Staatsinstellings en die waarde vir belastinggeld

SAL-SAA

Foto: Commons.wikimedia.org

“Dit is tyd dat Suid-Afrikaners meer aktivisties rondom hulle besteding en die belegging van hulle belastinggeld optree. Mense moet hulleself begin afvra of hulle wel in staatsinstellings sou wou belê as hulle die keuse gegun sou word.”

Dit is die mening van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, ná die bekendmaking van ʼn verslag wat toon dat die vyf grootste Suid-Afrikaanse staatsinstellings maar min waarde vir belastingbetalers se geld bied.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se verslag oor die stand van Suid-Afrikaanse staatsinstellings en die waarde vir belastinggeld is Dinsdag by die Centurion-teater in Centurion beskikbaar gestel. Dit toon onder meer dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) die swakste van al die groot staatsinstellings bestuur word. Volgens die verslag is die waarde wat die SAL vir belastingbetalers se geld bied, skreiend.

Die verslag wys verder ook staatsinstellings word oor die algemeen swak bestuur. Die tweede swakste instelling is Eskom, en die staatsinstelling wat die beste bestuur word, is Telkom.

Argieffoto: GCIS

Die SNI het vyf staatsinstellings ontleed, naamlik Telkom, Eskom, Transnet, PetroSA en die SAL. In die verslag word dié staatsinstellings aan die hand van bedryfskapitaalverhouding en netto skuld voor verdienste (EBITDA) gemeet. Hierdie rekenkundige verhoudings is met die verhoudings van die top-40 maatskappye op die JSE vergelyk.

Na gelang van die rekenkundige verhoudings en algemene bestuur is die vyf maatskappye ook op ʼn skaal geplaas wat die waarde vir belastinggeld weergee. Die skaal wissel tussen baie goed, goed, neutraal, swak en baie swak.

Die prestasie en wanprestasie van die maatskappye lyk soos volg:
PetroSA: swak
Transnet: baie swak
Eskom: baie swak (skreiend)
SAL: baie swak (skreiend)
Telkom: neutraal

Hermann voer aan dat Eskom en die SAL die maatskappye is wat die swakste presteer het. “Beide maatskappye se waarde vir belastinggeld word as skreiend gesien. Eskom word oorskadu deur bewerings van staatskaping en korrupsie wat ook sy voormalige hoof, Brian Molefe, insluit. Die fiasko met Medupi en Kusile wat beide ver oor begroting en jare laat is, dui op ernstige wanbestuur.”

Telkom (Foto: Facebook)

Volgens Hermann het SAL, wat die swakste bestuur word, die laaste vier jaar vier verskillende uitvoerende hoofde gehad. Die totale verlies wat gely is in die gewese voorsitter van die SAL, Dudu Myeni, se termyn was R13,7 miljard. “Talle aantygings van wangedrag het oor haar kop gehang,” het Hermann bygevoeg.

Telkom is die enigste gangbare staatsinstelling. “Die staat se aandeelhouding in Telkom is slegs 39%. ʼn Mens kan nie anders as om die korrelasie tussen die kleiner staatsbesit en beter prestasie te sien nie.

“Staatsinstellings word deur belastingbetalers gefinansier. Die fondse kom nie uit ʼn goue pot van die staat nie, maar uit die sakke van gewone, hardwerkende belastingbetalers.

“Die tendens in Suid-Afrikaanse staatsinstellings is dat persoonlike belang die openbare belang begin troef. In ʼn privaat omgewing sou besture wat so roekeloos optree, ontslaan word en selfs vervolg word. In Suid-Afrika word staatsinstellings as ʼn kader-rondomtalie gesien wat ʼn klein elite verryk. Elke belastingbetaler, ongeag politieke party, ras of klas moet eenvoudig in opstand kom teen patetiese waarde vir belastinggeld. Ons bepleit groter aktivisme van belastingbetalers; apatie is gevaarlik.

Om die volledige verslag te lees, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Neil ·

Ek het net een vraag. Was dit so sleg voor 1994? Vra maar net. Hoekom gaan dit nou so sleg?

Marius ·

Neil dit gaan so sleg eerstens omdat die land ervare mense verloor het en mense sonder ondervinding in poste is en dat ons ‘n korrupte regering het wat hulle self nog nooit self geregeer het van dag een die Guptas was daar van 94 julle sal sien.

m.d.r. ·

Waarde vir belasting geld…? Wat van Munisipaliteite, soos Madibeng byvoorbeeld….
waar 70% van hulle inkomste uit Hartbeespoort kom, maar daar is jaar na jaar geen kapitale uitleg hier nie……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.