Staatsbeheerde ondernemings vasgevat

(Argieffoto: Eskom/Twitter)

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het ʼn goeie skeut van wat hy bestempel as “tough love” aan staatsbeheerde ondernemings uitgedeel.

“Ons gaan voort om die voortgesette eise wat staatbeheerde instellings (SBO’s) op Suid-Afrika se beperkte openbare hulpbronne plaas, te verminder,” het die minister Woensdag in sy eerste volwaardige begrotingsrede gesê.

Dié ondernemings se toekoms sal bepaal word deur die waarde wat hulle skep, en of dit bedryf kan word as volhoubare entiteite sonder reddingsboeie van die fiskus. Volgens die minister beteken dit sommige SBO’s sal behoue bly, terwyl ander gerasionaliseer of gekonsolideer sal word.

Godongwana sê onder meer daar is begrip dat Eskom se skuldvlakke ʼn bekommernis vir sy krediteure en beleggers is. “Die regering gaan voort om Eskom te help om finansieel volhoubaar tydens die oorgang te wees.”

Eskom het tot dusver R136 miljard ontvang om sy skuld te betaal, terwyl nog R88 miljard tot die 2025‑’26-boekjaar toegewys word.

Eskom se algehele skuld beloop sowat R392 miljard. Dit het ʼn regstreekse uitwerking op die instandhouding van kragsentrales, wat beteken Suid-Afrika word gedurig aan beurtkrag onderwerp.

Die minister sê dit word ook toegegee dat ʼn skuldberg Eskom in die gesig staar en dat dit ʼn probleem is om sonder enige hulp te oorkom. “Die nasionale tesourie werk aan ʼn volhoubare oplossing om Eskom se skuld op ʼn manier te hanteer dat dit billik vir alle belanghebbendes is,” sê Godongwana.

Enige oplossing gaan egter afhang van voortgesette vordering om Suid-Afrika se kragsektor te hervorm, Eskom se eie vordering met sy omkeerplan, asook die sukkelende instelling se herstruktureringsproses.

“Ons verwag van Eskom om verdere stappe te doen om koste in bedwang te hou, die verkoop van bates af te handel en operasionele verbeterings in werking te stel om die betroubaarheid van kragvoorsiening te verbeter,” sê Godongwana.

By die mediakonferensie voor die lewering van sy begrotingsrede, het die minister ook gesê Eskom moet self stappe doen om sy situasie om te keer en moeilike besluit sal geneem moet word.

“Ons konsentreer nou al 13 jaar lank daarop om Eskom reg te ruk. Dit kan nie reg wees nie. Hulle sal bates moet verkoop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marius ·

Die meer eenvoudige oplossing is dat almal vir krag moet betaal of daarsonder moet klaarkom. Niks meer vir “mahala” nie.

007 ·

Pravin het paar jaar gelede al gesê die werksmag gaan drasties verminder word, blykbaar sal dit die finansies in ‘n baie beter posisie plaas. Vra maarnet?

krodedil ·

Eskiom raak van mense ontslae maar dis die verkeerde mense. Tegnici verlaat Eskom op ‘n groot skaal. Die verkeerde mense bly oor. Tyd om te begin gewoontraak aan daaglikse loadshedding.

Wondermaarnet ·

Wel, begin by Koeberg waar daar meer geslaap word as gewerk word en waar die security se sakke nie deurgesoek word nie en hulle help hulself ruim met melk, suiker, koffie, tee en toiletpapier.

Kobus ·

Maklik agbare minister. Halveer die werksmag, raak ontslae van saboteurs, staak die toegewings wanneer vakbonde ” demand” en laat de Ruyter toe om sy werk te doen. Stel voor julle stel Me Maria Ramos aan om hom te help. Sy vat nie twak van vakbonde nie , ook nie van onproduktiewe amptenare nie.

Yvonne ·

Nog steeds is daar ondermyning van gesag…so hoe kan die instellings reggeruk word as daar nie die wil of die kennis is om dit te doen nie….tragies

quartus ·

Die personeel moet met minstens 50% verminder word. Onder die Zuma regering is elke jan rap en sy maat met of sonder kwalifikasies aangestel, meestal in poste wat nie eens bestaan nie.

Di ·

Die korrupte Regering het hierdie monster geskep so hulle sal hom moet bly voer! Dis hoe dit met ALS in die land gaan, selfs die TOELAE wat hulle instel en dan nie kan stop nie, dit word dan as ‘n REG beskou, nie meer ‘n VOORREG nie. Sodra die ANC Kaders hierdie “vergunnings” stop, word als afgebrand

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.