Staatsaanklaer, kolonel verdink van korrupsie

Phuti Freddy Matabane, Lucky Thabethe en Daniel Benjamin Lessing in die hof (Foto verskaf deur die NVG)

Phuti Freddy Matabane, ʼn senior staatsadvokaat en ʼn lid van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lucky Thabethe, ʼn luitenant-kolonel in die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) en ʼn siviele persoon, Daniel Benjamin Lessing, het in die Johannesburgse landdroshof verskyn op aanklag van korrupsie.

“Hulle is vrygelaat op borgtog van R5 000 en moet op 7 Maart 2024 weer in die hof verskyn,” sê Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die NVG.

Die aanklagte hou verband met bewerings dat Matabane in Mei 2021 glo vergoeding ontvang het ná sy besluit om Lessing nie in ʼn bedrogsaak van meer as R6 miljoen te vervolg nie. Lessing se bedrogsaak is op 14 Desember 2020 deur Interwaste by die Germiston-polisie aanhangig gemaak.

“Die ondersoek het onthul dat al die beskuldigdes in Junie 2021 op ʼn jagtog was wat na bewering deur Lessing gefinansier is, ná Matabane se besluit om hom nie te vervolg nie,” sê Mjonondwane.

ʼn Privaat ondersoekspan, wat deur Interwaste aangestel is toe hulle korrupsie vermoed het, het die saak onthul.

“Korrupsie verwater die publiek se vertroue in die regstelsel. Die NVG sal steeds ʼn kultuur van eerlikheid en integriteit nastreef deur lede te vervolg sonder vrees, guns of vooroordeel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.