Staatsaanklaer se vervreemde vrou wou hom laat vermoor

Argieffoto (Foto: Hansie Linde)

Boitumelo Joyce Mokhari, die vervreemde vrou van senior staatsaanklaer adv. William Mokhari, het saam met twee medebeskuldigdes in die Alexandra-landdroshof verskyn vir ʼn formele aansoek om borgtog.

Boitumelo, Shadrack Malipane en Jacob Malope is vrygelaat op borgtog van R3 000 elk sonder enige voorwaardes.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê die mans is op 14 April in hegtenis geneem. Boitumelo het haarself op 20 April aan die Sandton-polisie oorgegee, vergesel deur haar regsverteenwoordiger. Die drie staan tereg op aanklag van sameswering om adv. Mokhari te vermoor.

“Die polisie het op ʼn wenk reageer oor ʼn sameswering oor die moord. Daar was bewerings dat die vuurwapen wat gebruik sou word, by ʼn sogenaamde profeet (Malipane) afgelewer is. Met hul aankoms op die perseel het die polisie ʼn soektog uitgevoer en die vuurwapen en ammunisie is in Malipane se motor se kattebak gevind.”

Die staatsaanklaer, Lufuno Godfrey Maphiri, het aangevoer die veiligheid van die klaer, adv. Mokhari, word in gedrang gebring as die beskuldigdes vrygelaat word op borgtog. Hy sê die staat sal aanvoer die motief vir die sameswering om moord te pleeg is omdat adv. Mokhari van sy vervreemde vrou wou skei.

Die saak is tot 14 Junie 2022 uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.