Staat sleep voete oor kooptransaksie met swart huurderboer

boer-boere-trekker-plaas-boerdery-landbou

(Argieffoto: Spencer Pugh/Unsplash.com)

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het sedert die hof hom beveel het om ʼn plaas aan ʼn suksesvolle swart huurderboer te verkoop, nog geen verdere kontak met hom gemaak nie.

Dít volgens die DA, wat nou sê die departement se versuim om met David Rakgase (78) en sy regspan in verbinding te tree, kom neer op minagting van die hof.

Maroela Media het vroeër berig oor die omstredenheid wat verband hou met ʼn plaas van meer as 3 000 ha waarop Rakgase al dekades lank boer. Hy huur die grond by die staat en sukkel al jare lank om dit te koop.

Die Pretoriase hooggeregshof het in September vanjaar ʼn besluit van die adjunk-direkteur-generaal van die departement om die verkoop van die plaas af te keur, tersyde gestel. Die hof het beveel die regering moet die plaas binne 30 dae aan Rakgase verkoop volgens die bepalings en voorwaardes en die bedrag wat van toepassing sou wees as die plaas in 2003 aan hom verkoop sou wees.

Dié spertyd het reeds verstryk.

Die departement het in 2003 Rakgase se aanbod om die plaas te koop aanvaar ná die departement hom die opsie gegee het om die plaas te koop as ʼn begunstigde van die program Grond en Herverspreiding vir Landbou-ontwikkeling (GHLOP) wat intussen opgeskort is. Dié program moes voorheen benadeelde burgers help om grond en landbouwerktuie spesifiek vir landboudoeleindes aan te skaf.

Rakgase het die hof genader nadat dit aan die lig gekom het dat die regering nie die grond sal verkoop nie, maar hom eerder ʼn verdere 30-jaar-huurooreenkoms aangebied het.

In ʼn waterskeidingsaak het die hooggeregshof egter in sy guns beslis.

“Ons meen die departement was geensins van voorneme om die plaas aan mnr. Rakgase te verkoop nie en probeer boonop nou die proses, ondanks die hofbevel, oënskynlik verder vertraag,” het Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, gesê.

“Die DA betwyfel dit geensins dat die departement die skuld op die burokrasie gaan pak in ʼn poging om mnr. Rakgase se strewe na geregtigheid verder in die wiele te ry nie.”

Steyn sê deur sy voete met die saak te sleep, bewys die ANC-regering weer dat hy nie ontluikende swart boere se reg om hul eie grond te besit, ondersteun nie. “Die ANC se plan is om die enigste voogde van grond te wees deur dié boere as lewenslange huurderboere onder sy beheer te hou.”

Sy sê dit het ook geblyk uit die departement se aanvanklike pogings om teen die hooggeregshofuitspraak te appelleer. Die departement het later aangedui hy gaan nié appelleer nie.

“Die DA doen ʼn beroep op die departement om die regte ding te doen en die proses te bespoedig ten einde aan ʼn verdienstelike boer die kans te gee om sy nalatenskap aan verdere geslagte te bou.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die departement gerig oor vordering met die onderhandeling en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann cb ·

Kom ons hoop die Staat sleep voete met Artikel 25 van die Grondwet. Ek kry net jammer vir eerlike individue wat werklik wil boer!

marous ·

Gee die plaas en die titelakte vir hom …. verniet . Dan is daar geen kans dat daar vier duisend ander , stukkies kan koop by ‘n korrupte gulsige amptenaar nie .

Riaan ·

Weereens wys die da hulle ware klere. Groot bohaai oor een swart boer maar wat van duisende wit boere wat ook hulp en ondersteuning nodig het?
Da is so ras gedrewe dit is net nie waar nie!

Stebastiaan ·

Hierdie is mos nou die bewys dat alle eiendom aan die staat gaan behoort, dis hoekom die staat nie wil verkoop nie. Speel vir tyd tot wet in plek is.

DOM ·

Ek is nou dom. Die staat wil plase aan agtergeblewenes gee omplase te vat sonder vergoeding. Hier het hulle n vrywillige koper waaruit hulle geld kan jag. Dis `n man wie die regering graag met n plaas wil sien, en lyk of hy wel kan boer, kan dit nou nie KOOP nie. Hoe dan nou.
Lyk of die regering nie hul fout wat deur die hof uitgewys is wil erken nie. Hoeveel standaarde het die regering van die dag. Wil hulle graag die plaas aan n man gee wat niks van boerdery wet nie sodat die land vinniger lyk soos Zimbabwe.
Die regering dink as jy n plaas het, 5 skapies en een mielie voor jou huis se agterdeur het, jy nou n boer is. Die ANC sal nooit maar nooit wakker skrik nie.

Feite ·

Die ANC staat gaan alle landbou grond dmv OSV nasionaliseer, dit is tog voor die hand liggend. Nie die DA, VF of enige organisasie gaan die ANC stop nie, want kyk hoe maklik het die ANC die staat gekaap. Die feit dat die ANC steeds die staatskaping status quo handhaaf en opposisiepartye niks daaromtrent kan doen nie, beteken net een ding en dit is dat die ANC nie meer deur die opposisie gestuit kan word nie. Die opposisie is bloot gyselaars wat soos toeskouers staan en toekyk en met ongeloof reageer elke keer wat die ANC onherstelbare skade aanrig!

Jan ·

D.A Doen niks vir ons boere nie.En doen ook niks oor al die moord in die land nie.

Jannie van Niekerk ·

Mnr Rakgase is nie ‘n ANC ondersteuner nie daarom sal hulle hom nie help nie.

Eugene ·

Die ANC sê een ding en doen iets Anders soos ‘n seemonster met sewe koppe. Seker geen agterhand geld in die transaksie vir hulle nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.