Staatsdienskommissie moet kaderontplooiing bekyk – DA

Dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie. (Argieffoto)

Die DA gaan die Staatsdienskommissie (SDK) vra om ondersoek in te stel na alle ontplooiings wat moontlik onregmatig weens inmenging deur die ANC se kaderontplooiingskomitee gedoen is.

Notules van vergaderings van dié komitee, wat klaarblyklik ʼn direkte rol speel in die aanwysing van onder meer regters, adjunk- direkteurs-generaal en raadslede van staatsbeheerde ondernemings (SBO’s), is onlangs op die webwerf van die Zondo-kommissie gelaai.

Dit dui op ʼn uitgebreide netwerk waarbinne ANC-kaders in sleutelposisies in die staatsdiens en selfs by hoofstuk 9-instellings – wat veronderstel is om heeltemal onafhanklik te wees – aangewys is.

Dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê staatskaping duur boonop ongebreideld onder pres. Cyril Ramaphosa voort.

Die DA het die notules van die ANC-komitee ontleed en gaan dit as grondslag vir die klagte by die staatsdienskommissie gebruik. Volgens die party strek die invloed van die ANC-kommissie tot op munisipale vlak – maar selfs Ramaphosa het glo al ʼn skrobbering by komiteelede gekry omdat hy aanstellings gedoen het wat nie die kanale deur die kaderontplooiingskommissie gevolg het nie. Hy moes glo verskoning vra daarvoor.

“Dit strek veel dieper as wat ons ooit tevore gedink het,” sê Schreiber. “Lojaliteit aan die ANC is die bepalende faktor.”

Schreiber sê pleks daarvan dat die ANC se kaderontplooiingskomitee aanbevelings doen waaroor ministers besluit, moet ministers aanbevelings doen waaroor die komitee uiteindelik besluit. Poste word spesifiek vir lojale ANC-kaders opsygesit en hul CV’s word op ʼn aparte databasis van ander aansoekers gehou.

“Daar is mense wat nie die staat of die aanstellingsowerheid nader nie, maar die ANC – omdat dit die ware weg tot ʼn aanstelling is. Daar word teen goeie mense gediskrimineer en hulle word uitgesluit omdat kaders ʼn geheime pad deur Luthuli-huis het waar besluite geneem word.”

Die DA gaan nou die SDK vra om elkeen van die aanstellings wat in die ANC-komitee se notules genoem word te ondersoek.

“In gevalle waar die SDK bevestig dit is onwettig gedoen, gaan die DA daarop aandring dat die proses oorgedoen en vaardige aansoekers nie uitgesluit word net omdat hulle nie ʼn kader van die korrupte ANC is nie.”

Siviwe Gwarube, adjunkhoofsweep van die DA, gaan ook die speaker van die parlement vra vir ʼn dringende debat van nasionale belang oor die verwoestende uitwerking van kaderontplooiing op die staatsdiens en in die stryd teen korrupsie.

Die DA se private wetsontwerp, die Beëindig Kaderontplooiing-wetsontwerp – is reeds by die parlement ingedien en moet nog voor die staatsdienskomitee dien.

Die DA vra ook dat ʼn nuwe, onafhanklike kommissie aangestel word met die magte om ondersoek te doen en vervolging in te stel oor kwessies wat met staatskaping verband hou. Die voorgestelde kommissie is geskoei op die destydse Skerpioene, amptelik bekend as die direktoraat vir spesiale operasies van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Die ANC het in 2007 by sy nasionale konferensie egter besluit dié eenheid moet ontbind.

Adv. Glynnis Breytenbach, die DA se woordvoerder oor justisie en korrektiewe dienste (DKD), sê die voorgestelde nuwe kommissie moet geheel onafhanklik wees en regstreeks aan die parlement verslag doen. Die wetsontwerp daaroor sal hopelik teen die middel van die jaar in die parlement ter tafel gelê word.

Staatskaping was veral verwoestend vir instellings soos die NVG, die polisie, DKD en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens – en Suid-Afrika dra nog elke dag die gevolge daarvan, sê Breytenbach. Die magte en vaardighede van dié organisasies is geleidelik weggekalwe en dit sal opnuut herbou moet word.

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, het verlede jaar al gesê die NVG is nie in ʼn posisie om vervolging in te stel in alle sake wat moontlik uit die Zondo-verslag sal spruit nie.

Die organisasie se begroting is boonop twee keer in die afgelope twee jaar gesny.

Breytenbach glo ook nie dat die polisie óf die NVG die honderde sake in die afsienbare toekoms sal kan hanteer nie. Sy sê enkele sake kan dalk vanjaar nog op die hofrol geplaas word. “Dit gaan tyd verg, daar is geen vinnige oplossings nie.

“As die regering egter sê hy gaan korrupsie beëindig, doen hy nie wat hy sê nie, want hy plaas nie een van dié instellings in ʼn posisie waar hulle hul werk kan doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pablo ·

Daar gaan net mooi niks van die Zondo ondersoek en bevindinge kom nie.

Nie Verbaas ·

“Lojaliteit aan die ANC is die bepalende faktor.” So ook is n gebrek aan intilligensie die oorheersende faktor reg deur die bank.

Samuel ·

Ek hoop die DA kry iets reg. Staatskaping floreer steeds onder Ramaphosa se leiding.

Pietertjie ·

Dit gaan ontplooide kaders wees wat die kader-ontplooiing (en dus hulleself) moet ondersoek!

Pieter ·

Ag asb DA julle mors julle tyd dit is hoe kommuniste werk dit gaan nooit stop nie. Vat hulle geld weg dan sal die anc kommuniste se ore oop gaan.

Jack ·

Nee wat.Die DA baklei hier teen die wind.Daar is kaders in alle posisies wat enige vorm van vergelding of proses sal dwarsboom of laat sloer of net heeltemal laat doodloop.So graag soos wat hulle wil aksie neem en die hele proses laat hersien ens gaan hulle net hulle tyd mors.En al kry hulle ‘n 100% anafhanklike ondersoekspan gaan enige aanbeveling net afgelag word en stof vergader.Ons is verby vergelding in die land.Voordat die polisie,howe en regering hervorm is gaan jy nie wen nie.

Michael ·

Die DA moet liewer stil bly. Hul het lank al die morele hoë grond verloor. Kyk net na die nuwe aanstelling van n leunaar as adviseur van die Weskaapse Premier. Kader ontplooing 101.

Chris dupreez ·

Julle leef in n droom wereld, die staatsdienskommissie is die anc. So daar sal niks gebeur. Al wanneer dinge sal verander is as die anc uitgestem word

Louisepretorius ·

Due Anc is korrupte organisasie. Sal nooit op hulle Kan staatmaak

ROELOF ·

Mors van tyd en energie
STAATSDIENSKOMMISSIE is dan deel van die kriminele kaders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.