Staatsaanklaers in hof aangeval

Argieffoto

Argieffoto

Twee staatsaanklaers van KwaZulu-Natal is in die hospitaal opgeneem nadat 22 verhoorafwagtende gevangenes hulle in die Scottburgh-streekhof aangeval het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê hy is bewus van die voorval Maandag, maar het gesê teen Woensdag was geen klagte nog ingedien nie.

Volgens inligting wat African News Agency (ANA) by verskeie bronne bevestig het, staan die 22 verdagtes tereg op aanklagte wat verband hou met ʼn kabeldiefstalsindikaat en het hulle die staatsaanklaers aangeval nadat hul saak vir die soveelste keer uitgestel is.

Regsverteenwoordigers, hofbeamptes en landdros Ambrose Mfayela het glo uit die hofsaal gevlug toe die verdagtes die staatsaanklaers met meubels gegooi en toe aangerand het. ʼn Stenograaf en tolk het glo tot hul redding gekom deur ook meubels na die aanvallers te gooi.

Volgens ANA is die staatsaanklaers na die voorval in ʼn hospitaal opgeneem en sal hulle na verwagting nog tot minstens die naweek daar bly. Landdros Mfayela kon nie vir kommentaar bereik word nie en die twee staatsaanklaers het alle navrae na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys.

“Ek kan bevestig die voorval het Maandag in die Scottburgh-streekhof plaasgevind. Beide advokate ontvang mediese behandeling,” was al wat adv. Moipone Noko, provinsiale direkteur van openbare vervolging, wou sê.

Die verdagtes is glo deel van ʼn groep van 26 mense wat in 2012 in hegtenis geneem is. Die Daily News het in September 2014 berig die mans staan op 189 aanklagte tereg en ondersoekers moet deur selfoondata werk van derduisende oproepe wat oor ʼn periode van 18 maande tussen die verdagtes gemaak is.

Die twee staatsaanklaers kla glo al ʼn geruime tyd oor hul veiligheid weens hul betrokkenheid by die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Alida ·

Liewe genade in watse barbaarse land woon ons. Hoekom sloer die saak 4 jaar?

AL ·

Niks skok my meer nie. Die kriminele het geen respek vir die regstelsel nie. Nr 1 het hul baie mooi geleer.

E ·

Ja AL ek stem ons raak nou “ge decensitise” teenoor geweld, so ń allerdaagse gebeurtenis. Dit is sad.

Albert ·

Nou waar was die hof ordonanse?. Dit is SAP lede wat daar diens doen.

Oosie ·

Sê ek ook. Hulle het weggehardloop volgens die berig! Kan jy glo??!! Waarom so ‘n groot groep hof toe vat as eerder van tegnologie wat reeds bestaan gebruik te maak en die skurke veilig agter slot en grendel verhoor kan word. Baie dom en onverantwoordelik en dan doen hulle dit sonder maksimum sekuriteit, verkorte hand- en voetboeie, skokbelde, ens.

Hasie ·

Die landdros hol seker nou nog, want hulle kon hom nie kry vir kommentaar nie.

Scalla ·

Weereens n bewys van onbevoegdheid, tot die kriminele raak keelvol vir al die kere wat die saak uitgestel word, wat help dit die polisiemanne wat weg gehardloop het word aangekla, fire hulle, daai saak sal ook telkemale uitgestel word soos tans die geval is, van uitstel kom afstel.

Annie ·

Landros sal seker ligte fonnise ople om hom self te beskerm. Die land het n hool geword!!

Mel ·

Laat die landros en regslui vir hulle kry. Hulle is die eerstes wat aandring dat voet- en handboeie afgehaal moet word in die hof. Het glads al Korrektiewe Beamptes en SAPS-lede met minagting gedreig as hulle weier om dit te doen. Hof ordonanse is maksimum twee persone, wat moet hulle teen die stiksinigheid van die aanklaers en landdros doen deur soveel veroordeeldes op een slag in een hof bymekaar te bring? Hoekom moet hulle, hulle lewens in gevaar stel vir regsgeleerdes wat altyd beter weet as opgeleide mense wat sekerheidontledings doen as deel van hulle werk. Geen simpatie nie, dalk sal hulle nou agterkom die gevaarlike kalante is nie in ‘n hof vir hulle gesondheid nie en deur hulle dade belemmer hulle SAPS en DKD om hul werk behoorlik uit te voer. KZN is ‘n baie militante area, regslui moes voorsien het dat so iets kan gebeur. Ek is deel van die sekereheidsgroepering vergaderings en het al meermale gehoor hoe landdroste kla dat voet- en handboeie nie in hulle howe geduld word nie, dit terwyl SAPS en DKD pleit dat dit te gevaarlik is om dit in ‘n oop gebou soos ‘n hof te verwyder. Dit sluit aan by al die ander voorvalle waar beskuldigdes weghardloop uit howe, hulle menswaardigheid tel mos meer as die veiligheid van die publiek en ander persone. Geen simpatie nie – lê hierdie hele debakel op die skouers van die alwetende en “menswaardigheid eerste – ook vir skurke” landdroste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.