Staatskaping: Dié mense gaan dit ondersoek

Die lede van die kommissie. Foto: Gertrude Makhafola/ANA

Die lede van die kommissie van ondersoek na staatskaping is bekend gemaak en dit is ʼn gedugte span.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het die lede se name Woensdag in Midrand, Gauteng, bekend gemaak.

Terence Nombembe, voormalige ouditeur-generaal, is as die hoof van die ondersoekspan aangekondig. Nombembe is tans die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica).

Adv. Paul Pretorius SC sal aan die hoof van die regspan staan. Hy is onder meer ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Regskommissie se werksgroep vir arbitrasie en mediasie. Die lede van sy regspan sluit onder andere in adv. Leah Gcabashe, adv. Vincent Maleka en adv. Thandi Norman.

Dr. Khotso de Wee, uitvoerende hoof van Fort Hare Solutions aan die Fort Hare Universiteit, is as die sekretaris van die kommissie aangestel.

“Die verlangde uitkoms van hierdie kommissie, nadat ons die verslag aan die president oorhandig het en dit openbaar gemaak word, is vir die publiek om die omvang van staatskaping te verstaan en wie betrokke was,” het Zondo aan verslaggewers gesê.

“Die uitkoms is om seker te maak dat Suid-Afrika hom nie weer in so ʼn situasie bevind nie en die skuldiges aan die land se strafregstelsel onderwerp word.”

zuma-en-staatskaping-2

Foto van oudpres. Jacob Zuma: Siyasanga Mbambani, departement van kommunikasie

Oudpres. Jacob Zuma het Zondo op 9 Januarie, op aanbeveling van hoofregter Mogoeng Mogoeng, as voorsitter van die kommissie aangewys.

Zuma het op 13 Desember ʼn tweede bloedneus in die hooggeregshof in Pretoria gekry toe ʼn volbank regters eenparig Zuma se aansoek dat Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, se staatskapingverslag hersien moet word, met koste verwerp het. Die hof het toe ook beslis Zuma moet binne 30 dae ʼn geregtelike kommissie van ondersoek aanstel om kwessies wat in die staatskapingverslag genoem word te ondersoek.

Dit volg nadat die hof vroeër beslis het Zuma moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir die koste van die hofaansoek wat hy in 2016 ingedien het om ʼn interdik te verkry wat Madonsela sou verhoed om haar staatskapingverslag vry te stel. Dié uitspraak is eenparig deur ʼn volbank regters beslis.

Die regulasies vir die ondersoek is vroeër verlede maand in die Staatskoerant geplaas.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida ·

Hulle weet by hierdie tyd al wie die skuldiges is. Kla die mense aan of arresteer hulle voor hulle landuit vlug. Die gesloer gee hulle net meer tyd om planne te maak en leuens uit te dink. Hoe lank wil hulle nog sloer. Afrika tyd op sy heel beste. Die Guptas is in elk geval klaar weg omdat daar gesloer en uitgestel is. Liewe genade kom net aan die werk.

Pieter ·

En die skuldiges se pensioen en bates moet ook gekaap word en terug gaan na die ‘staatskoffer’. En dan kan al die skuldiges in die tronk gaan vrot.

Genieve ·

Wanneer word die daad by die woord gevoeg??.. die gesloer is te lank aan die gang en julle weet nou al by die tyd dat zuma skuldig is.

Alida ·

Ons blaas teen donderweer. Hierdie mense het BAIE TYD soos dit nog altyd gaan. Geen haas nie. Gee seker hulle maatjies kans om te vlug op voorwaarde dat julle ‘n happie van die koek kry. Ons wil resultate sien nie fotos nie.

Eish ·

Ek wonder of die verslag die politieke domein sal betree sodra voltooi? Ongeredigeerd, ongesensor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.