Staatskaping: Guptas moet verklarings aflê

Raymond Zondo. Foto: ANA.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, het Maandag gesê die voortvlugtige Gupta-broers, Ajay, Rajesh en Atul Gupta, sal beëdigde verklarings moet inhandig rakende hul weiering om na Suid-Afrika te reis om voor die kommissie te getuig.

Die Guptas en Duduzane Zuma, voormalige pres. Jacob Zuma se seun, het aansoek gedoen om toegelaat te word om voormalige ANC-LP Vytjie Mentor, Themba Maseko, voormalige woordvoerder van die regering, en Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, te kruisondervra.

Dié drie het getuienis gelewer wat die Guptas, Jacob Zuma en Duduzane met die staatskapingbewerings verbind.

Die Guptas het via Mike Hellens, hul regsverteenwoordiger, vir Zondo laat hoor dat hulle verkies om via ʼn videoskakel vanuit Dubai te getuig en dat hulle nie na Suid-Afrika gaan reis “en sodoende hulself aan onbekwame polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) onderwerp nie”.

Vincent Maleka, bewysstukleier van die kommissie se regspan, het verlede week gesê die kommissie moenie toelaat dat die Guptas via videoskakel getuig nie en dat die omstrede broers wil hê die kommissie moet volgens hul voorwaardes te werk gaan.

Volgens Maleka is dié familie se getuienis “nie die papier werd waarop dit geskryf is nie” en gaan dit net daaroor om hul “beeld van onskuld” te bevorder.

Zondo sal vandeesweek uitspraak lewer oor die Guptas se aansoek om die getuies te kruisondervra.

Die waarnemende uitvoerende hoof van die regering se kommunikasiediens (GCIS), Phumla Williams, het verlede week vir Faith Muthambi, voormalige minister van kommunikasie, met staatskaping verbind.

Williams het getuig dat Muthambi glo ʼn skrikbewind van “vrees en diefstal” by die departement gevoer het.

Muthambi het sedertdien nog nie toestemming gevra om Williams te kruisondervra nie. Oudpres. Zuma het glo gesê die getuienis wat tot dusver aan die kommissie voorgehou is, betrek hom nie by enige onregmatighede nie en hy sal daarom nie aansoek doen om die getuies te kruisondervra nie.

Maleka het Maandag laat hoor dat een persoon wat geweier het om te getuig sy of haar besluit heroorweeg het en nou ingestem het om te getuig. Hy het nie bekend gemaak wie daardie persoon is nie.

Die kommissie hoor Maandag getuienis aan van Jan Gilliland, beampte van die Nasionale Tesourie, wat miljoene rande wat vanuit regeringskoffers aan die Guptas se koerant, The New Age, en televisiekanaal ANN7 betaal is, nagespoor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tinkie ·

Nog steeds wil hulle vir SA voorskryf soos in Zuma se tyd. Nou is die kans om hulle te verplig om na SA te kom sodat hulle besef hulle regeer nie meer nie. Nou is dIe SAPD en die NVG onbevoeg??

Ander Annie ·

Laat hulle Suid Afrika toe kom. Hoekom moet hulle anders behsndel word. Ek stem uitleweringsbevel.

alida ·

Gee hulle ‘n keuse of hulle kom getuig in persoon of hulle word daar in hegtenis geneem. Hulle het ons lank genoeg regeer en ons land leeg gestroop.

alida ·

Dagvaar hulle deur middel van die Ambasade. Hulle MOET kom getuig of tronk toe gaan. Wie de hel dink hulle is hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.