Staatsgebou ná dodelike brand gesloop

Die brandende gebou op 6 September nadat die brand reeds die vorige dag ontstaan het. Foto: Twitter via @CoJPublicSafety

Voorbereidings is in die Johannesburgse middestad onderweg om die Bank of Lisbon-gebou te sloop waar drie brandweermanne verlede jaar ʼn vlammedood gesterf het.

Werkers van Jet Demolition kon Donderdag in dié staatsgebou gesien word waar hulle ʼn assessering uitgevoer het.

Die Bank of Lisbon-gebou se heining is versterk om inbrekers uit te hou. Foto: ANA

Twee brandbestryders is dood terwyl hulle die brand op 5 September in die 23 verdieping hoë gebou help blus het, en ʼn kollega is dood toe hy van die gebou geval het. Die oorledenes was Simphiwe Moropane (28), Mduduzi Ndlovu (40) en Kathutshelo Muedi (37).

Agt brandbestryders is destyds met verskeie beserings in die hospitaal opgeneem, van wie ses binne ʼn week ontslaan is. Twee is langer as twee maande in die Netcare Milpark-hospitaal behandel.

Kenton Kahn van Jet Demolition se veiligheidsafdeling het aan African News Agency gesê alle omliggende geboue sal oor die datum van die sloping ingelig word.

“Ons is nog besig met die voorbereidings. Die amptenare se besittings wat in die gebou is, moet nog verskuif word; daarom sal dit eers iewers tussen April en Junie plaasvind.”

Robert Mulaudzi, woordvoerder van Johannesburg se noodbestuursdienste, sê die ondersoek na die oorsaak van die brand is amper afgehandel. “Ek is seker daarvan die verslag van die ondersoek sal binnekort uitgereik word.”

Die gebou is verlede maand met ʼn sterker omheining beveilig ná ʼn reeks inbrake.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

bren ·

Was in die 80s een vd mooiste geboue! nes die hele middestad nou; verrot niks instandhouding! miljoene daarmee heen; my bloei as ek sien hoe lyk bekende geboue.

Johan ·

Tragies om te sien dat sulke geboue gesloop moet word net a.g .v n regering wat respek vir niks het nie en geen begrip het vir instandhouding nie.

Outoppie ·

Wielie, daar is baie aluminium vensterrame dalk koper waterpype, koper elektriese drade, ens. Dis ‘n skattekis vir metal-diewe. Die ou Transmed gebou oorkant 96 Rissikstraat het is so gestroop, tot deurrame is uitgebreek totdat die gebou uiteindelik soos ‘n “Swiss cheese” gelyk het. Net die bakstene is nie geplunder nie.

ZET ·

Ja want as hulle die bakstene vat moet hulle iets daarmee doen, en dit klink
na werk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.