Louis Heunis (48), ‘n staatsaanklaer by die Kimberley-landdroshof, het glo Dinsdagoggend 11 verdiepings na sy dood gespring.
Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie in die Noord-Kaap, sê die voorval het kort na 9:00 Dinsdagoggend plaasgevind. Sy sê die gebeure rondom die voorval is nog nie duidelik nie maar dat geen vuilspel in die stadium vermoed word nie. Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.
Maroela Media verstaan dat Heunis van die 11de verdieping van die departement van openbare werke se gebou op die hoek van Stead- en Knightstraat in die middestad gespring het.
Boodskappe van medelye stroom intussen op Heunis se Facebook-blad in. Paul van der Merwe het geskryf: “Rus in vrede my Oom. Ons gaan jou baie mis, jy sal nooit vergeet word nie. Dink en bid asb. vir die res van die familie.” Christine Reuter het geskryf: “Baie hartseer om te hoor. Sy lewe was vir my net een groot inspirasie – kon altyd na hom luister en opkyk.”
Carol Smith het haar skok oor die voorval uitgespreek: “Kan dit nie glo nie. Jy was altyd vir my ‘n inspirasie met jou woorde, sang en menswees. Rus in vrede Louis.”
Ek het altyd eerste Louis se kommentaar in die Volksblad se briewe kolom gaan opsoek! Dit was altyd ‘n inspirasie en ek gaan dit mis. Rus in vrede Louis.