar ná haar dood ’n nuwe verhouding aangeknoop?” voer Barnard aan.

Jansen van Vuuren het Woensdag getuig hoe sy lewe ná Andrea se moord verwoes is, maar Barnard sê in teenstelling hiermee het hy vir homself ’n nuwe lewe – met ’n nuwe werk, lewensmaat en kind – in Brasilië gebou.

Barnard voer verder aan dat dit nie ter versagting van die vonnis kan wees om aan te voer dat Jansen van Vuuren uit ’n gebroke ouerhuis kom nie.

“Dit is nie ’n verskoning om iemand dood te maak nie.”

Jansen van Vuuren sal na verwagting op 5 Augustus gevonnis word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Francois Joubert, wat onmenslik is is dat Andrea vermoor is. Sy is iemand se dogter en iemand se sussie. Sy is weggeruk op so ‘n wrede wyse aan die hand van hierdie moordenaar. Hy het nie net besluit om haar lewe te neem nie maar het indirek haar pa en broer se lewe ook geneem. Kom ons praat nie eens oor haar ma wat haar dood getreur het nie. Hy verdien GEEN simpatie nie en ek sou sy sel se sleutel wegsmyt indien dit moontlik was.

Waarnemer ·

Net 29 jaar?Wat van tot3 hy dood gaan….al is dit eers oor 40 jaar…..sluit hom toe sommer saam met sy prokureur en verloor die sleutel….

Rooikopheks ·

Dan is hy maar ń swak akteur, hy wys geen berou of emosie nie.

miche ·

Sy vertoning en voorgee was so swak hy verdien nie ‘n Oscar -toekenning nie. Sluit toe!

Peter ·

Vir 11 jaar het hy die high life gelewe, katjie van die baan gewees. Lafaard, skuim van die aarde, verdien niks.

Janine ·

Sy was nog so bitter jonk! Het haar hele lewe voor haar gehad. As ‘n ma van 3 dogters, hoop ek nie een van hulle beland OOIT in so verhouding nie. Innige simpatie aan hierdie kind se familie en vriende. :(

piet ·

Ja hy moet lank sit. Ek wonder egter oor hierdie beheptheid met die geslagsgeweld-veldtog in die opsig dat dit nou blykbaar erger is as ‘n vrou vermoor word as wanneer ‘n man vermoor word. Ek weet nie, maar net my eie opinie.

Groen-oog ·

Shame diiiis nou hartseer maar ekt n wenk…. aangesien hy nou weet sy klient gaan 67 wees as hy uitkom het hy genoeg tyd om of n kierie of loopraam aan te skaf vir sy oudag.

Fiefie ·

“Dit beteken my kliënt sal eers 65 jaar oud wees wanneer hy uit die tronk kom. Sy lewe sal dan verwoes wees.” – So dis okay dat die slagoffer en haar familie se lewe verwoes is, maar die moordenaar se lewe mag nie verwoes word nie????

Groen-oog ·

Hoe verdedig jy n Moordenaar?
Hoe slaap daardie mense snags?
En baie verteenwoordigers het sekerlik tog kinders ….

Elize ·

Manipuleerder en psigopaat. Die samelewing het hom nie nodig nie

Niklaas ·

Laat ons hoop geregtigheid sal seëvier en hy kry die mees gepaste lengte tronkstraf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.