Staatsaanklaer, vier ander vas oor ‘piramiedskema’

hof-hamer

Argieffoto.

ʼn Staatsaanklaer is een van vyf verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met ʼn beweerde piramiedeskema waarin miljoene rande glo verlore gegaan het.

Die beskuldigdes is in die Wes-Kaap deur die Valke vasgetrek.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het in ʼn verklaring gesê die verdagtes, tussen 38 en 62 jaar oud, is vir beweerde bedrog van miljoene rande in hegtenis geneem.

“Dit word beweer dat daar tussen 2009 en 2014 vals beleggingsentiteite gebruik is om lede van die publiek te werf om by die uitgebreide skema aan te sluit. Slagoffers het glo geskenkbewyse van R 2 700 en meer gekoop waarmee hulle glo afslag by hotelle, op huurvoertuie, vlugkaartjies ensovoorts kon kry,” het Ramovha gesê.

Die “beleggers” moes glo nog mense werf om sodoende meer voordele te ontvang. “Dieselfde is vir die nuwe lede gesê en die skema het landwyd gewild geword. Sover weet ons van miljoene rande wat verlore gegaan het, maar dit kan meer word namate die ondersoek vorder,” het Ramovha gesê.

Die beskuldigdes is met ʼn waarskuwing vrygelaat en moet op 29 Junie in die handelsmisdaadhof in Bellville verskyn op aanklagte van bedrog en die oortreding van die Wet op Banke en die oortreding van die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Landi Slatter ·

Dagsê Spelling

Baie dankie vir jou kommentaar.
Die opskrif is inderdaad foutief, en ons het dit gewysig.

Terloops, volgens Skryf Afrikaans van A tot Z is “piramideskema” en “piramiedskema” wisselvorme.
Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls gee ook “piramide” (met meervoudsvorm “piramides”) en “piramied” (met meervoudsvorm “pieramiede”).

Groetnis
Landi
nms Maroela Media

Cherokee ·

Stem saam met wat jy sê oor wisselvormigeit daarin, Landi.
:-)

Eish ·

Derde kroekereur wat skelm is in twee weke waarvan Maroela Media berig.
Landdros, prokureur en aanklaer. Dink die beroepsrigting is ook lankal gekaap.

Nico K ·

Leer mense nie. Ons weet mos nou al sulke skemas werk nie. Dan sê die predikante nog die meeste mense is ongelowig. In teendeel, die meeste mense glo enige iets.

Daniel ·

Kan hul uitbrei op wie die maatskappy is want eks by een wat werk en vir 12jaar al bestaan. Wens net mense het geweet waarvan hul praat voor hul praat. Typical-RSA!!

snoefie ·

danksy Rica dat skelms met hierdie skemas jou name, tel nommer, identiteitsnommer en adres het. maar how kry hulle jou bankrekening nommer vandaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.