Staat soek lewenslank in hoëprofiel-bendesaak

Die Wes-Kaapse hooggeregshof.

Die staat het versoek dat twee bendelede wat skuldig bevind is aan ʼn moord in 2016 tot lewenslange tronkstraf gevonnis word.

Regter Thandazwa Ndita het Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad vertoë aangehoor in die voorvonnisverrigtinge van die twee vermeende bendelede, Mogamad Faiz Hendricks (50) en Moegamat Naeim Benjamin (41).

Hendricks, die vermeende bendeleier van die Clever Kids (CK), en Benjamin, lid van die Dixie Boys-bende, is vroeër die maand skuldig bevind aan die moord op Angelo Davids (35) op 20 Julie 2016 in Pecosweg in Manenberg op die Kaapse Vlakte.

“Daar bestaan geen regverdiging in watter geval ook al om af te sien van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslank vir die moord op Davids nie,” het adv. Greg Wolmarans, die staatsaanklaer, aangevoer.

Wolmarans het gesê die staat hou vol dat gewelddadige misdade, veral weens bendeverwante motiewe, ʼn nasionale plaag geword het en dat die hof geregtelike kennisgewing aan hierdie fenomeen moet gee.

Die hof moet ʼn duidelike boodskap aan die beskuldigdes en ander misdadigers uitstuur, volgens Wolmarans. Dit behels dat hierdie misdadige gedrag nie in ons samelewing geduld sal word nie en dat soortgelyke misdade ʼn swaar straf sal ontvang.

Wolmarans meen daar bestaan geen regverdiging in watter geval ook al om af te sien van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslank vir die moord op Davids nie. Hy hou vol dat die moord op Davids voorafbeplan en uit weerwraak gepleeg is.

Die motief vir die moord op Davids was glo weens konflik tussen die bendegroepe CK en Hard Livings (HL) en Davids se dood moes glo ʼn boodskap aan ander bendes oordra. In sterk teenstelling hiermee voer die beskuldigdes se regsverteenwoordigers, adv. Russell Cloete en Joe Webber, aan dat die moord nie weens wraak uitgevoer en ook nie voorafbeplan is nie.

Davids, ʼn vermeende HL-bendelid, is op 20 Julie 2016 deur nagenoeg ses vermeende CK-bendelede helder oordag in Pecosweg in Manenberg aangeval en doodgeslaan. Hendricks was ten tyde van die moord op parool ná hy 14 jaar van sy 27 jaar lange tronkstrafvonnis uitgedien het.

Roegshanda Pascoe is een van die min inwoners wat bereid is om teen bendes te getuig. Foto: Verskaf.

Craig Brink, die vermoorde se broer en voormalige HL-bendelid, asook Roegshanda Pascoe, ʼn inwoner van Manenberg en aktivis teen bendeverwante aktiwiteite, het as staatsgetuies in die moordsaak opgetree.

Een van Hendricks se dogters, Izah Smith (28), het ná afloop van die hofverrigtinge aan Maroela Media gesê: “Hy is nie skuldig nie, sy [Pascoe] plaas hom op die toneel waar hy nie was nie.”

Pascoe wat tans saam met haar familie in ʼn plek van veiligheid bly, het gesê hulle wil vorentoe beweeg, maar “hoe langer die saak aanhou, hoe meer dreigemente is daar”. Pascoe is een van min inwoners wat bereid is om teen bendes te getuig.

Sy het ook die staat se veiligheidsprogram van die hand gewys en is vandag afhanklik van ʼn private maatskappy se ondersteuning om te kan oorleef. “Angelo is dood, maar hy [Hendricks] het ʼn kans om dinge reg te stel.”

Vredesgesprekke of ʼn moontlike bloedbad?

Intussen is daar gerugte van vredesgesprekke tussen die Clever Kids-, Hard Livings- en Dixies-bendes tussen The Downs en Turfhallstraat in Manenberg.

Daar heers egter ook onsekerheid oor ʼn moontlike “bloedbad” onder CK- en HL-bendegroepe wat kan volg ná die vonnisoplegging van Hendricks en Benjamin.

ʼn Bron wat nou met die Western Cape Gangwatch saamwerk en om veiligheidsredes anoniem wil bly, het gesê vredesgesprekke tussen die bendes het na bewering vroeër by die Grand West Casino in Kaapstad plaasgevind, maar word deur die CK-bende ondermyn.

Die bron waarsku egter dat dié gerugte inwoners minder bedag en sagte teikens vir bendeverwante misdade kan maak.

Intussen het lt.kol. Andrè Traut, ʼn polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, gesê hulle is nie bewus van enige gerugte oor ʼn moontlike bloedbad nie, maar die polisie is wel operasioneel en altyd op ʼn gereedheidsgrondslag vir enige gebeure.

Hendricks en Benjamin se vonnisoplegging sal na verwagting op 15 Oktober plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Markus ·

Wat is lewenslank in suid afrika 15 jaar in tronke wat 150% oorbevolk is en na n paar jaar is jy uit om weer amok te maak,ek weet nie hoekom noem hulle dit lewenslank nie?

Renee ·

Verbasend lewenslank maar plaasmoorde skuldiges hoor jy niks van nie. Kan sien wies in beheer definitief nie GOD nie

Christa ·

Lewenslank…… Liewer vir solank hul lewe. Hulle Kan in tronk asem uitblaas

Hanlie ·

Lewenslank beteken niks. Die ou is dan op parool vrygelaat na 14 jaar nadat hy eintlik tot 27 jaar gevonnis is. En wragtag daar doen hy dit weer. Hy sal nooit ooit gerehabiliteer kan word nie. Die regstelsel is korrup.

Renee ·

Dit is tyd dat julius malema so gehanteer word vir sy dood spraak teen wittes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.