Staat spook nog met ondersoek in Stellenbosch-moordsaak

Johan “Mossie” Serdyn het Vrydag glo ’n vermeende betreder op sy sakeperseel doodgeskiet. (Foto: Facebook)

ʼn Bekende sakeman en kranige kanovaarder van Stellenbosch sal in Junie weer in die landdroshof op dié dorp verskyn nadat hy byna ʼn jaar gelede aangekla is van moord. Die staat het verlede jaar versoek dat die saak uitgestel word, aangesien hulle nog nie die ondersoek voltooi het nie.

Intussen probeer Johan “Mossie” Serdyn (70) met sy lewe aangaan.

Serdyn is van moord aangekla nadat hy in Julie verlede jaar glo ʼn vermeende betreder by sy sakeperseel in Plankenbrug doodgeskiet het. Hy is kort daarna op borgtog vrygelaat.

Serdyn se prokureur, William Fullard, het Maandag aan Maroela Media gesê dat Serdyn weer op 27 Junie in die hof sal verskyn.

“Sy saak is vroeër op versoek van die staat vir verdere ondersoek uitgestel, so ons hoop die polisieondersoek sal met die volgende verskyning afgehandel wees,” sê Fullard. Hy sê dit is vir hulle verbasend dat die ondersoek so lank neem, hoewel dit nie heeltemal ongewoon is nie.

“Indien die ondersoek wel voltooi is, kan ons ʼn afskrif van die dossier kry en begin voorberei vir ons verweer. Anders sal dit seker net weer uitgestel word.”

Serdyn is ʼn bekende kanovaarder wat ook al verskeie kere die Comrades voltooi het en probeer intussen so normaal moontlik met sy lewe voortgaan.

“Op die ou end moet ons maar net geduldig wees,” sê Fullard.

Sakepersele in Plankenbrug loop al vir ʼn geruime tyd onder misdaad deur en Serdyn was al vantevore ʼn slagoffer van misdaad in dié omgewing.

ʼn Kennis van Serdyn het verlede jaar op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê dat sy baie verbaas was om te hoor van die aanklagte teen hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marius ·

Jy mag jouself nie meer beskerm as die moordenaars en plunderaars op jou toeslaan nie. Hulle het meer regte as jy.

piet ·

Die enigste geval waar jy ‘n inbreker kan doodskiet, is wanneer jou lewe in onmiddellike gevaar is. Anders gaan jy waarskynlik ‘n probleempie he.

Frank John ·

Lyk my die skelms is staat werkers en het meer reg as gewone mense wat hulself verdedig. As die skelm hom doodgeskiet het was hy glad nie aangekla nie.

Marius ·

Die man beskerm homself en word aangekla van moord omdat hy n skelm uithaal. Ander mense ry met Porches in taxis vas waar daar ook lewensverlies was en kom niks oor nie .

Hoe verstaan ek dit nou???

JohanR ·

Nie lank nie Marius en die hoe vlagpaal en vlag sou ons ‘n reenboog nasie gemaak het. Sou ek nou rerig van Kaapstad, Durban of Pofadder ry om na ‘n paal en ‘n vlag te gaan kyk!

Frederik C ·

Hy gaan nou seker van twee moorde aangekla word. Die een wat hy in Julie doodgeskiet het en die een wat hy Vrydag geklits het.

Marie ·

Die berig lyk deurmekaar. Ek verstaan ook dat hy twee keer iemand geskiet het. Verlede Vrydag en ‘n jaar gelede…

Kobus ·

Die berig is verwarrend. Die onderskrif by die foto verwys na “Vrydag”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.