Staatsinstansie glo betrokke by plundery

Die Demokratiese Alliansie het gesê hy is besorg dat die staatsbeheerde Coega Development Corporation (CDC), wat 12 hawens vir klein bote in die Wes-Kaap moet oprig, geïmpliseer word in die plundery van R1, 6 miljard van die Oos-Kaap.

Die City Press-koerant het berig ʼn rits maatskappye, individue en nasionale staatsagentskappe, insluitend die Independent Development Trust, die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) en CDC, het na bewering hulself met R1,6 miljard verryk wat veronderstel was om vir paaie, skole en huise in die Oos-Kaap aangewend te word.

Beverly Schäfer, die DA se woordvoerder vir ekonomiese geleenthede, toerisme en landbou in die Wes-Kaap, het gesê sy sal Thulas Nxesi, minister van openbare werke, skriftelik versoek om te bepaal watter maatreëls sy departement gaan toepas om seker te maak dat die CDC die begroting van R400 miljoen doeltreffend vir die hawe-opgraderings gaan aanwend.

“Ek is ook besorg dat die nasionale regering ʼn kontrak met die CDC, wat in die Oos-Kaap gebaseer is, aangegaan het om werk in ons provinsie te doen, in plaas daarvan om die geleentheid te gebruik om plaaslike maatskappye te kies en werkskepping vir Wes-Kaapse inwoners te verseker,” het Schäfer gesê. “Dit laat vrae ontstaan of die regering korrupsie aanmoedig deur middel van strategiese staatsbeheerde entiteite.”

Sy het gesê die kontrak is veral kommerwekkend, aangesien dit nie die Wes-Kaapse provinsiale regering die geleentheid bied om doeltreffend toesig te hou oor die projek nie, gegewe die ernstige bewerings teen die CDC. “Dit skep die geleentheid vir verdere korrupsie in die hande van die nasionale regering in ons provinsie, terwyl ons kleinskaalse vissermanne en -vroue nog vir die nodige infrastruktuur wag om vis te vang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Aggenee! ·

Nog en nog en nog korrupsie sonder sondebokke wat tot verantwoording geroep word. Of is die Nuwe Demokratiese Suid- Afrika van die toekoms.

Callie ·

Niks sal verander tot daar niks oor is nie. CR het langs Zuma gesit vir jare en niks aan korrupsie gedoen nie. Hier wil hy nou grond vat sonder vergoeding en dit duidelik gestel hy gaan mediese fondse plunder. Dis hoeklm hy staatsinsta sie die mag laat behou. Dit hou hom weer in mag.

Shame ·

Kannie wees nie, die staat plunder nie, hulle doen hulle BES om na die wrede apartheid van 40 jaar nog die mas op te kom . dit is nie maklik om in 24 jaar alles te HERSTEL wat die apartheidsregering opgefoeter het nie … tjank!

Hanna Hoekom ·

Onthou, korrupsie is n “Westerse konsep” en Afrika kan dus nie korrup wees nie… Hulle skep maar net hopeloos te veel sodra dit pap reen!

wraggies ·

Watter staatsinstansie is nie by korrupsie betrokke nie.

marous ·

Sal enige van die regerings amptenarre of hul entrepreneur maatjies ‘n sent uit hulle sakke betaal voor daar enige lewering of diens plaasvind ? Nee verseker nie . Maar die belastingbetaler se miljarde is ‘n vry pas om te maak net wat hulle wil. In die ooste sou hulle almal in die openbaar tereg gestel word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.