Staat wil dalk wegdoen met aannemingsfooie

Argieffoto: Pixabay

Die departement van maatskaplike ontwikkeling meen dat daar weggedoen moet word met fooie verbonde aan die aannemingsproses in Suid-Afrika “aangesien dit nie ʼn onderneming is nie, maar eerder gaan oor die beskerming van kinders”.

Volgens Lumka Oliphant, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling, plaas dié fooie die belange van kinders in gedrang omdat ander opsies, soos gesinshereniging en pleegsorg, nie behoorlik oorweeg word nie. “Dit verhoed gesinne wat ʼn werklike belangstelling het om aangenome kinders te koester omdat hulle nie die fooie kan bekostig nie.”

Oliphant verduidelik daar is tans 23 burgerlikesamelewing-organisasies wat deel vorm van die Nasionale Kindersorg en Beskermingsforum, waaronder die Nasionale Aanvaardingskoalisie van Suid-Afrika.

“Provinsiale konsultasies is gedurende Augustus en September verlede jaar gedoen. Dié gekonsolideerde insette in die wetsontwerp is van 29 Oktober tot 29 November 2018 geplaas terwyl die gepubliseerde wetsontwerp gedurende die Nasionale Kindersorg en Beskermingsforum bespreek is wat vanaf 20 tot 22 November verlede jaar gehou is.”

Die voorstel om weg te doen met aannemingsfooie is gedurende dié forum in diepte bespreek.

“Die Wysigingswet op Aanvaardingsklousules bepaal dat aanneming een van die aangewese kinderbeskermingsdienste is soos bepaal in artikel 105 (5) van die wet,” sê Oliphant.

“Die staat dra finansiële verantwoordelikheid vir alle aangewese kinderbeskermingsdienste wat aannemingsdienste insluit. Daar is dus geen rede waarom aannemingsdienste geïsoleer moet word en spesiale aandag kry nie,” sê sy.

Oliphant maak dit duidelik dat die departement nog altyd glo dat aanneming nié as ʼn onderneming beskou behoort te word nie, maar dat die fokus eerder moet wees om die beste belange van kinders te beskerm deur hulle by geskikte gesinne te plaas.

Hoewel daar baie openbare belang gedurende die konsultasies in die opheffing van die klousule vir aanvaarding was, soos voorgestel in die Wysigingswetsontwerp op die Kinderwet, moet in ag geneem word dat daar reeds in 2016 oorweeg is om veranderinge aan die wet aan te bring.

Sy voeg by dat die wegdoen met aannemingsfooie nié sal beteken dat maatskaplike werkers, prokureurs en sielkundiges verbied sal word om hul dienste gedurende aanneming te lewer nie.

Volgens die departement kan aangewese kinderbeskermingsorganisasies wat aannemingsdienste lewer, aansoek doen by die departement vir finansiering vir kinderbeskermingsdienste ingevolge artikel 105 (1) van die wet.

“[ʼn Tweede wysigingswet in 2016] het ʼn insluiting van maatskaplike werkers in die diens van die departement van maatskaplike ontwikkeling gemaak om aannemingsdienste te lewer en sodoende dié dienste toeganklik en gratis te maak vir alle gemeenskappe. Die departement het reeds 889 maatskaplike werkers opgelei,” sê Oliphant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Mariaan ·

Ek verstaan dit is nie ‘n onderneming nie, en dat kinders nie ” te koop” of “verkoop” kan word nie, maar as jy nie die fooi kan bekostig nie hoe gaan jy vir die kind kan sorg. Of kan ek dan ‘n kind aanneem en by die staat aansoek vir kindertoelae?

Beer ·

@Anon, vir van ons paartjies wat sukkel en nie kan nie, loop ons kostes nou al R47000.

Donderstorm ·

Die geld word seker gebruik ook om by te dra vir die ander ouerlose kinders om hul blyplek te gee en te versorg?

Nee asb nie ·

Ag asb tog ek wil nou nie snaaks wees nie maar hoe gaan jy vir’n kind kan sorg as jy nie eers die AANNEEMKOSTES kan betaal nie? Maak dit eerder makliker vir werkende ma’s om kinders aan te neem as wat julle die aanneemkostes wegvat. .. As jy nie die finansiele vermoe het om vir NOG “n kind te sorg nie, hoekom neem jy nog een aan? NIEMAND kan van liefde alleen leef nie. Wie betaal die kind se skoolgelde en skoolklere ?? Neewat dit klink vir my na ‘n maklike manier om kinderhuise ook toe te maak en die verantwoordelikheid op ander mense te plaas wat dit ook nie breed het nie.

Martin ·

Dit kos niks om natuurlik swanger te raak nie. Miskien net die ete. Dit kos egter baie om n kind groot te maak.

Anoniem ·

MJ, my ouers het nie my by die staat gekoop nie en jou punt is? Waar kom die skielike aanneem kostes vandaan? My ouers het nie 45 jaar terug aanneem kostes betaal nie. Beslis ook nie toelae ont ang of selfs aansoek daarvoor gedoen nie. Watse nonsens is dit nou?

Judge Dredd ·

Voordat kinders aangeneem kan word, word daar ook na die welfaard van die aansoekers gekyk om seker te maak dat hulle vir die kind behoorlik kan sorg. So As jy nie die aansoek fooie kan beskostig nie dan kwalifiseer jy al klaar nie.

Jozi ·

Ek stem 100% saam met bg kommentare. Het geen idee wat die anneemingsfooi is nie, maar as voornemende ouers dit nie eers kan bekostig nie, hoe op aarde gaan hulle vir die kinders kan sorg?
Ek vergelyk geensins ‘n kind met ‘n dier nie, maar betaal ons nie ook maar ‘n fooi by die DBV en soortgelyke instansies wanneer daar ‘n hond of kat aangeneem word nie?

Ilse ·

@Jozi, voor jy by die punt kom om ‘n kind aan te neem, is jy al deur baie ander berge en dale (lees kunsmatige inseminasies, invitros, surrogate ens), so jou fondse is reeds uitgedun. Teen die tyd dat jy besluit om ‘n kind aan te neem, is jy al baie desperaat en is dit gewoonlik jou laaste opsie.

Anoniem ·

Ek is aangenome en my ouers het nooit ‘n sent van die staat gevat nie. Vir diegene wat sê dit kos geld om ‘n kind groot te maak, dit is so, ek het niks kort gekom nie en die staat het my nie onderhou nie. Wat ek wil dink is dat hierdie fondse beslis dan eerder vir weeshuise aangewend kan word. Jy neem nie ‘n kind aan as dit nie finansiëel haalbaar is en jy dit nie uit liefde doen nie.

Landi ·

Ai, mense het baie te sê sonder om te verstaan. Om ‘n kind aan te neem kos mens tussen R4 000 (vier) en R60 000, afhangende van wie se dienste gebruik word (agentskappe/ Kinderwelsyn/ Department van Maatskaplike Ontwikkeling ens. en die koste word volgens ‘n glyskaal bepaal, wat op die ouers/ ouer se inkomste baseer is.

Hierdie fooie is voorafbetaalbaar en word nie maandeliks afbetaal nie. Mens moet vir elke fase van die proses vooraf betaal om na die volgende fase te gaan.

Baie mense kan dus met gemak bekostig om ‘n kind te versorg, skool toe te stuur ens. maar wees eerlik, hoeveel mense kan regtig ‘n totale bedrag, soos hierbo, bekostig?

Ons het ‘n baba aangeneem, maar moes ‘n persoonlike lening aangaan en ons bonusse gebruik vir die proses. En dis glad nie net aansoekfooie nie. Mens betaal ook vir mediese ondersoeke, sielkundige evaluerings ens.

V ·

Landi, jou antwoord maak die beste sin. Ek het my man kyk ook om aan te neem. En net soos jy genoem het is wat ons opinie ook is. Ons kan vir die kind sorg, maar die vooraf fooi is ‘n probleem. ‘n mens weet ook nie op daardie stadium presies hoeveel gaan dit jou kos nie. Ek stem saam dat die fooi verminder moet word. Dit is geld wat mens op die ou ent vir die kind kan gebruik. Ongelukkig is ons nie almal geseen om natuurlik swanger te raak nie en moet na ander opsies kyk.

Anon ·

Ja nee, dit is presies waaraan ek ook dink. Baie mense het die geld om na die kind om te sien, maar nie die vooraf geld om te ‘betaal’ om die kind te kry nie.

Dis so onnodig om te moet betaal, as gesonde mense niks hoef te betaal om swanger te word nie. Hoekom moet mense wat nie kan swanger raak nie, betaal om ‘n kind te kry.

Nix ·

Dis is maklik om te sê wat kos dit om swanger te raak as jy kan en jy nie iemand is wat sukkel of nie kan swanger raak nie! Daar word in elk geval na al jou finansiele aspekte gekyk en dit is nie waar dit ophou nie. ALLES word ondersoek. So as jy nog nooit deur die proses is nie moenie praat oor iets wat jy niks van weet of verstaan nie! Ek stem dat die fooie verminder moet word. Daar is ook ouens wat op ‘n glyskaal van jou salaris werk, wat die proses baie meer bekostigbaar maak.

Ilse ·

Ons sukkel ook om kinders te kry. Ek wens dit niemand toe nie. Die genadelose toetse, al die vrae, die verleentheid waardeur jy moet gaan. Na talle vrugtelose probeerslae om swanger te raak met dokters se hulp en al ons spaargeld daarmee heen, kon ons ongelukkig nie die onkostes bekostig om ‘n kind aan te neem nie. Dit is nie net finansieel uitmergelend nie, maar sielkundig ook. Al waarmee ons tevrede sou wees is een kind!! NET EEN!!! Nou te laat vir ons. En vir diegene wat so kla oor kinders wat duur is om groot te maak, gaan vanaand om jou knieë en dank die Hemelse Vader vir jou kinders.

Karolis ·

Ek stel myself beskikbaar vir aanneming.
Weet julle hoeveel kos dit om vir jouself te sorg?
Belangstellendes moet ‘n Jeep met ‘n rooftop tent besit.

Retha Roux ·

Ek het gehoor as jy in S A anderskleurige aanneem is daar nie koste aan verbonde nie, maar Wit kindjie beloop duisende Rande soos wat Landi die koste gestel het. Hier praat ek onder korreksie, maar dit is deur betroubare persoon wat ook al aan aanneming gedink het vir my gesê, nadat hul navraag gedoen het. Eerste vraag was, wil jul graag ‘n swart kindjie aanneem? Daar is baie paartjies wat glad nie beskore is om swanger te raak nie, die beste behandelings help niks en dit baie duur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.