Staatsaanklaer getuig oor Jiba, Mrwebi

Advokate Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi (Foto: ANA)

Chris Macadam, staatsaanklaer van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het Dinsdag getuig oor die geskorste topadvokaat Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi se bekwaamheid om die amp te beklee. Die kommissie van ondersoek, onder voorsitterskap van afgetrede konstitusionelehofregter Yvonne Mokgoro, is deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel ná ʼn reeks verdoemende bewerings teen Jiba en Mrwebi.

Macadam het aan die kommissie gesê adv. Johnson het hom in kennis gestel dat Jiba glo opdrag gegee het dat hy die ondersoek oor buitelandse omkoopgeld aan die spesiale ondersoekeenheid (SOE) moet oorhandig.

Macadam het egter van deuntjie verander onder kruisverhoor deur adv. Thabani Masuku, vir Jiba. Masuku het Macadam gevra om ʼn brief aan die hof voor te lees van Shaun Abrahams, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, aan die minister van justisie Michael Masuthu, waarin aangedui word dat die spesiale handelsmisdaadeenheid sake oor buitelandse omkopery hanteer. Volgens dié memo is Macadam aangestel as toegewyde staatsaanklaer vir die sake.

Macadam het vroeër gesê Jiba het hom van sy pligte onthef sonder enige verduideliking en dat hy later by Abrahams gehoor het dat hy nie opdrag gegee het dat Macadam van dié plig onthef moet word nie.

“Toe ek gehoor het dat ek steeds die staatsaanklaer is wat betref buitelandse omkopery, het ek probeer om my lêers terug te kry wat ek aan brig. Moodley oorhandig het.” Hy het egter nooit die lêers teruggekry nie en het gehoor Mrwebi het opdrag gegee dat die sake na verskeie beamptes versprei moet word en nie aan hom oorhandig moet word nie. “Ek het probeer om navraag te doen hieroor, maar nooit ʼn antwoord gekry nie.”

In vier van die ses sake was daar geen beweging nie en geen staatsaanklaers is toegeken op die sake nie, aldus Macadam. “Ek is minder as 24 uur gegee om die oorhandigingsverslag saam te stel en het aan adv. Baloyi gesê my deur staan oop. Ek het brig. Moodley aangemoedig om met Baloyi te vergadering om op te volg.”

Adv. Mervyn Rip, vir Mrwebi, wou by Macadams weet of dit regverdig is om te sê dat hy ontsteld was dat hy uit sy amp verwyder is.

“Ek was nie ontsteld nie, ek was teleurgesteld oor die manier hoe ek verwyder is,” het hy geantwoord.

Rip het aan Macadam gesê dit gaan nie oor hom nie, maar oor die werk.

“As ʼn senior lid van die NVG was ek gewoond aan kommunikasie. Adv. Johnson, wat dieselfde rang as ek het, het my in kennis gestel. Dit was asof hulle ʼn kanker met ʼn byl wou uitkap,” het Macadam geantwoord.

Jiba is die adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolging en Mrwebi die spesiale direkteur van openbare vervolging. Van die verdoemende aanklagte teen Jiba en Mrwebi sluit in dat hulle moordklagtes teen oud-intelligensiehoof Richard Mdluli laat vaar het. Mdluli is daarvan beskuldig dat hy die kêrel van sy eksmeisie vermoor het, maar die aanklagte is raaiselagtig laat vaar.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.