Staatsgetuie in Panayiotou-moordsaak ‘vyandig’ verklaar

Luthando Siyoni se oorspronklike verklaring aan die polisie wat hy nou beweer hy gedwing is om af te lê. Foto: ANA

Luthando Siyoni se oorspronklike verklaring aan die polisie wat hy nou beweer hy gedwing is om af te lê. Foto: ANA

Die beweerde middelman in die Jayde Panayiotou-moordsaak is moontlik kwytskelding op die aanklagte teen hom kwyt, nadat hy Donderdag as ʼn vyandige getuie verklaar is in die hooggeregshof in Port Elizabeth.

Luthando Siyoni was Donderdag vir die vyfde agtereenvolgende dag as staatsgetuie in die getuiebank in die saak teen sy voormalige baas, Christopher Panayiotou en Panayiotou se twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko. Panayiotou, Nenembe en Sibeko word aangekla van die moord op Panayiotou se vrou, Jayde.

Siyoni is tegnies-gesproke steeds ʼn staatsgetuie, hoewel hy as vyandig verklaar is. Regter Dayalin Chetty sal uiteindelik na afloop van die verhoor oor sy lot besluit. Siyoni, wat tydens sy getuienis sy eerste verklaring aan die polisie direk weerspreek het, kan moontlik sy kwytskelding van vervolging in ruil vir sy getuienis kwyt wees. Chetty moet Siyoni as betroubaar en eerlik ag voordat hy op die aanklagte teen hom kwytgeskeld kan word.

Siyoni se vriendin, Babalwa Breakfast, is verlede maand in die hof in hegtenis geneem nadat sy onverwags van haar oorspronklike verklaring aan die polisie afgewyk het. Breakfast het in haar eerste verklaring gesê Siyoni het vir haar gesê Panayiotou het planne om sy vrou te laat vermoor.

Adv. Marius Stander, die staatsaanklaer, het Donderdag gevra dat Siyoni as vyandig verklaar word. Siyoni het vir die tweede agtereenvolgende dag geweier om Stander se vrae te beantwoord.

Stander het gesê: “Ek stel dit aan jou dat jou regte ten volle aan jou verduidelik is voordat jy ʼn skulderkenning in Fort Beaufort gemaak het. Die redes vir jou inhegtenisneming is deur kapt. Mayi aan jou verduidelik en jy is nooit aangerand soos jy nou in die hof beweer jy is nie. Ek sal aanvoer jou skielike weergawe van die aanranding kom nadat Babalwa Breakfast in hegtenis geneem is,” het Stander gesê.

Siyoni het geweier om hierop te reageer.

Stander het voortgegaan om gate in Siyoni se getuienis te steek en gesê Siyoni se vergadering met Panayiotou, tydens ʼn lokval deur die polisie, is gehou omdat Siyoni sy weergawe van gebeure aan die polisie wou verifieer. “Jy het toe jou volle samewerking aan die polisie gegee om boodskappe van jou Facebook [-profiel] af te haal. Die polisie het reeds toegang tot die boodskappe gehad, maar jy het hulle toestemming gegee om voort te gaan,” het Stander gesê.

Luthando Siyoni en sy prokureur, Zolile Ngqeza, by die hooggeregshof in Port Elizabeth: Foto: Raahil Sain/ANA

Luthando Siyoni en sy prokureur, Zolile Ngqeza, by die hooggeregshof in Port Elizabeth: Foto: Raahil Sain/ANA

Die staat het ook verwys na rekords van besoeke aan Siyoni tydens sy aanhouding. “Jy het gekla die koffie is te flou, die sop is koud, die kos is nie genoeg nie en jy het gekla omdat [die ondersoekbeampte Kanna] Swanepoel jou nie besoek nie. Dit is die man wat jy beweer jou gedreig het, dus waarom sal jy kla omdat hy jou nie besoek nie?” het Stander gevra.

Stander het beklemtoon dit word nêrens in die rekords aangedui dat Siyoni gekla het die polisie het hom gedreig om ʼn skulderkenning te maak nie.

Vroeër vandeesweek het Siyoni beweer hy het inligting aan Swanepoel gegee en ʼn skulderkenning onderteken nadat die polisie hom gedwing het om te sê “wat hulle wou gehad het hy moes”.

In Siyoni se verklaring aan die polisie het hy geskryf: “Die polisie het my ingelig dat hulle my vrae oor Jayde wou vra. Hulle het nie vir inligting gevis nie, hulle het onmiddellik tot die punt gekom. Ek was nooit voorbereid vir hierdie tipe ondervraging nie. Dit was vir my duidelik dat die polisie inligting by iemand gekry het. Daar was geen manier wat ek kon lieg nie, want dit was duidelik die polisie het klaar die waarheid geweet. Ek het besluit ek sal die waarheid praat, omdat ek nie vir iets wou staan wat Christopher geskep het nie.”

Siyoni het ontken hy het die verklarings aan die polisie gemaak en ook ontken dit is sy handtekening onderaan die verklarings.

Adv. Terry Price, vir die verdediging, het aan Siyoni gesê hy glo Siyoni se weergawe van wat met die polisie gebeur het, is die waarheid. Hy het gesê Siyoni moet sy vrae beantwoord om hom te help om te bewys dit is die waarheid. Die hof het daarna verdaag sodat Siyoni met sy regsverteenwoordiger kon konsulteer.

Die staat beweer Panayiotou het Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om ʼn huurmoordenaar, Sizwe Vumazonke, te kry om Jayde te ontvoer en te vermoor. Die staat beweer Nenembe het Vumazonke gehelp om te moord uit te voer. Sibeko het na bewering ook ʼn rol in die uitvoering van die moord gespeel. Vumazonke is vroeër vanjaar in aanhouding dood.

Die verhoor hervat Vrydag.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jou eie toedoen ·

Jy het dit nou deur jou eie arrogante toedoen. Ek dink nogsteeds jy word of gedreig met die dood soos vumazonke of GROOT geld is op die spel vir jou hier, Terry Price se opgewonde vinnige optrede en aanmoediging bevestig dit! Ek het nuus jy gaan sit en dan gaan jy in elk geval sterf soos Vumazonke of niks van geld he. Zolile is jy werklik aan jou klient se kant of ook n Grieks betaalde regshulp?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.