Staatskaping: ‘By Eskom moes jy net die opdragte uitvoer’

Snehal Nagar getuig voor die Zondo-kommissie van ondersoek. Foto: Nokuthula Mbatha/African News Agency

Die kommissie van ondersoek na staatskaping sal Vrydag hervat om getuienis aan te hoor van Eskom se Gert Opperman as deel van die kommissie se insamel van bewyse van grootskaalse korrupsie by die kragvoorsiener.

Dinsdag het Snehal Nagar, finansiële hoof van Eskom se primêre energie-afdeling, getuig hoe voormalige hoof van finansies, Anoj Singh, hom versoek het om dringend ʼn betaling van R659 miljoen aan die Gupta-familie se Tegeta Resources te maak sonder dat die behoorlike Eskom-prosesse gevolg is.

Nagar het erken dié voorafbetaling aan Tegeta was onreëlmatig, maar het beklemtoon hy het net ʼn opdrag van sy bestuurshoofde uitgevoer. Matshela Koko, voormalige hoof van opwekking by Eskom, het die R659 miljoen betaling aan Tegeta onderteken met Singh as die getuie.

Die Guptas se Brakfontein-steenkoolmyn, wat reeds ʼn kontrak met Eskom gehad het, is gebruik as “dekmantel” om die betaling te prosesseer. Hoewel die transaksie onwettig was, sê Nagar hy en sy span moes gedoen het wat daar vir hulle opdrag gegee is om te doen, anders sou hulle as ongehoorsaam bestempel word.

“By Eskom was dit ongehoord om nie opdragte uit te voer nie. Die voorafbetaling aan Tegeta was beslis skokkend en interessant, maar ek dink destyds was dit ʼn geval van ‘kom ons voer net die opdrag uit, ons kan ons later bekommer oor die storie’,” het hy gesê.

Hy het verder getuig oor Eskom se boete aan Optimum vir swakgehalte steenkool in 2015. Optimum is destyds deur Glencore besit. Nagar het getuig hy is gevra om die boetebedrag te bereken met behulp van kontrakbestuurders en ander bestuurders, en hulle het op ʼn bedrag van R2,1 miljard besluit.

Adjunkhoofregter Raymond “Ray” Zondo (Foto: Karen Sandison/African News Agency/ANA)

Eskom het daarna R158 miljoen by Optimum se betaling afgetrek en later het die twee partye op ʼn finale skikkingsbedrag van R254 miljoen ooreengekom. Nagar sê hy het geweier om die laer skikkingsbedrag te onderteken, omdat hy geglo het Eskom het baie minder van Optimum gekry as waarop hy geregtig was.

Die ondersoek deur Fundudzi forensiese dienste wat deur die nasionale tesourie van stapel gestuur is, het bevind ʼn betaling van R659 miljoen wat aan Tegeta betaal is, is gedoen sodat die Guptas by die R2,1 miljard kon uitkom wat nodig was om Optimum Coal by Glencore oor te koop. Die Guptas se Oakbay Investments het R600 miljoen gekort om die koop te finaliseer en het onsuksesvol probeer om die geld by banke en ander leners te kry, maar Eskom het tot die maatskappy se redding gekom.

Koko, Singh, voormalige Eskom-hoof Brian Molefe, die Gupta-familie, oudpres. Jacob Zuma, sy seun Duduzane, en van Zuma se kabinetsministers staan almal in die middel van die staatskapingsondersoek.

Die voormalige Eskom-hoofde het na bewering die Guptas gehelp om die kragvoorsiener tot in die finansiële afgrond in te plunder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Siener ·

R659m sal ‘n rooi vlaggie by my laat opgaan het. Wat het geword van “Onbillike Opdragte”? Hy kan die korrupsie noodlyn gebel het om die rooi vlaggie van onbillike opdrag aan te meld. Hy is net so skuldig soos die top bestuur wat vir hom die opdrag gegee het. Fire hulle almal en roei korrupsie uit

Dries du Toit ·

Wie gaan nou die gelag betaal. Verseker nie die ANC of hulle oningeligte ondersteuners in die plakkerskampe nie maar die blankes en al die ander partye se ondersteuners

Belastingbetaler ·

Why worry? Die drooggemelkte koei wat amptelik “belastingbetaler” genoem word, sal mos maar weer opdok. Ek weet nie meer waarmee ons gaan kos koop wanneer die laaste prysverhogings vir 2019 deurgesit is nie! En hul vang nie een van hierdie …… skelms nie!!

Afrikaner ·

En het niemand van hulle ooit by die minister gaan kla nie, mmmm? Me Lynne Brown, waar was jy?

BlinkStephaans ·

Julle weet ek hoop daar is iewers ñ ou of twee in daardie kommisie se kantore wat leêrs oopmaak vir elke naam wat genoem word. Al meer ouens kom navore en die getuienis is openbaar. Hierdie gaan seker nog lank vat… maar ek hoop regtig ons sien die dag wanneer hofdatums uitgedeel word…maar dit opsigself gaan ñ totaal nuwe sirkus wees. Ek bly maar glo dat daar genoeg mense met genoeg integriteit in die stelsel is dat hierdie hele geldgierige fiasko nie net ñ stille dood sal sterf.

Gemaskerde Sopbeen ·

Finansiële Hoof en Hoof van Finansies….Nou wat is dit dan nou? Hoeveel “hoofde” is daar? En wie gee die opdragte? Ek wil nie meer langer help betaal aan hierdie gemors nie…….en ek dink daar’s miljoene Suid Afrikaners wat saam met my stem…Die grootste ondergang van hierdie land is al die Staatsbeheerde Instansies!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.