Staatsaanklaer vas vir omkoopgeld

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Staatsaanklaer by die Kimberley-landdroshof was Dinsdag die een in die beskuldigdebank toe hy in dieselfde hof op ʼn aanklag van korrupsie verskyn het.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê Anele Kohlani (32) is Dinsdag in hegtenis geneem kort nadat hy R1 500 in omkoopgeld van ʼn beskuldigde ontvang het om sy saak terug te trek.

Volgens Mulaudzi was die beskuldigde betrokke in ʼn voorval waar hy per ongeluk ʼn voetganger met sy motor se spieëltjie gestamp het. ʼn Woordwisseling en beweerde aanranding het tussen die beskuldigde en voetganger plaasgevind, wat uiteindelik daartoe gelei het dat albei partye sake aanhangig gemaak het.

Die voetganger en die beskuldigde het uiteindelik buite die hof geskik en besluit om albei aanklagte terug te trek. “Die beskuldigde het die aanklaer (Kohlani) gevra om die saak terug te trek, maar hy het hom met tronkstraf gedreig en geëis dat hy R1 500 betaal word voor hy die saak sal onttrek,” het Mulaudzi gesê.

Die beskuldigde het die saak onder die Valke se aandag gebring, wat ʼn lokval vir Kohlani gestel het. Kohlani het die beskuldigde na sy kantoor geroep waar die omkoopgeld aan hom oorhandig is en hy is op die plek in hegtenis geneem.

Hy is op borgtog vrygelaat en sal op 22 Mei weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CHRISTA ·

As dit is hoe ons staatsaanklaers werk, kan ek verstaan hoekom al die skurke los rondloop!!

Neptunus ·

Klink of mens party aanklaers met ‘n viskop kan omkoop. Wonder of die saak teen hom ook teruggetrek gaan word in die toekoms. Onthou mense, twee oud-Grondwethofregters het die afgelope jaar gesê die NVG is verrot tot in sy kern.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.