‘Staat se regstelplan: miljoene Suid-Afrikaners moet skuif’

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn verslag bekend gestel wat wys dat daar 1,1 miljoen bruin Suid-Afrikaners te veel in die Wes-Kaap is indien die staat sy regstellendeaksiebeleid van verteenwoordiging toepas.

Dié 1,1 miljoen verteenwoordig 80% van die ekonomies aktiewe bruin bevolking in die Wes-Kaap. Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sal hierdie bruin Suid-Afrikaners grootliks vervang moet word deur swart Suid-Afrikaners afkomstig uit alle provinsies behalwe uit die Noord-Kaap. Altesame 65% van die bruin Suid-Afrikaanse bevolking in die Noord-Kaap sal die provinsie moet verlaat en 70% van Indiër-Suid-Afrikaners sal uit KwaZulu-Natal moet trek.

Hierdie verslag is vrygestel op die vooraand van die omstrede regstellendeaksiesaak waarin die departement van korrektiewe dienste (DKD) vra dat die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap toegepas word.

“Indien die staat sy omstrede regstellendeaksieprogram wil toepas, sal dit lei tot grootskaalse sosiale manipulasie. Die staat argumenteer dat die nasionale rassedemografie in alle provinsies toegepas moet word. Die gevolge van die staat se planne is so absurd dat ʼn mens bykans nie kan glo dat die DKD dit in die hof wil verdedig nie. Die Solidariteit-verslag se syfers wys dit is prakties en polities onmoontlik om die staat se rasse-ideologie te implementeer,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.

Die verslag wys ook verder daarop dat daar ongeveer 190 000 wit mense te veel in die Wes-Kaap en 308 000 te veel in Gauteng is. Daar is sowat 300 000 swart Afrikane te veel in Limpopo en 260 000 te veel in KwaZulu-Natal. Om die staat se doelwit van gelyke rasseverteenwoordiging in al die provinsies te bereik moet meer as drie miljoen Suid-Afrikaners geskuif word. Ironies genoeg is swart Afrikane die groep waarvan die grootste getal, naamlik 1,3 miljoen, moet trek. Bruin Suid-Afrikaners met ʼn totaal van 1,2 miljoen is die tweede grootste groep wat sal moet trek.

“Die staat het dus werklik die bedoeling dat mense moet trek na provinsies waar hulle onderverteenwoordig is. Hulle voer dié argument formeel in die hof aan. Dit is dus nie net populistiese uitsprake nie. Mense het dus nie regte waar hulle bly nie, maar hulle moet agter hul regte aantrek,” het Hermann gesê.

Solidariteit het weer ’n oproep tot die DKD gerig om nie met hul appèl voort te gaan nie. Volgens Hermann is die appèl nóg uit ’n regsoogpunt nóg uit ’n morele oogpunt verdedigbaar.

Solidariteit het vroeër die dag ’n petisie, wat deur meer as 15 000 Wes-Kapenaars ondersteun is, aan die DKD oorhandig. In die petisie word gevra dat die DKD sy appèl terugtrek. Die DKD appelleer teen ʼn vorige beslissing van die arbeidshof in Kaapstad wat bevind het dit is onwettig om die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap toe te pas.

Die arbeidsappèlhofsaak word op 19 Februarie 2015 in Kaapstad aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Bruno Stef ·

My liewe magtig wie is die narre wat nou so n onuitvoerbare saak hof toe vat tensy dit deur marxistiese raadgewers voorgestel is.Dit kan net in n kommunistiese regime gebeur dat mense se regte so misken word nie eers in die SG apartheidsjare sou sulke gebeure plaasgevind het nie. n Landswye verskuiwings klink vir my maar taamlik ideologies van n verrotte kommunistiese brein.

Rikku ·

En wie gaan betaal vir die onrealistiese Leegkop Droom ? Die Belasting betalers natuurlik !
My gom, ons woon in ‘n Gekke Paradys, met Narre op die troon.
Weet nie of ek moet lag of huil nie.

hendrik ·

nee rerig kerels waar kom julle nou vandaan betaal julle mense julle nie genoeg om die regte ding te doen nie

Ivan ·

Soe! ! ! ek is nie n Ou toppie nie, maar ook nie meer n kind nie, en in my hele lewe het ek nog nooit iets so absurd gehoor nie. Ek wonder net hoe gaan hulle besluit wie moet skuif en wie moet bly, en gaan hulle vir die wat geskuif word werk en blyplek gee. Eish ! ! !

Pierre Celliers ·

Ek slaan my hande saam, kannie glo wat ek hier lees nie!

Pierre Celliers ·

Hierdie is rassisme in sy grofste vorm. Skielik is velkleur
‘n kwessie vir die owerhede! Nou hoe nou????!!!!

Piet ·

Dis nou “engineering” op groot skaal, easy peasy man, wat die cANCer wil he moet die cANCcer kry man.

Charl ·

Ai, klink vir my dan nes die gedwonge verskuiwings van die Apartheid era. Kry n paar ou Nat staatsdienslede uit die ouetehuise, hulle weet hoe om die goed te reel………. ;)

Tharina ·

sjoe, hierdie land is in die gemors, maar dit is omdat mense met geen skoolopleiding dit regeer, wat kan mens anders verwag. wonder wat sê mnr De Klerk van hierdie sirkus en waar is die buiteland nou? Hulle het hulle bekke vol gehad tot dit apartheidsjare was en nou? Waar is die sanksies nou? ??????

Eish! ·

Wat beteken DEMOKRATIES?
Rerig ek wil nie bly waar ek nie wil bly nie. Hoekom mense dwing om iets te doen? Kan hul nie sien hoe die verskillende rasse mekaar begin moor nie? Ek wil nie soontoe trek nie en ek weet hul wil nie hiernatoe nie. Nou vra ek wat te JOOS?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.