Staatskaping: ‘Goeie vordering’, maar dit gaan jare vat

Hoofregter Raymond Zondo en pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die presidensie meen goeie vordering is reeds gemaak met die inwerkingstelling van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se aanbevelings – al het dit nog net twee skuldigbevindings opgelewer.

Pres. Cyril Ramaphosa het nou al 202 van die kommissie se aanbevelings vir strafregtelike en ander ondersoeke na wetstoepassingsagentskappe en ander regulatoriese instellings verwys, maar net 38 daarvan het tot ʼn totaal van nege hofsake gelei, met net die twee skuldigbevindings.

ʼn Verslag van die presidensie oor hoe Ramaphosa se planne vorder om die Zondo-kommissie se aanbevelings in werking te stel, is vroeër bekend gemaak. Dit wys dat die oorblywende 80% van die kommissie se aanbevelings nog ondersoek word.

“Terwyl openbare frustrasie voortduur rakende die stadige tempo van vervolging, sien ons resultate danksy die beleggings wat gemaak is om wetstoepassingsagentskappe te versterk,” lui die verslag. “Baie van die aksies vervat in die president se reaksie is groot wetgewende en instellingshervormings wat baie jare sal neem om te bereik.”

Die verslag “The Tide is Turning”, wat meer as 50 bladsye beslaan, sit die plan uiteen wat Ramaphosa in Oktober verlede jaar in die parlement ter tafel gelê het. Luidens die verslag behels die plan ʼn ingewikkelde en komplekse poging deur ʼn verskeidenheid departemente en agentskappe, om die misbruike wat die staatskapingskommissie aan die lig gebring het, op verskeie vlakke te takel.

(Grafika: DA)

Nie minder nie as 31 staatsdepartemente, wetstoepassingsagentskappe, statutêre liggame, reguleerders en professionele liggame is betrokke by die implementering van die reaksie.

“Nie net is die begroting van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aansienlik verhoog met 21,6% tussen 2021‑2023 nie, maar is ’n belangrike mylpaal bereik in die versterking van die kapasiteit van die NVG om staatskaping en korrupsie te hanteer. Dit is onder meer gedoen met die ter tafellegging van die NVG-wysigingswetsontwerp in die parlement.” Volgens die verslag het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ook opgetree teen mense wat in die kommissie se verslag genoem word en R4,8 miljard se onbetaalde belasting in die 2022-‘23-boekjaar ingevorder as gevolg van bewyse wat by die kommissie gelewer is.

Volgens die verslag het die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ook reeds vordering gemaak om staatsverliese deur siviele litigasie te begin verhaal. Die waarde van siviele litigasie wat reeds ingestel is beloop R64 miljard.

Die departement van openbare ondernemings het ook al klagtes teen 73 voormalige direkteurs van staatsbeheerde instellings ingestel. Klagtes oor 13 voormalige direkteurs van Eskom word ook verwerk.

Verkrygingstelsel getakel

Pres. Cyril Ramaphosa by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die Zondo-kommissie het ook aanbeveel dat verskeie nuwe liggame gestig word om korrupsie te pak, insluitend ’n permanente kommissie teen staatskaping en korrupsie, en ’n onafhanklike teenkorrupsie-agentskap om openbare verkryging te monitor.

“Albei aanbevelings word deur die nasionale teenkorrupsie-adviesraad, wat in 2022 deur die president aangestel is, ondersoek. Die adviesraad werk saam met ’n reeks kundiges aan ’n fundamentele hersiening en herontwerp van Suid-Afrika se teenkorrupsie-argitektuur.” ’n Verslag met aanbevelings aan die president sal teen Maart aanstaande jaar gefinaliseer word.

Meer as 30% van die staatskapingskommissie se verslag handel oor openbare verkryging, en het bevind dat die primêre manier waarop geld uit die staat onttrek is deur die misbruik van verkrygingsprosesse was. Die Wetsontwerp oor Openbare Verkryging is om dié rede op 30 Junie aan die parlement bekendgestel. Die wetsontwerp is egter vanuit uiteenlopende oorde gekritiseer.

Volgens die verslag het die wetsontwerp egter ten doel om te reageer op ’n aantal van die kommissie se aanbevelings wat verband hou met verkrygingshervorming. “Dit sluit in harmonisering van wette wat verband hou met verkryging oor die drie sfere van die regering; toenemende deursigtigheid in verkrygingsprosesse om korrupsie te bekamp; bindende gedragskodes vir persone betrokke by verkryging; beskerming vir rekenpligtige beamptes; en verbeterde prosesse vir die uitsluiting van verskaffers wat verkrygingswette oortree.”

Ramaphosa het verlede maand gesê korrupsie is die ANC se grootste mislukking en dat die regerende party gefaal het om ná apartheid ʼn “nuwe era van integriteit, eerlikheid en etiese optrede in te lui”. Hy het gesê die kommissie na staatskaping het R1 miljard gekos, “maar dit het al meer as hierdie bedrag teruggekry deur die stappe wat teen skuldiges gedoen is”.

“Daar is nog ʼn lang pad wat voorlê, maar een ding is vir seker: Die stryd teen korrupsie is besig om momentum te kry,” het Ramaphosa gesê.

Zondo-kommissie: Vyf jaar later

Hoofregter Raymond Zondo (Foto: Karen Sandison/ANA)

Hoofregter Raymond Zondo het vroeër vanjaar onder kritiek van die regerende party deurgeloop nadat hy gesê het hy glo die staat sal weer gekaap kan word omdat nog niks verander het nie.

Die kommissie van ondersoek na staatskaping is in 2018 gestig na aanleiding van aanbevelings van die Openbare Beskermer en die kommissie se finale verslag is in Junie verlede jaar aan Ramaphosa oorhandig.

Die kommissie, gelei deur Zondo, het meer as 300 getuies se getuienisse in 429 dae van openbare verhore aangehoor en 1,7 miljoen bladsye en meer as ʼn miljoen gigagrepe se dokumentêre bewyse en inligting oorweeg.

Die kommissie het duidelike bewyse van staatskaping en magsmisbruik gevind wat 1 438 individue en entiteite impliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.