Staatskaping-hofaansoek: Hof hoor Zuma ‘help homself’

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag gehoor pres. Jacob Zuma “help homself” deur nie spoedig ʼn geregtelike kommissie van ondersoek op die been te bring om bewerings van staatskaping te ondersoek nie.

Die hof het Zuma se teenaansoek aangehoor teen die DA se hofaansoek om hom te dwing om ʼn geregtelike kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping op die been te bring.

Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer (OB), het in Oktober verlede jaar aanbeveel dat Zuma ʼn kommissie van ondersoek aanstel wat onder die voorsitterskap van ʼn regter sal staan. Die DA het die hof genader om te beslis dat Zuma versuim het om aan Madonsela se aanbevelings gehoor te gee.

Zuma het intussen Madonsela se staatskapingverslag, wat veral lig werp op Eskom se transaksies met die omstrede Gupta-familie, hersien omdat hy nie met haar aanbeveling om die kommissie van ondersoek aan te stel saamstem nie. Madonsela het aanbeveel dat ʼn regter deur hoofregter Mogoeng Mogoeng aangestel moet word om die kommissie te lei wat verder ondersoek moet instel na die kanalisering van staatshulpbronne na sakemanne met noue politieke bande.

Madonsela het Zuma 30 dae gegee om die kommissie van ondersoek aan te stel en die DA het hof toe gegaan om hom te dwing om hierdie aanbeveling te implementeer. Die president voer egter aan dat die Grondwet hom slegs die mag gee om die hoof van ʼn geregtelike kommissie van ondersoek aan te stel.

Adv. Anton Katz SC vir die DA het Dinsdag gesê Zuma se hofaansoek is nie ʼn goed genoeg rede waarom die president nog nie die kommissie van ondersoek aangestel het nie. “Ons stel dit dat wat die president in hierdie geval doen, deur te sê ek het ʼn hersiening gebring en daarom hoef ek nie aan die aanbevelings te voldoen totdat die hersiening gefinaliseer is nie, kom neer op selfhelp. Hy help homself deur te sê hy hersien die regstellende stappe terwyl die howe voorheen gesê het dit is nie hoe dit werk nie,” het Katz gesê.

“Totdat daar ʼn hofbevel is wat die OB se verslag opskort, ter syde stel of op enige manier daaroor beslis, is die president se verontagsaming van die OB se regstellende stappe ʼn oortreding van die wet. Wat hy doen kom neer op selfhelp.”

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is

Intussen het Busi Mkhwebane, die huidige OB, Dinsdag die DA se hofaansoek gesteun om te versoek dat Zuma verplig word om ʼn kommissie van ondersoek na staatskaping aan te stel.

Adv. Hamilton Maenentje SC, wat die OB verteenwoordig, het aangevoer dit is in openbare belang dat bewerings van staatskaping behoorlik ondersoek word om die waarheid aan die lig te bring.

“Dit is belangrik dat die effektiwiteit van die kantoor van die OB in gedagte gehou word. As hersieningsaansoeke beteken dat alle verslae deur die OB op die rak moet bly totdat die hersieningsaansoeke gefinaliseer is, selfs deur die hoogste hof in die land, dan word die kantoor oneffektief en diegene wat veronderstel is om deur die kantoor beskerm te word, word sonder klarigheid gelaat,” het Maenentje aan regter Motsamai Makume gesê.

Maenentje het gesê die spesiale aanbeveling wat Madonsela gemaak het, dat die kommissie van ondersoek onder voorsitterskap van ʼn regter moet funksioneer – wat deur die hoofregter, en nie Zuma nie, aangestel is – vermy ʼn moontlike konflik van belange. “Hierdie is nie ʼn geval waar die president ʼn kommissie van ondersoek wil aanstel om ʼn treinongeluk te ondersoek waarby die president nie betrokke is nie. Hier word die president self betrek,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swart Piet ·

Wat het gebeur toe die kommisie die wapen skandaal ondersoek het???? Dieselfde gaan weer gebeur.

Zuma moet nou vir eens en altyd gestuit word in sy wanoptredes ·

Dis die land se slegste onopgevoede leier tot dusver en kan nie sien hoekom hy nie onmiddellik uit sy posisie onthef kan word nie. Stem saam met Thuli Madonsela en Khozi

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.