Staat vra swaar straf vir Bolandse reeksmoordenaar

hof, selle, misdaad, polisie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media).

Die staat vra dat Johan Williams, die Wellingtonse reeksverkragter en reeksmoordenaar wat op altesame 20 aanklagte, insluitend drie aanklagte van moord, vier aanklagte van verkragting, drie aanklagte van poging tot verkragting en ses aanklagte van ontvoering, skuldig bevind is, lank agter tralies sit.

Die staat sal die Wes-Kaapse hooggeregshof vra om die voorgeskrewe minimum vonnis op al die aanklagte waarop Williams skuldig bevind is op te lê.

Volgens Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sal die staat ook die hof vra om ʼn sterk boodskap te stuur wanneer hy Williams op al die aanklagte waaraan hy skuldig bevind is vonnis, en waar daar geen voorgeskrewe minimum vonnisse is nie.

Williams is skuldig bevind op drie aanklagte van moord, vier aanklagte van verkragting, drie aanklagte van poging tot verkragting, ses aanklagte van ontvoering, sowel as huisbraak met die doel om ʼn brand te stig, brandstigting, aanranding met die doel om ernstige liggaamlike leed te veroorsaak en versuim om aan ʼn beskermingsbevel te voldoen.

Hy is vrygespreek op een aanklag van verkragting nadat sy advokaat volgens art. 174 van die Strafproseswet aansoek gedoen het om ontslag op een van die aanklagte weens onvoldoende bewyse. Die liggaam van een van sy slagoffers het ontbind en die staat kon nie bewys dat die slagoffer seksueel aangerand is nie.

Vonnisverrigtinge sal op 4 Maart voortgesit word.

Williams se skrikbewind in die Wellingtonse gemeenskap het in 2012 begin. Hy het kwesbare vroue geteiken wat óf werksgeleenthede óf finansiële bystand gesoek het.

“Nadat hy hulle ontvoer het, het hy hulle fone gevat. Hy sou antwoord wanneer hul familielede bel en lieg deur te sê dat hulle in die stort, by die werk of onbeskikbaar, is.

“Hy sou selfs voorgee dat hy die slagoffer was en het die families van die slagoffers versoek om vir hom geld te stuur. Sommige families het dit selfs gedoen,” sê Ntabazalila.

Een van die slagoffers was sy meisie se ma wat op 16 Julie 2012 ontvoer is. Hy het dié vrou se liggaam eers sewe maande ná haar verdwyning by die Helpmekaarplaas uitgewys.

Hy het ook ʼn jong vrou van Kuilsrivier ontvoer, vir wie hy werk belowe het. Dit is nadat hy met haar familie bevriend geraak het, Kersmiddagete by hulle geëet en deur die familie aan haar toevertrou is toe sy hom vir ʼn werksgeleentheid gaan ontmoet het. Die slagoffer het hom selfs ‘Oom Johan’ genoem.

“Die jong vrou is later dood gevind met ʼn swart-en-wit-sokkie om haar nek. Sy het met haar gesig na onder gelê toe sy gevind is.”

Ntabazalila sê nog ʼn desperate jong vrou is ook ontvoer toe sy op ʼn werksgeleentheid-aanbod van Williams gereageer het.

“Haar liggaam is op 4 Julie 2018 met twee swart skoenveters om haar nek en ʼn tak in die knoop gevind. Sy is ook met haar gesig na onder gevind.”

Williams is ook skuldig bevind op drie aanklagte van ontvoering waarin hy sy meisie verskeie kere ontvoer en verkrag het. Hy het haar ook voor haar minderjarige seun verkrag.

Sy het later ʼn beskermingsbevel teen hom gekry en uitgetrek. Hy het egter na haar bly soek en selfs haar ouma se huis, dié van haar ma en haar ma se bure, aan die brand gesteek.

“Hy het gedreig om almal dood te maak as die voormalige meisie nie na hom terugkom nie,” sê Ntabazalila.

Senior staatsadvokaat Maria Marshall het tydens betoë die beskuldigde as ʼn gevaarlike man beskryf wat kwesbare en desperate vroue geteiken het.

“Hy het die families van die oorledenes laat glo dat hul familielede nog leef deur vir hulle leuens te vertel oor waar hulle is. Hy het homself ook vrygespreek van enigiets wat met hulle gebeur het en onskuldig op al die aanklagte gepleit.”

Die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, adv. Nicolette Bell, het haar skok oor die vlak van wreedheid wat die beskuldigde op die kwesbare en desperate vroue uitgeoefen het, te kenne gegee.

“Al wat hierdie desperate vroue in hom gesien het, was iemand wat hulle uit die situasie waarin hulle hulself bevind het, sou help.

“Hy het hul vertroue en die vertroue van hul families uitgebuit, hulle geskend en op die wreedste maniere vermoor.

“Ons sal die hof vra om die swaarste vonnis op te lê om te wys dat geslagsgebaseerde geweld onaanvaarbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

etienne ·

Oor 8 jaar van nou af lees ons weer in die nuus hoe hy moor en verkrag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.