Staatskaping: ‘Dít is hoekom ons die Guptas se rekeninge gesluit het.’

Regter Raymond Zondo, hoof van die kommissie van ondersoek na staatskaping. (20 Augustus 2018). Foto: Karen Sandison/ANA

Die Zondo-kommissie se verhore na staatskaping het Maandag gehoor dat aantygings van omkopery en negatiewe gedrag deur die omstrede Guptas Standard Bank daartoe gedryf het om ʼn interne ondersoek van stapel te stuur en gevolglik bankrekeninge wat met die Guptas verbind kon word te sluit aangesien hulle ʼn risiko ingehou het.

Ian Sinton, Standard Bank se regsverteenwoordiger, het Maandag voor die kommissie getuig.

Volgens Sinton het die bank die interne ondersoek na Oakbay Investment van stapel gestuur te midde van die aantygings van beweerde omkopery deur die Guptas en hul beweerde onbehoorlike gedrag wat deur Mcebisi Jonas, voormalige minister van finansies, Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, en Themba Maseko, voormalige woordvoerder van die regering, aangemeld is.

Sinton het gesê die mislukte Estina-suiwelprojek in die Vrystaat en die feit dat Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale, die Guptas na Switserland vergesel het om die aankoop van die Optimum-steenkoolmyn by Glencore in 2016 te onderhandel, het rooivlaggies laat opgaan en aangedui dat iets fout is in terme van die Guptas se handelinge.

“Ons as ʼn bank het ʼn risiko geloop met ons volgehoue handelinge met die Gupta-entiteite, aangesien ons moontlik by dade van geldwassery ingetrek kon word. Die besluit om die bankverhouding met hulle te beëindig is op grond van dié faktore geneem.”

Die spyker in die doodskis was volgens Sinton ʼn geskrewe versoek deur die Guptas se Oakbay Investment-maatskappy om R1,4 miljard in ʼn trust van die bank oor te plaas vir die “rehabilitasie van Optimum”.

Sinton het verduidelik dat die bankindustrie gereguleer word deur onder meer die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum wat streng nagevolg moet word. Volgens hom was daar nie enige gesprekke met ander banke voor die rekeninge beëindig is nie.

Absa het eers die Guptas se rekeninge in Desember 2015 gesluit en die res het daarna volgens Sinton gevolg, aangesien hulle risiko gely het.

“Die versuim om ʼn verdagte transaksie aan te meld is op sigself ʼn oortreding. Om die aanmeld van so ʼn verdagte transaksie bekend te maak is ook ʼn oortreding ingevolge Fica,” het Sinton gesê.

Hy het verduidelik dat kliënte se rekeninge gemonitor word, en enige dwingende verdagte aktiwiteite wat tot onbehoorlike gedrag kan lei word met die hulp van buitekenners ondersoek. As die gedrag deur die ondersoek ondersteun word, word die rekening gesluit.

“Die kliënte kry in sommige gevalle die kans om hul kant van die saak te stel, maar as die kliënt reeds skuldig bevind is aan ʼn misdaad, word die rekening net gesluit.”

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het vrae gevra oor die onregverdigheid daarvan om ʼn besluit te neem teen ʼn kliënt sonder om vir hulle die geleentheid te gee om te verduidelik.

Sinton se voorlegging by die ondersoek maak deel uit van ʼn beëdigde verklaring wat Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, se aansoek by die hooggeregshof verlede jaar waarin hy ʼn verklarende bevel wat die onafhanklikheid van die land se banke versoek het, ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.