Staatsgebou in Pretoria binne dae weer oopgestel

Foto gebruik ter illustrasie. (Foto: Twitter via @CoJPublicSafety)

Die Isivuno-gebou in die Pretoriase middestad is weer oop nadat dit net enkele dae gesluit was sodat die gebou se sentrale ventilasiestelsel herstel kon word.

Sowat 400 werknemers is Maandag uit die Isivuno-gebou in Lilian Ngoyistraat verwyder ná klagtes oor werknemers se gesondheid en veiligheid. ’n Voortdurende probleem met die gebou se sentrale ventilasiestelsel het glo tot swak luggehalte en verhoogde temperatuurvlakke gelei wat die gesondheid en veiligheid van die werknemers beïnvloed.

“Die Stad kan bevestig dat daar aandag gegee is aan die gevare wat geïdentifiseer is en personeellede kan weer vandag in die gebou werk,” bevestig Lindela Mashigo, die Stad Tshwane se direkteur van mediaskakeling.

Werknemers is tydelik na die departement se streekkantore verskuif terwyl die gebrekkige stelsel herstel is.

Volgens Mashigo het die Stad Tshwane verlede jaar ’n ondersoek van stapel gestuur ná talle klagtes deur werknemers dat die gebou se ventilasie-en-lugversorgingstelsel soms buite werking is, wat lei tot swak binnenshuise luggehalte.

“Artikel 8 van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (wet 85 van 1993) bepaal dat die werkgewer, sover dit uitvoerbaar is, ʼn werkomgewing moet voorsien en in stand hou wat veilig is en geen risiko vir die gesondheid van sy werknemers inhou nie. Die Stad het dus ʼn ondersoek gedoen om te verseker dat die gesondheid en veiligheid van sy werknemers beskerm word,” sê Mashigo.

Mashigo het namens die munisipaliteit om verskoning gevra vir die ongerief wat hierdeur veroorsaak is.

Die sluiting van die Isivuno-gebou het gevolg ná die tydelike sluiting van die Poynton-gebou, die departement van korrektiewe dienste se hoofkantoor. Dié gebou in WF Nkomostraat in die Pretoriase middestad moes sy deure in September verlede jaar tydelik sluit. Sowat 1 000 werknemers is uit dié gebou verwyder aangesien die gebou ook nie aan sekere veiligheidsvereistes voldoen het nie.

Die Poynton-gebou is egter intussen ook weer heropen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.