Staatsaanklaer níé skuldig aan rassisme

Argieffoto

Argieffoto

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het beslis dat ʼn voormalige hoofstaatsaanklaer by die Klerksdorpse landdroshof, Jacques Swanepoel, onbillik deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ontslaan is.

Swanepoel is lid van die vakbond Solidariteit. Revana Jacobs, senior staatsaanklaer, het 12 aanklagtes van onder meer rassisme teen Swanepoel, haar destydse bestuurder, aanhangig gemaak. Jacobs het onder meer aangevoer dat Swanepoel gesê het swart mense is dom en dat alle Indiërs eenders lyk.

Die saak dateer uit 2007 toe ʼn interne verslag saamgestel is om bewerings en klagtes van rassisme by die Klerksdorpse landdroskantoor te ondersoek. Die verslag is hoofsaaklik saamgestel om aanklagtes teen Swanepoel te ondersoek. Hy is in 2011 weens die inhoud van die verslag ontslaan.

Volgens Johan Kruger, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het die arbiter in sy uitspraak beslis dat die aanklagtes teen Swanepoel geen geldige gronde het nie. Daar is verder beslis dat die verslag, bekend as die Sibeko-verslag, geen aanbevelings oor moontlike dissiplinêre aksie teen Swanepoel bevat het nie en dat dit in elk geval nie as gronde vir sy ontslag kon dien nie.

Kruger het verder aangedui dat dit uit Jacobs se getuies geblyk het dat sy ʼn verskuilde agenda met haar aanklagtes teen Swanepoel gehad het. Jacobs is in 2006 vanaf Pietermaritzburg na die Klerksdorpse landdroshof verplaas en was ongelukkig oor die verplasing. “Uit Jacobs se getuies het dit geblyk dat sy ongelukkig was oor haar verplasing en dat sy met alle mag terugverplaas wou word. Jacobs het Swanepoel se sogenaamde rassistiese optrede as die rede vir haar ongelukkigheid by die Klerksdorpse landdroskantoor aangevoer. Dit het later egter duidelik geword dat Jacobs se aantygings van rassisme geen substansie gehad nie,” het Kruger gesê.

Kruger het gesê die arbiter het onder meer beslis dat 46 maande se salaris aan Swanepoel betaal moet word. Daar is verder beslis dat Swanepoel in sy ou pos heraangestel moet word. “Die saak het heelwat media-aandag geniet en ons lid se loopbaan en reputasie het in die proses skade gely. Sy naam is nou eindelik in ere herstel,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos ·

Dit is wonderllike nuus – so af en toe geskied geregtigheid nog

Anton ·

Kom ons hoop net dat daar gehoor gegee sal word en hy wel weer aangestel sal word want in die nuwe SA maak almal mos maar net soos hulle wil

scalla ·

Nice try revana, ongelukkig nie gewerk nie, Jaques het net die moed gehad om dit te se wat die waarheid is, n spade bly n spade!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.