Staat wag op DNS-uitslae ná polisiemanne se dood

Konst. Simon Ngakaemang Ntsekeletsa en sers. Mojalefa Horatius Molete se begrafnis (Augustus 2021) (Foto: SAPD/Twitter)

Vier mans, wat beskuldig word van die moord op twee polisiebeamptes in Mareetsane in Noordwes, se aansoek om borgtog is in die Itsoseng-streekhof afgekeur. Die saak is tot 1April 2022 uitgestel vir verdere ondersoek.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê die staat sal die provinsiale direkteur van openbare vervolging versoek om die saak na die hooggeregshof oor te plaas, weens die erns daarvan.

ʼn 16-jarige minderjarige, wat ook ʼn verdagte is, is in Oktober 2021 vrygelaat op borgtog van R1 000. Die staat het dit nie teengestaan nie, omdat hy in die sorg van ʼn voog oorgegee is.

“Volgens die polisie se verslag het die twee beamptes, konst. Simon Ngakaemang Ntsekeletsa (50) en sers. Mojalefa Horatius Molete (42), reageer op ʼn veediefstal-voorval in Mareetsane. Hulle het egter nie na die polisiestasie teruggekeer nie en is as vermis aangemeld.”

ʼn Soektog is van stapel gestuur en hul oorskot is op 27 Julie 2021 agter in hul uitgebrande amptelike voertuig gevind. “Die polisie se ondersoek is byna afgehandel, aangesien die staat nog slegs wag vir die DNS-uitslae.”

Maroela Media verneem van ‘n leser die voertuig is gevind met behulp van ‘n helikopter wat aan ‘n boer in die omgewing behoort.

Benjamin Jacobs (42), Jeremiah Mongale (26), Rapulana Keikantse (25), Matthews Modukane (20) en die 16-jarige seun staan tereg op aanklag van moord, opsetlike saakbeskadiging, roof met verswarende omstandighede, die besit van ʼn semi-outomatiese vuurwapen en ammunisie, ontvoering, die besit van ammunisie om ʼn misdaad te pleeg en dwarsboming van die gereg.

“Tydens hul inhegtenisneming het die polisie die oorledenes se vuurwapens, twee selfone en SIM-kaarte gevind wat verwoes en in ʼn puttoilet naby die huis van een van die beskuldiges gevind.”

Die vier mans bly in aanhouding tot die saak afgehandel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lillian ·

Hoekom het die polisiemanne nie “back up” gevra toe hul uitgeroep is na hierdie klagte nie?

Swerwer ·

‘n 16 jarige vrygelaat. In die lewe, dit is juis hulle wat opgesluit moet bly en kursusse moet kry om hul lewenswyse te probeer verander na positiwiteit. Wanneer is sy volgende slagoffer, is al wat mens in heirdie stadium kan vra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.