Staatskaping: Beswaar oor ondersoekhoof verwerp

Terence Nombembe, die ondersoekhoof in die geregtelike kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping. Foto: Werner Beukes/SAPA via ANA

Die geregtelike kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping het ʼn aantyging deur die EFF verwerp dat die ondersoekhoof van die kommissie, Terence Nombembe, van sy amp onthef moet word omdat hy nie bo verdenking is nie.

Die hoof van die kommissie, adjunkregter Raymond Zondo, het in ʼn geskrewe besluit wat Donderdag bekendgemaak is, gesê die EFF se beswaar teen Nombembe se aanstelling is ongegrond en daarom word die versoek van die hand gewys.

EFF-leier Julius Malema het op 8 Maart by ʼn mediakonferensie gesê die party is van voorneme om daarop aan te dring dat Nombembe voor die kommissie verskyn. Volgens Malema het Nombembe in sy hoedanigheid as uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) R1,2 miljoen van Trillian Capital in 2017 ontvang.

Trillian Capital het bande met die berugte Gupta-familie wat na verwagting ʼn kerndeel sal vorm van die staatskapingondersoek, ook ten opsigte van hul verhouding met oudpres. Jacob Zuma.

“Toe Saica die skenking van Trillian Capital ontvang het, was dit wyd bekend dat Trillian Capital deur die Gupta-misdaadsindikaat as korrupsievoertuig gebruik is,” het Malema destyds gesê. Hy het Nombembe daarvan beskuldig dat hy “ʼn skelm” is.

Dit het later aan die lig gekom dat die geld deur Trillian geskenk is vir Saica se Thuthuka-beursfonds, maar dat die geld vyf maande later aan Trillian terugbetaal is.

Die kommissie van ondersoek rakende die staatskaping is in Januarie vanjaar deur Zuma, toe nog president, op die been gebring. Die ondersoek se verwysingsraamwerk is op 25 Januarie bekendgemaak.

Op 7 Maart het Zondo sy span aangestel, onder wie Nombembe wat die hoof van ondersoeke is. Hy is ook die voormalige ouditeur-generaal van Suid-Afrika.

Volgens Zondo het hy die EFF se amptelike klagte oor Nombembe se aanstelling op 9 Maart ontvang. Hy het die EFF, Saica en Nombembe die geleentheid gegee om inligting en vertoë aan hom voor te hou. Hierdie inligting is ook aan die onderskeie partye verskaf om hulle die geleentheid te bied om daarop te reageer.

Gegrond op die feitelike inligting wat aan hom verskaf is, kon Zondo “geen grond vind om Nombembe te kritiseer nie”.

Hy het gesê Nombembe se bewyse het egter getoon dat hy betrokke was by die proses om die geld aan Trillian terug te betaal nadat hy bewus geword het van Trillian se twyfelagtige beeld en bewerings dat die maatskappy by onregmatige saketransaksies betrokke was.

“Hy moet geloof word dat hy deel was van die besluit [om die geld terug te betaal]. Ek kan nie verstaan hoekom lede van die EFF hul beswaar op hierdie bewering gegrond het, as hulle geweet het: Nie net is die skenking verwerp en terugbetaal nie, maar mnr. Nombembe was deel van die besluit om die skenking te verwerp. Daar is geen behoorlike grond vir die beswaar nie.”

Hy het gesê die EFF beweer die beswaar spruit uit die “talle skandalige verhoudings van Saica-lede” wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn rol speel in die “Gupta-maatskappye en transaksies wat met die Guptas verband hou”. Daar word verwys na die ouditmaatskappye KPMG en Sizwe Ntaluba Gobodo Accountants, wat na verwagting gedagvaar sal word om voor die kommissie van ondersoek te verskyn.

Volgens Zondo het die EFF egter geen bewyse gelewer dat Nombembe of Saica bewus was van enige onbehoorlike gedrag deur enige lede en dat hulle versuim het om op te tree nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Grassie ·

Al doen ek dit baie teësinnig moet ek erken dat Malema se bewerings oor diefstal en korrupsie deur regeringsamptenare tot dusver nog altyd reg was. Hy het ‘n baie goeie bron van inligting – miskien iemand by nasionale intelligensie. Kyk nou hierdie saak – die geld is eers vyf maande na dit ontvang is terugbetaal nadat Malema ‘n bohaai daaroor gemaak en die man as ‘n skelm uitgeskel het.

Genieve ·

EFF is deesdae by alle ondersoek betrokke laat n mens wonder.

Cherokee ·

Dag of twee gelede het iemand dieselfde bewerings gemaak oor Afriforum. Laat mens wonder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.