Staatskaping: Duduzane Zuma sê oor omkoopgeld-bewerings

Duduzane Zuma. Foto: Nokothula Mbatha/ANA

Voormalige pres. Jacob Zuma se seun, Duduzane Zuma, het ontken dat hy enigsins kennis dra van ʼn werksaanbod en R600 miljoen omkoopgeld wat glo drie jaar gelede by die Saxonwold-herehuis vir Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, aangebied is.

Die jonger Zuma het erken dat hy wel op die betrokke dag by ʼn Rosebank-hotel met Jonas vergader het en toe na Saxonwold is, maar ontken dat Ajay Gupta betrokke was by dié vergadering wat ook deur sakeman Fana Hlongwane bygewoon is.

Zuma het ʼn beëdigde verklaring by die kommissie van ondersoek na staatskaping ingedien as deel van sy aansoek om getuies te kruisondervra. Sy eerste interaksie met Jonas het begin toe hy hom na ʼn Gupta-familiegeleentheid, die Suid-Afrikaner van die Jaar, wou nooi wat Jonas nooit bygewoon het nie.

Hlongwane, wat Duduzane sê hy as sy “oom” ag, het na bewering vir Jonas afgepers en dit is glo hoe die vergadering by Saxonwold gebeur het.

“Toe hierdie afpersingbewering aan die lig gekom het, het mnr. Hlongwane, ná ʼn gesprek met my, besluit om ʼn vergadering met mnr. Jonas te belê in ʼn poging om dit op te klaar, aangesien mnr. Jonas by my wou weet waar die bewerings vandaan kom. Die vergadering is uiteindelik geskeduleer vir 23 Oktober 2015 by die Hyatt Hotel in Rosebank om omstreeks 13:00/13:30.”

Zuma sê terwyl hy by die hotel was, het Hlongwane gebel en versoek dat die vergadering na ʼn private plek geskuif word – die Guptas se herehuis in Saxonwold.

“Gevolglik het mnr. Jonas versoek om saam met my in my voertuig te ry en hy het sy lyfwagte by die hotel agtergelaat. Ek wil hier noem dat in geen stadium vandat die voorstel gemaak is dat die vergadering by die Guptas se huis gehou word, het mnr. Jonas beswaar aangeteken of enige kommer of ongemak oor die vergadering uitgespreek nie.”

Zuma sê toe hulle by die Guptas se huis opdaag, het Hlongwane ook aangekom. Die vergadering het in die woonkamer plaasgevind, waar Zuma slegs waargeneem het terwyl Jonas en Hlongwane met mekaar gepraat het.

Ajay het toe by die woonkamer ingeloer en Zuma uitgeroep om hom te vra of hy beskikbaar sou wees vir ʼn vergadering die volgende dag. “Hy [Ajay] het nie heeltemal in die woonkamer ingekom of enigsins met iemand by die vergadering gepraat nie. Hy het my bloot geroep en ek het opgestaan en na hom gestap. Ons het die moontlikheid en tyd vir ʼn vergadering die volgende dag bevestig, en daarna het hy die vertrek verlaat. Ná die vergadering is ek versoek om agter te bly om verdere vergaderings by te woon en ʼn drywer het mnr. Jonas geneem waar hy wou wees. Mnr. Hlongwane het saam met my agtergebly.”

Hy het bygevoeg vanuit sy oogpunt het dit gelyk asof Jonas en Hlongwane die probleme tussen hulle uitgestryk het.

“Na my mening het mnr. Jonas en mnr. Hlongwane gepraat oor die bewerings van die afpersing en het hulle uiteindelik op ʼn punt gekom waar, hoewel die saak nie heeltemal opgelos is nie, die stof tussen hulle gaan lê het. Hulle het ooreengekom indien daar verdere probleme aan die lig kom, sal hulle opvolgvergaderings belê om dit te bespreek,” het Zuma gesê.

Hy beweer daar was geen gesprekke tydens die vergadering oor ʼn dreigende kabinetskommeling waartydens Nhlanhla Nene afgedank sou word nie, asook nie sprake van ʼn werksaanbod of omkoopgeld wat vir Jonas aangebied is nie. Hy het weereens bygevoeg dat Ajay Gupta nooit deel van die vergadering by die huis was nie.

Ajay het in sy eie verklaring ook ontken dat hy ooit ʼn vergadering met Jonas gehad het.

Verlede maand het Jonas aan die kommissie gesê dat Ajay deel was van die gesprek met hom en dat hy vir hom gesê het Nene gaan as minister van finansies afgedank word. Jonas beweer Ajay het vir hom gesê Jonas kan dié pos en R600 miljoen bekom indien hy die familie se opdragte uitvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pvt ·

Kom ons neem aan die berig is waar. Hoe moeilik is dit om die berig te glo met wie almal betrokke is. Woord is nie meer Eer nie.
Kom ons gaan terug na basics toe.
Hou op LIEG…

Neels ·

Wat is n beeedigde verklaring vandag werd, nie eers die stuk papier waarop dit geskryf is beteken iets nie. Die opdrag van sy meesters is sorg jy net dat mnr Jonas gediskrediteur word en ons sal verder sorg.

Geweeg en te lig bevind ·

Dis nie lieg nie, dis die vermoeë om ander te uitoorlê, geleer nog voor hulle kan loop. Integriteit is ‘n swakheid in hul oë. Toe ons as kinders pak gekry het as ons lieg, het hulle pak gekry as hulle uitgevang is om te lieg.

PLP ·

Glo jou niks. As jou pa so kan lieg dan het jy mos by n meester geleer

Willie ·

Ek dink een van die ANC se doelwitte is: Wie kan die meeste lieg en bedrieg!

Eish ·

Die gemene deler tussen hom en Cyril en die ANC is natuurlik, leuens.

mooi voorgesê ·

Sjoe 3 jaar na die “vergadering sonder notules” onthou die knaap die fynste details bv: die tyd en datums en wie waar gestaan het tydens die vergadering.
Kan dit wees dat die “gebeure” dalk vir hom voorgesê in ingedril is???
Gegewe die feit dat daar besonder gereeld vergaderings gehou moes word….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.