‘Staat van beskuldiging’ nóg nader vir Motata

Die foto van Nkola Motata is geneem kort nadat hy in Januarie 2007 onder die invloed van alkohol bestuur het en deur die tuinmuur van ‘n huis in Sandton gebars het.

Afgetrede regter Nkola Motata is nog ʼn stap nader daaraan om die eerste Suid-Afrikaanse regter te word om in ʼn staat van beskuldiging geplaas te word.

Die kantoor van die speaker van die Nasionale Vergadering het bevestig dat hy korrespondensie van hoofregter Raymond Zondo ontvang het met betrekking tot ʼn bevinding van growwe wangedrag teen regter Motata.

In die korrespondensie stel hoofregter Zondo die speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, van die geregtelike gedragstribunaal se bepaling in kennis dat regter Motata skuldig bevind is aan growwe wangedrag in ooreenstemming met artikel 177(1)(a) van die Grondwet. Die weg is nou gebaan vir die Nasionale Vergadering om te besluit of Motata in ʼn staat van beskuldiging geplaas moet word.

Zondo se korrespondensie sal na die komitee vir justisie en korrektiewe dienste van die Nasionale Vergadering verwys word, waar dit aan oorweging onderhewig sal wees. “Die komitee sal die inhoud van die korrespondensie, insluitend relevante ondersteunende materiaal, assesseer om aanbevelings vir die oorweging van die Nasionale Vergadering te formuleer.”

Die appèlhof het in Junie beslis dat die Regterlike Dienskommissie (RDK) verkeerd was toe hy destyds bevind het dat Motata slegs skuldig is aan wangedrag – en nie growwe wangedrag nie – toe hy 15 jaar gelede onder die invloed van drank in ʼn muur vasgery het.

Die hof het Donderdag in ʼn meerderheidsuitspraak bevind die RDK het die uitwerking wat Motata se rassistiese opmerkings – wat hy destyds op die ongelukstoneel gemaak het – op mense se vertroue in die regbank gehad het, heeltemal verontagsaam.

Motata is ná die voorval in 2007 strafregtelik vervolg en in 2009 in die Johannesburgse hooggeregshof aan dronkbestuur skuldig bevind.

Die RDK het egter nie die Geregtelike Gedragstribunaal se destydse aanbeveling gevolg en hom in ʼn staat van beskuldiging geplaas nie. Pleks daarvan is hy ʼn boete van R1,5 miljoen opgelê. Motata het sedertdien met volle voordele afgetree.

Motata het in Januarie 2007 in ʼn muur vasgery toe hy onder die invloed van alkohol ʼn U-draai probeer maak het. Die eienaar van die eiendom het kort daarna op die toneel aangekom en ʼn video gemaak van die regter se dronk en rassistiese tirade.

Motata het deurgaans ontken dat hy dronk was en beweer dat hy op die toneel “uitgelok” is. Die bewering is egter later in sy verhoor voor die Johannesburgse hooggeregshof en sy verhoor voor die tribunaal verwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.